Invalshoek - 'n Lente sonder blomme
Ek het destyds gedurende vakansies met my Mazda 323 tussen Swakopmund en Stellenbosch gependel.
Dit was meestal 'n belewenis om in September deur Namakwaland te reis, want dan was die veld getooi in 'n kaleidoskoop van rooi, geel, oranje, wit en pers blomme. Ons was gewoonlik 'n paar maats wat saamgery het om brandstofkoste te deel en het dikwels in Springbok oorgeslaap en dan die volgende oggend vroeg die pad verder aangepak. Dit was ons gewoonte om naby Garies in die veld te stop om die blommeprag te bewonder en die natuur in te drink.
Namibië se prag was besonders wanneer die kameeldoringbome in geel bloeisels versier was of wanneer die swarthaak met wit springmieliebloeisels gespog het. Dit was ook gewoonlik dié tyd wanneer die mopaniebome begin vergroen het en die flambojantbome oortrek was met rooi bloeisels.
Dit was ook betowerend wanneer die Suidelandskap oortrek was met geel duwweltjies ná die eerste reënbuie. Daar is min dinge in die lewe wat die siel só verkwik soos wanneer die skepping blom!
Natuurlik was daar jare wanneer die hemel se sluise nog nie getrek was nie en dan was die landskap grou en het bome verlore en eensaam op die horison gestaan. Die hittegolwe het op die graniet gedans en valse beelde op die teerpad geskep.
Ons het dan net afgetrek om brandstof te tap, die oë te laat rus of die innerlike te versterk. Die tog het in die droë jare lank gevoel en ons was buitengewoon moeg wanneer ons by ons bestemming aangekom het.
Daar is min dinge wat die siel só kan uitput soos wanneer die hoop van reën wyk.
Ons het egter altyd geweet ons sal weer die blommeprag aanskou, want die Skepper sou weer die hemelse sluise ooptrek en Sy genade oor die aarde laat spoel. Ons blydskap en dankbaarheid was oorvloedig wanneer ons ná 'n droë jaar weer die blommeprag kon aanskou en uitgerus in Matieland aangekom het.
Namibië ervaar tans buitengewone droogte met die land wat braak lê met die beendere van diere en die trane van boere. Ek kan nie vir 'n oomblik probeer voorgee dat ek werklik verstaan wat boere tans ervaar nie, want net iemand wat daagliks in 'n boer se skoene staan, en totaal afhanklik is van die grond, sal dit kan verstaan.
Die wêreld het iets van hierdie afhanklikheid én magteloosheid die afgelope week ervaar met orkaan Dorian wat 'n vernietigende spoor deur die Bahamas gelaat het. Niks kan weerstand bied teen die mag van die natuur nie.
Al wat ons kan doen, is om hande te neem en te bid dat Sy genade binnekort oor die land sal spoel, die grond sal versadig en die sade sal laat ontkiem.
Ons sien uit daarna om weer die blommeprag te aanskou en in die vallei van groen weivelde te dans.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie