Invalshoek - Ons land as 'n lappieskombers
Invalshoek - Ons land as 'n lappieskombers

Invalshoek - Ons land as 'n lappieskombers

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - Ek het Woensdag so bietjie die garage reggepak en kom toe af op verskeie ou items wat ek so paar jaar gelede in kartonne gestoor het.

Daar was ‘n paar ou muurbalrakette, ‘n koffiemeulkatrol, ‘n ander jaar se “baksteen”-selfoon en so 'n paar items uit my skooljare wat my op ‘n nostalgiese vlug geneem het.

Dit was egter ‘n ou lappieskombers wat my oog gevang het. Ek het dit afgestof en besef dit is ouma se lappieskombers wat sy toeka se jare reeds geduldig aanmekaar gewerk het. Dit bevat sommer alle kleure van die reënboog en verskeie tipes materiaal met verskillende patrone.

Ek het by myself gedink dat hierdie darem ‘n unieke kombers is, want jy kan dit nie in ‘n winkel gaan koop nie. Dit lyk ook so 'n bietjie uit plek uit tussen al die ander effekleur skakerings in die huis.

Ek het die kombers eers op die stoep oopgegooi sodat die stofreuk bietjie kan verslaan. Daarna het ek vir my ‘n koppie moerkoffie gemaak en op ‘n ou groen plastiekstoel op die stoep gaan sit en die lappieskombers bewonder.

Dit is darem ‘n kuns om al die verskillende tipes materiaal wat almal verskillende vorms het aanmekaar te werk sodat dit so ‘n mooi eenheid vorm. Dit verg baie geduld en tyd om ‘n lappieskombers te vorm.

DIE OMBUDSMAN SE VERSLAG

Die ombudsman het die afgelope week sy bevindinge oor rasseverdeeldheid en ander vorme van diskriminasie in Namibië bekend gemaak en daarmee ook sy kommer uitgespreek oor die huidige stand van sake. Daar is ‘n dringende beroep op leiers en mense van alle afkomste gemaak om eensgesind te wees en afstand te doen van alle vorme van rassisme en diskriminasie.

Daar is deur die eeue baie navorsing oor die mens se psige gedoen en vandag weet ons dat boodskappe, idees en simbole in die onderbewussyn vasgevang word en dat dit deur die regte stimulering weer herroep kan word, veral wanneer 'n mens weer daarvan bewus gemaak word.

Die ironie is dat mense byna daagliks bewus gemaak word van kultuur- en ander verskille in ons land. Ek praat hier nie net van bewusmaking gedurende informele omgang tussen mense nie, maar oor deur formele strukture in die regering, gerugsteun deur wetgewing, wat rasse-, stam-, kultuur- en ander verskille uitlig.

Politici gebruik gereeld die geleentheid om te verwys na hierdie verskille gedurende hulle toesprake en dan is daar wette gevestig wat onder meer van werkgewers verwag om maandeliks statistiek te hou oor hoeveel swart, bruin en wit mans en vrouens vir hulle werk. Daar moet ook rekenskap gegee word hoeveel mense van kleur opgelei is in ‘n bepaalde jaar.

Elke besigheid het ook sy eie, spesiale komitee wat maandeliks rasse- en geslagsverhoudings moet bespreek en dan moet daar planne gemaak word om die ratio’s reg te trek gedurende aanstellingsprosesse. Minder “kleurlose” mense word oorweeg vir bestuursposte en word letterlik gedwing om entrepreneurs te word en hulle eie werk te skep om ‘n gesonde lewenstandaard te kan handhaaf.

Dan word daar tans wetgewing oorweeg om hierdie entrepreneurs verder te dwing om die besighede wat hulle in die sweet van hulle aangesig opgebou het, te deel met ander mense, anders gaan hulle nie meer sake kan doen nie.

Hierdie bewusmaking word selfs in die sportwêreld ervaar.

NUWE DENKE?

Hierdie soort formele strukture en wetgewing versterk rasseverdeeldheid en skep stelselmatig ‘n verdeelde land.

Die tyd het aangebreek dat ons nie meer statistiek moet hou van rasse- en kultuurverskille nie, maar die grondwetlike regte van elke Namibiër moet erken. Ons moet ontslae raak van wette wat een groep bo ‘n ander bevoordeel en van mense vereis om verantwoording te doen vir sy eie harde werk en besluite in die lewe, anders gaan die geskiedenis net herhaal word.

Namibië is ‘n unieke lappieskombers wat met baie geduld en tyd oor die afgelope 28 jaar aanmekaar gewerk is. Dit bestaan uit baie verskillende kleure, teksture en vorme, maar dit is een kombers.

Net so moet ons mekaar sien: as een nasie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!