Invalshoek - Trou is nie perde koop
Invalshoek - Trou is nie perde koop

Invalshoek - Trou is nie perde koop

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - Destyds het mense op perdekrag staatgemaak vir vervoer en die beskikbaarheid van gesonde, sterk perde was ‘n voorkeurkommoditeit.

Die hele ekonomiese stelsel het staatgemaak op vervoer deur middel van onder andere perde. Om die waarheid te sê, die eerste “perdelose” perdekar, die Benz Velo, is eers in 1894 deur Karl Benz aan die wêreld bekendgestel en was die eerste motor wat in Suid-Afrika verkoop is. Hierdie “perdekar” het ‘n een liter, 1.5 perdekragenjin gehad wat ‘n topsnelheid van twintig kilometer per uur bereik het. Dit was ironies, want perde kan tot tagtig kilometer per uur hardloop.

Die eerste Ford Model A het eers in 1903 in Suid-Afrika sy opwagting gemaak, gevolg deur die Ford Model T in 1910. Die wêreld ervaar reeds sesduisend jaar se geskiedenis van perde in ons samelewing terwyl die motor maar slegs bietjie meer as 'n honderd jaar bestaan.

Dit is geen wonder dat perdehandel uiters kompeterend in die vroeër jare was nie. Historiese dokumente toon ‘n perd het in 1750 tussen 35 en 45 Amerikaanse dollar gekos. 'n Eeu later, in 1850, was die prys 150 dollar. Dit was min of meer gelykstaande aan ‘n maand se salaris in daardie tyd.

Natuurlik kom jy selfs ‘n perd koop vir so min as tien dollar, afhangende van hoe oud en sterk die perd was. Die realiteit was dat indien jy die lande wou ploeg, ‘n lang afstand wou aflê of ‘n boodskap wou stuur, moes jy van ‘n perd gebruik maak. Jy moes seker maak jou perd is gesond en sterk.

Dit het beteken dat mense gereeld van perde verwissel het of die diere selfs "uitgesit" het sodra dit te oud of onbetroubaar geword het. Perdekoop was aan die orde van die dag en ‘n koper moes in so 'n transaksie verskeie faktore opweeg.

Ons het die afgelope week die tog na ‘n troue op Keetmanshoop aangepak. Naby Brukkaros het ons eers van die pad getrek om bene te rek.

Ek sien toe ‘n wit perd wei in die enigste gras wat oorgebly het weens hierdie ongenaakbare droogte. Die pragtige Afrikaanse idioom, “trou is nie perde koop nie”, het by my opgekom en vir die res van die pad het ons hieroor gesels.

Deesdae spandeer ouers en die bruidspaar letterlik honderde derduisende dollar op een dag in die lewe van ‘n bruidspaar. Daar moet voorsiening gemaak word vir ‘n unieke trourok; klere word gemaak vir die gevolg, volgens ‘n spesifieke tema; troukaartjies moet gedruk word; ruikers moet gereël word vir die kerk en onthaalsaal; die troukoek moet ontwerp en gebak word; die bruid se hare, naels en oogwimpers moet versorg word; ‘n uitmuntende fotograaf word gereël om elke oomblik te verewig; ‘n eksotiese buffet vir vriende en familie is ‘n noodsaaklikheid; die onthaalsaal moet opgemaak word; daar moet geskenkies voorsien word vir gaste; vonkelwyn en ‘n verskeidenheid van ander wit- en rooiwyne moet op die tafels geplaas word vir die heildronke en dan is daar fooitjies vir ‘n verskeidenheid van organiseerders en bedieners. Ek is seker hierdie lysie kan nog heelwat verleng word, want daar moet byvoorbeeld ook voorsiening gemaak word vir verblyf vir familie wat van heinde en verre kom.

Natuurlik is hierdie ‘n spesiale dag vir ‘n bruidspaar, want hulle staan voor die Hemelse Vader en beloof om deur enige stryd in die huwelik die koue winter te trotseer om weer vrolik te kan dans in die lente. Om in die euforiese tye saam fees te vier, maar in hartsverskeuring ook te bly kleef.

Lientjie het na ‘n oomblik van stilte vir my gevra: “Hoekom word daar nou wette gemaak om egskeidings makliker te maak? Moet daar nie eerder wette ingestel word wat trou moeiliker maak nie, sodat wanneer iemand in die huwelik tree, dit met die regte erns opgeweeg word?"

Is trou deesdae soos perde koop?

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer