Invalshoek - Wateroorlog
Invalshoek - Wateroorlog

Invalshoek - Wateroorlog

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - Die wekker onderbreek om 05:30 my droom, wat in die vallei van waters van rus afspeel.

Ná my eerste koppie koffie besluit ek om gou deur die stort te spring voor ek die dag se vol program aanpak. Ek haas my vlugvoetig na die stort, in my Adamsgewaad, staan ‘n entjie weg van die stortkop en draai die kraan oop. Die waterpype tap net lug!

Ek besef ek het nie gisteraand gebad nie en draai die warmwaterkraan oop met die hoop daar is nog 'n bietjie water in die geiser. Gelukkig loop daar so 'n klein straaltjie, so ek moet haastig en strategies was.

Ek skink ‘n tweede koppie koffie en skuif voor die kassie in, waarop toevallig oor die huidige droogtetoestande in die Wes-Kaap en die dramatiese gevolge daarvan berig.

Dit laat dink my aan ‘n "TED Talk" wat ek ‘n jaar gelede gesien het waarin ‘n spreker voorspel het die volgende wêreldoorlog gaan nie oor minerale, olie of politieke strydpunte handel nie, maar oor vars water.

Ek gaan snuffel rond op die webtuiste van die World Water Council (WWC) en besef tot my verbasing verskeie navorsers en vooraanstaande leiers in die wêreld deel die opinie. Inteendeel, volgens die WWC is huidige watertekorte die nuwe werklikheid en sal mense hul optrede moet verander om waterbesparing deel van hulle alledaagse bestaan te maak.

Sestig persent van die menslike liggaam bestaan uit water. Daarom kan die mens nie sonder water bestaan nie.

Water is noodsaaklik vir voedsel-, gesondheids- en selfs energiesekuriteit. Om die waarheid te sê, water word in byna alle menslike prosesse in die wêreld gebruik, ook in industriële en vervaardigingsprosesse.

Die grootste uitdaging is dat die wêreldbevolking eksponensieel toeneem en teen 2050 sal daar nege miljard mense op die planeet wees. Ses keer meer voedsel sal voorsien moet word.

Tans word 70% van alle varswateronttrekkings gebruik vir landboudoeleindes om voedsel te voorsien. Kan jy jouself indink wat die waterbehoeftes teen 2050 sal wees indien die bevolkingsaanwassyfers reg bereken is?

Die afgelope twee dekades het armoede met meer as 50% verminder. Twee miljard meer mense het toegang tot veilige waterbronne gekry, wat dus meer druk op waterinfrastruktuur en -sekuriteit plaas. Daar word verder voorspel dat 70% van die wêreld se bevolking teen 2030 in stede sal woon, wat bykomende druk sal plaas op die vestiging en volhoubare bestuur van waterinfrastruktuur en -bronne. Ander bronne voorspel die aanvraag na water sal teen 2025 die voorsiening met 56% oorskry.

Die WWC dui aan sowat een miljard mense ervaar tans wêreldwyd watertekorte en die syfer kan teen 2025, slegs sewe jaar van nou, drievoudig toeneem. Totale verliese die afgelope eeu weens natuurlike rampe word op US$2,5 miljard bereken, waarvan 70% weens vloede en droogte was. Verskeie lande in die wêreld deel gemeenskaplike natuurlike waterbronne soos mere en standhoudende riviere en dus is daar reeds konflik oor die bestuur en benutting van water.

Volgens verskeie bronne het Afrika 'n agterstand met die res van die wêreld wat ontsouting as strategie betref om watersekuriteit te verseker. Ontsouting het die norm geword in die Midde-Ooste, Sentraal Asië, Suid-Europa en sommige lande in Noord-Afrika.

Suidelike Afrika beplan nog maar net die vestiging van bykomende ontsoutingsaanlegte. Die proses neem myns insiens te lank.

Daar is gesprekke oor die koste en ekonomiese lewensvatbaarheid van ontsoutingsaanlegte. Na my mening is die koste irrelevant, want wat gaan ons doen sodra daar nie meer water is om in alle landsburgers se behoeftes te voorsien nie?

Finansiële modelle kan in samewerking met internasionale organisasies ontwerp word om watersekuriteit te verseker en water bekostigbaar vir Jan Alleman te maak. Wat help dit ons het al die geld in die wêreld, maar nie genoeg water om lewe te onderhou nie?

Dit is tyd dat alle belangegroepe, van die hoogste politieke vlakke tot by Jan Publiek, die erns van die saak besef en hande vat om daaglikse waterbesparing en toekomstige watersekuriteit aan te spreek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!