Invalshoek - Politiek se poppekas
Invalshoek - Politiek se poppekas

Invalshoek - Politiek se poppekas

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - Die koffie se aroma vul die studeerkamer terwyl ek agter my lessenaar sit en nuus kyk.

Gewoonlik wissel ek tussen verskeie nuuskanale om kennis te neem van wêreldnuus voordat ek my dagtake aanpak. Die afgelope maand was daar verskeie tereuraanvalle op gewone landsburgers in die VSA.

Dit is egter vir my opvallend hoe die nuus oor die algemeen oorheers word deur die fokus wat op wêreldleiers geplaas word wat meestal kontroversiële karakters is. Dink net aan al die aandag wat die afgelope jaar aan Donald Trump, Theresa May, Boris Johnson, Xi Jiping, Kim Jong-Un, Vladimir Putin, Emmanuel Macron, Angela Merkel en selfs Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa gegee is weens verskeie politieke redes.

Hierdie leiers is juis kontroversieel omdat hulle ‘n polariserende uitwerking op landsburgers en die internasionale gemeenskap het weens hulle leierskapstyle, persoonlike beginsels en beleidsuitsprake. Die ironie is dat die meeste van hulle beleidstandpunte nie noodwendig verteenwoordigend van die meerderheid is nie, ten spyte van die feit dat die leiers deur nasionale verkiesingsuitslae bemagtig is. In nie-demokratiese lande is daar ander prosesse betrokke.

Soms kan 'n mens nie altyd jou gevoelens verwoord nie, maar jou “gut-feel” laat jou sommer ‘n tweede koppie espresso drink. Dan wonder jy of lande waarin daar honderde miljoene mense woon regtig nie beter leiers kan verkies nie. Leiers wat mense probeer versoen, vrede probeer bewerkstellig en die welvaart van die meerderheid landsburgers bo hul eie, selfsugtige ideologieë plaas.

Dit voel vir my asof wêreldstabiliteit op ‘n mespunt balanseer en asof mense oor die algemeen meer verdeeld is as in die verlede. Die aard van politiek was nog altyd kompeterend en kontroversieel, maar nie tot die mate wat dit in die moderne tyd beleef word nie?

Moderne kommunikasietegnologie soos sosiale media en ander Internet-platforms maak dit moontlik vir gebeure om binne oomblikke na die res van die wêreld uitgesaai te word, iets wat in die verlede nie moontlik was nie. Dit was makliker in die verlede vir regerings om inligting te manipuleer en net sekere inligting aan die media bekend te maak, maar in die moderne tyd is daar deursigtigheid en is elke persoon met ‘n slimfoon bemagtig om inligting met die wêreld te deel.

So word leiers onder ‘n vergrootglas geplaas wat dit vir ons makliker maak om hulle optrede te volg en opinies daaroor te huldig.

Sekere navorsing het getoon ‘n groot deel van die nuwer generasies staan apaties teenoor politiek en verkies om nie deel te neem aan die moderne poppekas nie, want hulle ervaar min relevansie. Volgens die groep spreek leiers nie daadwerklik welvaartvraagstukke soos werkloosheid, armoede, die beskerming van die omgewing, vryheid van spraak en assosiasie, beskerming van lewe en dies meer aan nie.

Ek vermoed hierdie houding is nie beperk tot jonger geslagte nie. Almal wat tasbare waardetoevoeging deur leiers ervaar nie, huldig waarskynlik die mening.

Politieke leiers vat mekaar persoonlik aan tot groot vermaak van die wêreldmedia terwyl misdaad hoogty vier, families van mekaar vervreem word en mense bekommerd raak oor hul veiligheid en die toekoms van hulle kinders.

Myns insiens is huidige politieke stelsels en stemprosesse op sekere maniere uitgedien. Ons benodig nuwe modelle wat aan gewone landsburgers, wat geen politieke affiliasies het nie, maar ‘n passie en visie vir ‘n bepaalde doel het, die hulpbronne, ondersteuning en mag sal gee om hul visies te verwesenlik. Goeie leiers wat hulself nie vereenselwig met bestaande politieke partye, die magspel en poppekas nie, gaan verlore in bestaande stelsels.

Sal dit nie wonderlik wees nie indien ons ‘n nuwe model kan ontwerp wat leiers, ongeag van hul politieke affiliasies, verkies om leiding in bepaalde sektore te neem waarin kritieke uitdagings aangespreek kan word tot voordeel van die land en sy mense nie?

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!