Invalshoek - Leierskap verg insig
Invalshoek - Leierskap verg insig

Invalshoek - Leierskap verg insig

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer – Dit was ‘n kommerwekkende dag toe die minister van verdediging uitgevaar het teen die private sektor, met direkte verwysings na ras, en op militêre optrede gesinspeel het.

Om die waarheid te sê, was dit ‘n dreigement wat gelaai was met emosie en ‘n uitspraak wat ons land net verder kan polariseer.

Belangrike universele beginsels het by my opgekom nadat ek met ontsteltenis skoutadmiraal (afgetree) Peter Vilho se toespraak na afloop van onlangse militêre oefeninge by Karibib gelees het.

Individue wat in leierskapsposte aangestel word, verteenwoordig alle mense van die land ongeag ras, kleur, seksualiteit, etniese oorsprong, godsdiens, geloof, sosiale of ekonomiese status. Hierdie beginsel word in Artikel 10 van die Namibiese Grondwet vervat.

Die president, ministers en alle ander leiers staan dus in diens van die land en al sy mense. Dit beteken geen leier kan in amptelike hoedanigheid op ‘n podium staan en hom of haar by ‘n bepaalde groep mense skaar ten koste van inklusiwiteit nie.

Inteendeel, militêre en polisiemagte kan onder geen omstandighede die indruk skep dat dit net sekere mense sal beskerm nie. Hierdie vredesmagte is veronderstel om almal binne die landsgrense te beskerm.

Die toespraak het dit laat klink asof die militêre magte in diens van die regerende party is en daar is met minagting verwys na individue wat nuwe partye in die lewe wil roep.

Artikel 21 van die Grondwet verwys na vryheid van assosiasie en spesifiek die stigting van politieke partye. Dit is inderdaad ‘n teken van ‘n gesonde demokrasie indien daar baie partye bestaan. Dit beteken mense huldig verskillende menings en dat diversiteit seëvier.

Veelpartydemokrasie moedig kritiese denke aan en bevorder die neem van die beste besluite tot voordeel van alle landsburgers. Ons moet van mekaar kan verskil en mekaar verantwoordelik hou vir ons gedrag en besluite om ‘n gesonde, lewenskragtige demokrasie te verseker.

Die verwysing na sekere segmente van die samelewing wat private sakeondernemings oorheers en glo onpatrioties en selfsugtig is, is getuienis van ‘n tekort aan insig oor hoe enige ekonomiese stelsel werk.

Dit laat dink my aan ‘n onderhoud verlede jaar waarvan die tema die beskerming van boere was. ‘n Gewone landsburger het geantwoord dat hy nie bekommerd oor die veiligheid van boere is nie, want vleis kom van die supermark af. Ek het byna van my stoel af geval . . .

Dit het tyd geword dat die honderd duisend staatsamptenare besef dat hulle salarisse deur die vordering van belasting befonds word. Indien die privaatsektor tot niet gaan omdat sakeondernemings hul deure moet sluit, soos tans aan die orde van die dag is, sal daar aansienlik minder belasting ingevorder kan word om die staatskas te befonds.

Werkloosheid en armoede neem tans toe en mettertyd sal die skuldlas van die regering onvolhoubaar wees. Alle lenings moet die een of ander tyd terugbetaal word.

Ons ekonomie staan voor die afgrond van ineenstorting – maar ons leiers verstaan steeds nie die hulpkrete van die private sektor nie.

Dit is in elke leier se belang om die sukses van die private sektor te ondersteun sonder om die vervelige, uitgediende politieke kaart van rassisme te speel.

Leiers van ons land moet besef hulle beklee poste in diens van alle mense, ongeag verskille.

Demokrasie moet seëvier sodat ons leiers verantwoording kan doen aan landsburgers, namens wie hul die poste beklee – nie namens ‘n politieke party nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!