Invalshoek - Vernuwing by die see
Invalshoek - Vernuwing by die see

Invalshoek - Vernuwing by die see

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - Ons het vanoggend ons tekkies aangetrek en voor die son deur die miskombers kon loer, die kronkelpaadjie na die see aangepak.

Die seebries was versadig met mikroskopiese soutkristalle wat die reuksintuie gestreel het. Ons het vir ‘n oomblik vergeet van al die realiteite van die lewe en die natuur se perfektheid ingedrink terwyl ons begin gesels het oor ons Jan Tuisbly-realiteit hierdie Desember.

Dit neem nooit lank om tot die besluit te kom om die waentjie te pak en by Myl 72 te gaan kamp nie. Dit is indien die kampplekke oop is hierdie jaar. Nietemin, kamp gaan daar gekamp word.

Die familie vra gewoonlik vir ons, met verbasing, wat die rede is dat ons eenhonderd kilometer vanaf ons huis in Swakopmund, wat oor ‘n warm bed en alle denkbare gemak beskik, gaan kamp. Dit is dan net 'n klipgooi van die huis af. Dit maak mos nie sin nie!

Die skoonfamilie het vir dekades op Usakos gewoon en dit was tradisie om aan die begin van elke Desember, oor ‘n periode van dertig jaar, by Myl 72 te gaan kamp om die jaarlikse hittegolf van die binneland vry te spring. Ek het sowat vier-en-twintig jaar gelede deel van hierdie tradisie geword toe ek die opsitkers saam met Lientjie ervaar het. Hierdie tradisie het egter stelselmatig afgewater geraak nadat Pa Jim siek geword het en later die tydelike vir die ewige verruil het. Ons het net so elke ander jaar die tradisie voortgesit, maar dit was telkens ‘n vernuwende belewenis.

Voorbereiding het gewoonlik hierdie tyd van die jaar begin wanneer die stoorkamer oopgemaak en die kampgoed afgestof en uitgepak is. Die tente was dan oopgetrek om seker te maak die ritssluiters werk nog. Daarna was die kragopwekker uitgehaal en gediens. Die skadunette was nagegaan om seker te maak daar is genoeg ankertoue, penne en kokers. Dan het die waterkanne, petrolkanne, grondnette, gasbottels, gasvrieskas, gasstoof, chemiese toilet en braaigereedskap gevolg. Laastens was die visgereedskap nagegaan en die katrolle gediens.

Ma Gerda het gewoonlik omgesien na alles om daagliks die innerlike te versterk om die kinders deur die dag te kry. Dan was daar gebak en gebrou. Mos- en karringmelkbeskuit, verskeie soorte koekies (my gunsteling was die gemmerkoekies) en ander lekkernye is voorberei. Dan het elke kind ook ‘n spesiale kosbestelling geplaas wat tydens die kamp voorberei moes word. Dit het gewoonlik ‘n seekoskelkie, kerrievetkoeke, vars gebraaide vis en ‘n skaapribbetjie ingesluit. Laastens is die klein kersboom, liggies en ‘n paar nederige versierings ingepak.

Almal moes hand bysit om alles gereed te kry vir die groot dag wanneer die tog see toe aangedurf is met die pakkasie.

Halfpad is daar by ‘n tafeltjie langs die pad gestop om tradisionele padkos te geniet wat altyd gekookte eier, toebroodjies, koue braaivleis van die vorige dag en moerkoffie ingesluit het.

By die kampplek aangekom, is daar direk na Blok 8 gery met die hoop dat niemand nog ons staanplek ingeneem het nie. Dit was nooit ‘n goeie idee om op die draai te staan nie, want dit was te naby aan die water en springgety kon dinge onaangenaam maak. Om nie eens te praat van die westewind wat soms die tentpenne in die middernagtelike ure kom losruk nie!

Kamp opslaan was ‘n affêre wat telkens uitgeloop het op ‘n stryery, waarna ons lekker gelag het daardie eerste aand wanneer almal om die kampvuur gesit en die dag in oënskou geneem het.

Myl 72 het al die jare nog uiters swak selfoonopvangs gehad. Mens kon nie oproepe maak of ontvang nie maar wel teksboodskappe ontvang indien jy jou selfoon op ‘n spesifieke plek in die tent neergesit en so af-en-toe gaan kyk het of iets deurkom. Andersins was mens vry van tegnologie of enige ander vorm van elektroniese kommunikasie. Jy was genoodsaak om met almal in die kamp te gesels.

Ons het daagliks uitgesien na die Republikein wat so vanaf 11:00 in die oggende afgelewer is. Dan het almal ‘n beurt gekry om die koerant te lees en opinies is oor die nuus van die dag uitgeruil.

Visvang was ‘n sekondêre motivering, maar daar was darem daagliks ‘n paar aan wal gebring om aan vars gebraaide visverwagtinge en familiebestellings tuis te voldoen.

Ek het eendag vir skoonpa gevra hoekom Myl 72? Sy antwoord was dat daar nêrens anders is waar hy so rus en soos ‘n “nuwe sikspens” voel soos by die see nie. Hy kon kop skoonmaak, tyd kry om te dink, nuwe perspektief kry en om opnuut dankbaar te wees wanneer hy na ‘n paar weke weer in die gemak van sy huis instap.

Elkeen van ons het soms ‘n Myl 72 in ons lewens nodig. ‘n Plek waar ons nie besig is met die normale verpligtinge en roetine van die jaar nie, maar waar ons net kan ontspan, perspektief kry en vernuwend en vol hoop die nuwe jaar kan binnegaan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!