Invalshoek - Wat jy saai, sal jy maai
Invalshoek - Wat jy saai, sal jy maai

Invalshoek - Wat jy saai, sal jy maai

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer – Ek is oor die algemeen ‘n positiewe persoon.

My vrou sê gereeld: “Ag Rudi, ou silwerrandjie . . .”

Dit was nog altyd my lewensfilosofie om die glas as halfvol in plaas van halfleeg te sien. Dit beteken egter nie ek is blind vir die realiteite wat ons in die gesig staar nie. Die eerste stap onderweg na verandering is immers erkenning, anders sal dieselfde probleme voortdurend herhaal word.

Soggens, dou voor dag, skuif ek agter my lessenaar in, skakel my rekenaar aan en snuffel deur verskeie leesstof. Ek het Vrydagoggend probeer om meer perspektief te kry deur te dink aan die afgelope vyf jaar en nie net aan die afgelope jaar se ontwrigting nie. My intensie was om te kyk na algemene tendense.

Ek kon nie anders as om tot die gevolgtrekking te kom dat daar ‘n progressiewe erosie van ons land se maatskaplike waardes, ons ekonomie en integriteit plaasvind nie. Myns insiens het hierdie proses van verwering reeds dekades gelede begin, maar die afgelope vyf jaar het dit spoed begin optel. Ons staan naby 'n breekpunt.

Alles gebeur nou net vinniger as wat verwag is. Dit is my opinie dat die Covid-19-pandemie die agteruitgang in publieke administrasie en leierskap duideliker kom blootlê het. Daar is nie ‘n beter voorbeeld as die toestand van openbare hospitale en die gesondheidstelsel se onvermoë om die eed van Hippocrates na te kom nie.

Daar is talle voorbeelde van maatskaplike verval soos toenames in werkloosheid, armoede, misdaad, geweld teen vrouens en kinders en dwelmmisbruik.

Ons land was reeds vir ‘n paar jaar in resessie voor die pandemie die ekonomie ‘n nekslag kom toedien het. Lesers is bewus van die feit dat korrupsie endemies geword het aan ons land en dat miljarde dollar skaamteloos gesteel is. Die diefstal duur volgens alle indrukke onverpoosd voort.

Die integriteit van leiers word bevraagteken, want hulle kon die afgelope 30 jaar nie maatskaplike probleme doeltreffend oplos en groei stimuleer deur beleggersvriendelike wetgewing te promulgeer nie. Sommige leiers gebruik openbare podiums om rassegedrewe toesprake te maak wat die samelewing verdeel.

Wetgewing word geskryf om die minderheid te onderdruk en die probleme wat ons tans ondervind, word steeds voor die deur van ‘n vorige bedeling gelê ten spyte van die feit dat daar dekades was om die land in ‘n Singapoer te omskep.

Die fisikus Isaac Newton se derde wet van beweging bepaal dat daar 'n teenreaksie is vir elke aksie. Die beginsel bepaal dat indien daar interaksie tussen voorwerpe is, sal bepaalde druk- of trekkragte daarop inwerk. Die Bybelse beginsel wat hiermee vergelyk kan word, is sekerlik wat jy saai, sal jy maai.

Positiewe optrede, soos om wetgewing te aanvaar wat beleggers sal aanmoedig om in die land te belê en sakeondernemings sal toelaat om te floreer, sal werkskepping tot gevolg hê, wat armoede en maatskaplike probleme kan aanspreek.

Indien ons die juk van die verlede afgooi en vergewensgesind na die toekoms kyk, ongeag van al die dinge wat mense verskillend maak van mekaar, sal daar harmonie en vrede heers. Indien daar gevolge vir korrupsie is en ‘n kultuur van integriteit geskep word, kan ons land floreer.

Positiewe aksies sal positiewe gevolge hê.

Die huidige hulpkreet van landsburgers is die gevolg van die teenoorgestelde.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!