Invalshoek - Verhoudings skep jou geluk
Invalshoek - Verhoudings skep jou geluk

Invalshoek - Verhoudings skep jou geluk

Rudi Koekemoer
Ek het die afgelope week weer innig bewus geword van die mens se nietigheid.

Drie mense in my sosiale media vriendekring het lewensmaats verloor, wat my opnuut laat besef het hoe kosbaar tyd is.

Die Amerikaanse Instituut vir Spanning het bevind dat hartseer 'n intense impak op ons emosies, lewens en liggame het. Hulle het verder bevind die impak van hartseer op ons psige en liggaam word net so intens ervaar soos wanneer iemand deur 'n egskeiding of die beëindiging van 'n goeie vriendskap gaan.

Die emosies wat hartseer mense ervaar sluit in depressie, frustrasie, skok, angs en selfs skuldgevoelens. Die fisieke impak op die liggaam is gewoonlik net so intens, met verandering in hartklop, spanning in die bors en sommige mense wat dit selfs moeilik vind om asem te haal.

Die meeste mense wat intense hartseer ervaar, kan snags nie slaap nie en wil dan deur die dag net in die bed bly. Sommige mense sal selfs onttrek van sosiale interaksie en hulself begin isoleer.

Hierdie proses van hartseer en die rouproses kan wissel van weke tot maande en selfs jare, afhangende van hoe sterk die verhouding tussen die mense was.

Sielkundiges moedig mense wat deur hartseer en 'n rouproses gaan, aan om die emosies uit te druk deur daaroor te praat met mense naby aan jou of om dit deur kunste uit te beeld, soos om daaroor te skryf, te skilder, musiek te komponeer of selfs deur fotografie.

Verder word mense aangemoedig om te begin oefen om van die spanning ontslae te raak. Dit hoef nie harde oefening te wees nie. Jy kan selfs vir lang ente gaan stap.

Dit het my laat dink aan 'n Harvard Besigheidskool-studie oor “geluk” wat reeds in 1938 begin het. Die lewens van 268 mansstudente is bestudeer vanaf hulle eerste jaar van studies tot hulle dood.

Slegs 19 van die aanvanklike studente leef nog vandag, maar die Harvard-studie het later die vrouens en 1 300 kinders van die aanvanklike 268 mans begin studeer. Die navorsing is op elke fase van hulle lewens gedoen tot hulle sterfte, om te probeer vasstel wat mense se geluk bepaal of beïnvloed. Die ondersoek gaan steeds voort ná 80 jaar.

Die vierde direkteur van die navorsingsprojek, Robert Waldinger, 'n professor van sielkunde by die Harvard Mediese Skool, het die verrassende bevindinge as volg opgesom: “Close relationships, more than money or fame, are what kept people happy throughout their lives, the study revealed. Those ties protect people from life's discontents, help to delay mental and physical decline, and are better predictors of long and happy lives than social class, IQ, or even genes”.

Die navorsers maak dit duidelik dat mense wat in gelukkige verhoudings is, minder sielkundige of fisieke probleme ervaar en langer leef as mense wat in ongesonde verhoudings is. Hulle het verder bevind dat dit nie die hoeveelheid vriende en verhoudings is wat mense se geluk bepaal het nie, maar die kwaliteit van daardie verhoudings.

Dit was die individue wat kwaliteit verhoudings ervaar het, wat die gelukkigste was. Dit beteken ons moet hard aan verhoudings werk en daardie "sakke sout" saam moet opeet.

Dit is baie makliker om 'n verhouding (hetsy 'n vriendskap, huwelik of langtermyn verhouding) te beëindig as om werklik te erken dat ons almal menslik is en dat almal van ons gebreke het. Ons moet deur ons probleme werk, want elkeen van ons is onvolmaak en het baie foute.

Die implikasie van hierdie ondersoek is dat ons verhoudings moet koester en dit nie moet afskeep om rykdom en ander materiële dinge na te jaag nie. Dit is geen wonder nie dat ons soveel spanning beleef wanneer ons iemand aan die dood afstaan, 'n egskeiding plaasvind of wanneer 'n jarelange verhouding skipbreuk ly.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!