Inwoners betoog vir Odin
Tanja Bause - ’n Gebreekte kakebeen, gekraakte skedel, ’n septiese wond en erge seerplek aan sy keel, is op die lang lys beserings waarmee Odin, ’n vyf maande oue Amerikaanse veghond, die afgelope week gediagnoseer is.
Odin is verlede week voor die kantore van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) op Walvisbaai uit ’n bewegende taxi gegooi. Omstanders het onmiddellik die DBV se bestuurder, me. Jessica van Tonder, gebel om die bebloede dier te help.
“Ek het hom gewas en absesse onder sy ken en aan die agterkant van sy been opgemerk. Die absesse sal deur ’n veearts verwyder moet word. Hy het ook bytwonde aan sy hele lyf en van sy tande is verwyder,” het Van Tonder gesê.
Die DBV vermoed Odin is as ’n “aas-hond” gebruik, waarmee ander honde geleer word om te veg.
“Sy tande is uitgetrek, sodat hy nie die ander honde kan seermaak nie,” het Van Tonder gesê. Volgens Van Tonder is dit gelukkig melktande en sal Odin se permanente tande uitgroei.
“Toe ek Dinsdag vir hom sy pynpille wou gee, het ek agtergekom sy kakebeen is los. Ná die swelling in sy gesig afgeneem het, het ons besef sy kakebeen is gebreek,” het Van Tonder gesê.
Odin is Dinsdag by die veearts aan ’n morfiendrup gekoppel, terwyl X-strale geneem is om die omvang van sy beserings te bepaal.
“Daar is vasgestel sy kakebeen is wel gebreek, terwyl sy skedel ook gekraak is. Die een bytmerk aan sy agterbeen is besig om septies te raak, terwyl die seer onder sy ken baie erger is as verwag is. Die beserings is deur ’n baie groter en sterker hond se byt veroorsaak.”
Volgens Van Tonder is Odin is nie bang vir vroue of ou mans nie, maar wel baie bang vir jong mans, ander honde, katte en selfs sy eie skaduwee.
Die voorval is by die polisie op die hawedorp aangemeld. Omstanders onthou egter net die kleur van die taxi waaruit Odin gegooi is. Volgens die polisie kan hulle glo nie veel aan die saak doen nie, hoewel Namibië ’n dierebeskermingswet het.
“Hondegevegte raak al meer algemeen op Walvisbaai. Daarmee saam is dieremishandeling oral in die land besig om hand uit te ruk. Mense weet van die hondegevegte, maar hulle bly stil en sê niks. Hulle kan net vir ons bel en hoef nie hul name te verstrek nie, ons sal ondersoek instel, maar die gemeenskap moet betrokke raak sodat ons dit kan stop,” het Van Tonder gesê.
Volgens haar is dit ’n baie goeie ding dat Odin by die DBV afgelaai is, want nou het hy ten minste ’n kans op oorlewing.
“Dit is nou wel nie goed dat hy uit ’n bewegende voertuig gegooi is nie, maar veel beter as wat hulle hom in die duine iewers gelos het. Hier kan hy hulp en ’n tweede kans kry,” het sy gesê.
Odin se lot het die gemeenskap van Walvisbaai só geraak dat besluit is om Saterdag om 11:00 ’n betoging voor die hawedorp se munisipale geboue teen hondegevegte te hou.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie