Invoermielies knou Pioneer se wins erg
Invoermielies knou Pioneer se wins erg

Invoermielies knou Pioneer se wins erg

Die genoteerde voedselreus Pioneer Food Group se aandeelprys het Maandagoggend met 2% gedaal nadat sy tussentydse wins met 56% tot R460 miljoen getuimel het.

Die maatskappy, wat onder meer mieliemeel, ontbytkos, pasta en vrugtesappe vervaardig, sê dié skerp afname is onder meer te wyte aan hoër insetkoste, ’n tekort aan rosyntjies en ’n sterker rand wat sy internasionale bedrywighede geknou het.

“Mielies is die grootste faktor wat die wins afgetrek het weens ’n ongunstige verkrygingsposisie wat in 2016 ingeneem is om voorraad vir Suid-Afrika se voorste mieliemeelhandelsnaam te verskaf.”

Die maatskappy het reeds in Februarie begin waarsku dat sy besluit om sy White Star-mieliemeel in supermarkte te hou te midde van ’n plaaslike tekort aan mielies hom duur te staan gekom het. Om hom te verskans teen die verwagte tekort het Pioneer geen ander keuse gehad as om mielies op termynkontrakte te koop nie, wat taamlik duur was.

“Hierdie besluit is deur versigtige oorweging van die beskikbare inligting op daardie tydstip voorafgegaan,” lui Pioneer se verklaring met die uitreiking van sy tussentydse resultate tot 31 Maart vanjaar.

Pioneer se bedryfswins in sy stapelvoedselafdeling, wat die grootste bydraer tot sy inkomste en wins is, het met 49% tot R331 miljoen gedaal terwyl die prestasie van sy kruideniersafdeling negatief geraak is deur laer volumes, verhoogde mededinging en kostedruk. Die bedryfswins in hierdie afdeling het met 12% tot R301 miljoen gedaal teenoor ’n jaar gelede.

“Die koeler somer in die binneland het volumes en marges aansienlik geraak,” het dié vervaardiger van Liquifruit- en Ceres-vrugtesap en -konsentraat gesê.

Die voedselgroep se internasionale afdeling het die wind van voor gekry weens voorraadtekorte, kostedruk, wisselvallige wisselkoerse en swak verbruikersvraag in die res van Afrika. Bedryfswins in dié afdeling het met 73% tot R69 miljoen geval.

“Rosyntjies lewer gewoonlik ’n wesenlike bydrae tot die internasionale wins en ’n kleiner oes het dié winsgewendheid in die ses maande tot einde Maart weggekalwe,” lui Pioneer se verklaring.

In weerwil van dié terugslae het Pioneer Foods steeds ’n sterk kontantvloei met kontant wat uit bedrywighede verdien is, wat met 27% tot R875 miljoen verbeter het teenoor dieselfde tydperk in 2016.

“Ons belegging in werkskapitaal is tot ons tevredenheid tot net R167 miljoen beperk ondanks aansienlike seisoenale beleggings in die droëvrugte-oes vir 2017,” sê die maatskappy in sy verklaring.

Pioneer het in Oktober verlede jaar ’n belang van R49,89% in Weetabix Oos-Afrika vir R190 miljoen verkry.

Verlede maand het die maatskappy bekend gemaak dat samesprekings oor ’n groot internasionale transaksie (waarskynlik om ’n belang van Weetabix in Brittanje te bekom) afgelas is “weens die onlangse afgradering van Suid-Afrika se staatskuld en die potensiaal vir bykomende afgraderings”.

Pioneer verwag ’n beter vertoning in die tweede helfte van die jaar danksy ’n styging in die rosyntjievoorraad, laer insetkoste vir sy vrugtesap en die aansienlike daling in die mielieprys wat sy verkryging van mieliemeel heelwat goedkoper sal maak.

Die maatskappy het die tussentydse dividend onveranderd gehou op verlede jaar se R1,05 per aandeel. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!