Invalshoek - Spieu00ebltjie in my hand . . .
Invalshoek - Spieu00ebltjie in my hand . . .

Invalshoek - Spieëltjie in my hand . . .

Rudi Koekemoer
Ek het die afgelope tyd weer innig bewus geword van die mens se onvolmaaktheid, verganklikheid en onvermoë om die skepping te beheer.

Natuurrampe soos oorstromings, droogtes, veldbrande, aardbewings, vuurspuwende berge en virusepidemies is aan die orde van die dag en die mens staan hulpeloos voor die ongenaakbare impak hiervan op maatskaplike en ekonomiese stelsels en mense se lewens.

Buiten die onbeheerbare skepping veroorsaak die gierige en selfsugtige geaardheid van die mens dat etiese en morele beginsels van leiers en samelewings in die algemeen stelselmatig erodeer ten koste van die mens se geluk en toekomstige welvaart.

Hierdie realiteite wat ons tans beleef, is nie uniek aan die era waarin ons leef nie. Deur die eeue heen, sedert die ontstaan van die aarde, was daar natuurrampe en was die mens se karakter feilbaar. Diktators het deur die eeue heen mense op gruwelike wyses vermoor en onderwerp aan volksmoord terwyl ander, deur egosentriese leierskap, lande wat eens op 'n tyd welvarend was in absolute ekonomiese verval gedompel het.

Hierdie is maar 'n droewige prentjie van die mensdom, maar die mens het die vermoë om rampe te oorleef, om van nuuts af op te bou en om 'n positiewe impak te maak, ten spyte van al hierdie realiteite. Die mens het die vermoë om uit sak en as op te staan en om 'n beter lewe te bou ten spyte van byna ondenkbare beproewinge.

Die vraag is: Hoe verander die mens dit waaroor hy wel beheer het ten goede?

Jan en San Alleman kan nie op hul eie eensklaps grootskaalse veranderinge in die wêreld bewerkstellig nie. Nee, dit begin deur klein, daaglikse gewoontes te verander wat mettertyd nuwe gedragspatrone in persoonlike lewens, en uiteindelik in die groter samelewing, tot gevolg kan hê.

Ek dink byvoorbeeld aan die kwaliteit van my huwelik, my werksetiek, my vermoë om ander in my diens te inspireer, om etiese besluite te neem, om morele beginsels nooit te ondermyn nie, om opregte vriend­skappe te koester, om ander mense 'n helpende hand te bied, om empatie te hê met dié wat gebuk gaan onder geweldige beproewinge, om produktief te wees, om my talente in te span om die samelewing te help bou, om ander mense nie seer te maak nie en om menslik te wees.

Dit klink na 'n byna onmoontlike taak, want dan sou ons byna perfek gewees het.

Maar moet dit nie in alle geval ons daaglikse strewe wees nie?

Ek dink elke mens moet ander hanteer soos hy graag behandel wil word. Indien mense in die algemeen baie antagonisties en nors teenoor my optree, moet ek in die spieël kyk, want soms hanteer mense my soos wat ek hulle hanteer.

Soms sal ek agterkom dat ek die gemene deler in baie omstandighede is en dan is dit belangrik vir my om selfondersoek te doen oor my gedrag en eers die splinter uit my eie oog te haal, alvorens ander hul optrede teenoor my sal verander.

Toewyding tot opregte selfondersoek en gedragsverandering sal 'n positiewe impak op mense se persoonlike psige, huwelikke, gesinne, familie, vriendekringe, kennisse en uiteindelik die samelewing in sy geheel hê.

Ons kan nie ander se gedrag verander nie, maar ons kan wel die besluit neem om self die verandering te wees wat ons graag in die wêreld wil sien. Indien elke Namibiër hierdie ingesteldheid het, is ek seker ons land sal 'n herlewing ervaar tot voordeel van alle landsburgers, ongeag al die natuur- en mensgemaakte rampe.

Kom ons neem vandag die spieëltjie in ons hand . . .

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!