Invalshoek - Vra ons die regte vrae?
Soms kry 'n mens mos daardie eureka-oomblik onder die vreemdste omstandighede en wanneer jy dit die minste verwag.
Ons het verlede week sosiaal verkeer saam met 'n paar vriende. Soos gewoonlik het ek die kameeldoringhoutvuurtjie gestook terwyl die gaste woelig in die huis rondbeweeg het. Sommige het buite gestaan en die sonsondergang bewonder terwyl ander in die kombuis doenig was om slaaie te maak. 'n Paar manne het ook rondom die ysmasjien saamgedrom.
In 'n stadium het een van die gaste na my toe aangestap gekom en gevra: “Het julle dalk 'n toilet?”.
Ek het vir 'n oomblik stilweg gedink: wel, ons doen dit definitief nie op die gras buite nie. Ek het my gedagtegang kortgeknip en beleefd geantwoord om die ware Noord aan te wys.
Dit het my ook laat dink aan wanneer mense mekaar vir jare nie gesien het nie en mekaar dan weer raakloop. Dan word daar gevra: “My wêreld, leef jy nog?” Dan worstel ek weer met my sarkastiese brein. Nee, dis net my gees wat met jou gesels.
Hierdie oomblikke van sarkastiese humor het my opnuut laat besef watter waarde dit het om die regte vrae te stel. Dit is inderdaad 'n kuns wat prokureurs en advokate al te goed verstaan, want die enigste manier om agter die kap van die byl te kom, is om die regte vrae te stel. Die kwaliteit van jou vrae verklap ook iets van jou wysheid, of gebrek daaraan, want dit vereis in die meeste gevalle diep denke en relevante voorkennis om die vraag reg te formuleer sodat jy die regte inligting kan bekom. Dink byvoorbeeld aan 'n mediese praktisyn wat die regte vrae aan jou moet stel om 'n aanvanklike diagnose oor jou moontlike mediese toestand te kan maak.
Ek was onlangs bevoorreg om deel van 'n paneel te wees wat onderhoude vir uitvoerende poste by 'n vooraanstaande organisasie gevoer het.
Normaalweg word vrae gestel soos “vertel my van jou werkservaring en kwalifikasie” of “hoekom het jy aansoek gedoen”. Daar is verskeie ander voorbeelde van algemene vrae wat normaalweg aan kandidate gestel word, maar die kuns is om daardie vrae te formuleer waarvoor 'n kandidaat nie kan voorberei nie en wat daarop gemik is om selfinsig, werklike ervaring en die waardestelsel van 'n kandidaat te evalueer.
Die paneel het vrae gestel soos “wat is jou grootste ontwikkelingsarea en wat het jy gedoen om dit aan te spreek die afgelope jaar”. In die meeste gevalle sal kandidate 'n positiewe eienskap uitlig en dit moontlik formuleer asof dit negatief is, soos: “Ek is geneig om té streng met my personeel te wees”, of “ek is baie perfeksionisties”. Hierdie is nie werklik ontwikkelingsgebiede nie.
Die kuns is om die kandidaat te kry om werklik diep te dink en eerlik aspekte uit te lig waar ontwikkeling nodig is, soos “ek is nie goed met die lees en interpretasie van finansiële state nie”. Die paneel wil vasstel of die kandidaat proaktief selfontwikkeling gedoen het.
Vrae oor integriteit kan insluit: “Kan jy aan 'n voorbeeld dink waarin jou integriteit getoets is en hoe het jy dit hanteer?” Sommige vrae kan gerig wees daarop om emosionele intelligensie of werklike ervaring te peil. 'n Kandidaat moet dan voorbeelde noem hoe bepaalde probleme aangespreek en opgelos is.
Retoriese vrae kan ook baie insiggewend wees.
Hoe is dit moontlik dat miljarde Namibiese dollar verduister word sonder dat enige van die tientalle regulerende organisasies in Namibië niks daarvan geweet het nie terwyl dit byna onmoontlik vir Jan en San Alleman is om net 'n paar dollar na 'n rekening buite die landsgrense oor te plaas weens streng beheermaatreëls?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie