Invalshoek - 'n Knormoer saam met 'n vloermoer
Invalshoek - 'n Knormoer saam met 'n vloermoer

Invalshoek - 'n Knormoer saam met 'n vloermoer

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - ‘n Miskombersie het vir Swakopmund toegevou terwyl ons reggemaak het om die tog Windhoek toe aan te pak vir verskeie afsprake.

Ons het die kar netjies gepak en toe vir elkeen ‘n koppie koffie in die morsvrye koffiebekers geskink om darem die tog ordentlik in te lyf. Die dieselenjin het geduldig soos ‘n ou Lister-masjien geluier terwyl ons die vars seelug gegroet het. Ons is lief vir die Swakop misweer, want dit bring ‘n rustigheid oor die siel wat mens sommer weer lus maak om die lewe by die korthaartjies te pak.

Ons het ‘n snelheid van 120 km per uur gehandhaaf en somtyds aan die 130 km per uur gegrens wanneer die denke in die toekoms gaan aanklop het. Natuurlik het die verkeer tussen Swakopmund en Usakos geweldig toegeneem weens al die swaarvoertuie wat op ‘n smal teerpad moet ry.

Ons het so net na Vergenoeg agter ‘n string karre vasgeval en moes aansukkel teen 80 km per uur tot net na die Spitzkoppe-afdraai. Ons moes maar geduldig ons beurt afwag soos ons volgens goeie padreëls ryvoorgee toegepas het.

Na sowat tien minute se geduldige bestuur was dit ons beurt om die trok verby te gaan. Daar was toe reeds vier ander karre agter my wat ook hulle beurt afgewag het.

Daar is baie bulte op die deel van die pad en dus moes ek seker maak dat daar ‘n reguit stuk pad is om verby te gaan. Ek het my flikker aangesit en stadig om die trok se bakwerk geloer om seker te maak die pad is skoon, voor ek sou uittrek om verby te gaan.

Toe ek in my truspieëltjie kyk, moes ek vinnig my kar terugruk agter die trok in, want een of ander renjaer het besluit om teen 160 km per uur met sy luukse motor, wat natuurlik "ongelukbestand" is, van agter al die ander geduldige padgebruikers verby te jaag sonder om aan enige padreëls gehoor te gee.

Dit was toe dat my brein se knormoer ingeskop het en my bloeddruk hipertensie 2-vlakke bereik het met ‘n lesing van 165/110. Ek het visoene gekry hoe ek die vent gaan injaag, hom op die een of ander manier tot stilstand gaan dwing en dan die Leviete voorlees of selfs Levitikus aan hom sou openbaar.

Die tweede lettergreep van my knormoer was ook een van my gedagtes. Dis toe dat my vrou se hand my binnebeen beetkry en my herhinner aan my verantwoordelikheid teenoor haar.

Ons het toe maar rustig by die trok verbygegaan en daarna weer agter ‘n string karre vasgeval sowat 10 km van Usakos af.

Net voor ons Usakos binnery, sien ek daardie einste renjaer weer voor my. Hy het na al die amok wat hy veroorsaak het dieselfde tyd as ons in Usakos aangekom. Hy het heel moontlik ‘n gemiddelde spoed van 140 km per uur vanaf Swakopmund gehandhaaf, want hy moes ook vir ander verkeer spoed verminder al sou hy by tye 160 km per uur gery het.

Sommige padgebruikers is irrasioneel en selfsugtig deur teen hoë spoed by ander mense verby te jaag en selfs ander mense se lewens in gevaar te stel om dalk net ‘n paar minute vroeër hulle bestemming te bereik. Dit maak mos nie sin nie, veral gegewe die groter prentjie van die lewe.

Eenvoudige berekeninge wys indien ek 120 km per uur ry, sal dit my vyf minute neem om 10 km af te lê. Dus sal dit my 70 minute neem om die 140 km tussen Swakopmund en Usakos af te lê, indien ek konstant my spoed gehandhaaf het. Indien ek 140 km per uur ry, sal dit my 4,3 minute neem om 10 km en 60 minute om 140 km af te lê. Ek wen potensieël net 10 minute.

Indien ek konstant 160 km per uur handhaaf tussen Swakopmund en Windhoek sal ek 45 minute vinniger by my bestemming aankom as iemand wat 120 km per uur handhaaf. Weens spoedverminderinge sal jy eintlik net 30 minute wen, indien ‘n spoedlokval jou nie verras nie.

Dit bekommer my dat Namibië berug is vir swak padgebruik en ongelukke. Ons sien byna daagliks mediaberugte oor gruwelongelukke omdat mense ongeduldig is en om die een of ander rede dink dat hulle karre ongelukbestand is.

Nadat ek ‘n vloermoer gegooi het en nadat my brein se knormoer ingeskop het, het my vrou ‘n interessante ding gesê: ‘n Voertuig kan ‘n wapen in die verkeerde persoon se hand wees, net soos enige ander wapen. Dus moet mense wat onverskillig ry dieselfde hanteer word as enige ander krimineel. Om nie eens te praat van mense wat onverskillig gery het en ander mense se lewens geneem het nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!