Inwoners skuld die hoofstad 'n miljard
Skoonmakers wag in spanning op onderhandelinge, nadat hul kontrakte verval het.
Augetto Graig – Geldsake by die hoofstad se munisipaliteit lyk al hoe meer duister nadat die burgemeester, me. Fransina Kahungu by Donderdag se stadsraadvergadering gesê het inwoners se skuld is oor die laaste drie maande met 20% op.
“Dienslewering word nou benadeel deur wanbetaling van rekeninge vir gelewerde diense. Die debiteureboek het vergroot vanaf 'n stabiele N$839 miljoen op 31 Maart tot N$1,01 miljard, wat N$171 miljoen meer is, en gelyk aan 'n 20% toename in drie maande,” sê sy.
Volgens die burgemeester het hierdie toename in uitstaande skuld 'n negatiewe impak op kontantvloei, tot so 'n mate dat drastiese aksie geneem sal moet word.
Sy sê weens die uitbreking van Covid-19 en die regering se reaksie op die virus, moes die Windhoek-munisipaliteit sy streng skuldbeheermaatreëls soos beperkings ten opsigte van water- en elektrisiteitstoevoer stopsit, wat die skuldsituasie vererger. “Dus doen ek 'n beroep op alle inwoners wat skuld het om dit te betaal. Terselfdertyd prys ek inwoners wat hul rekening op datum hou,” sê sy.
Laasweek was die stadsraad se eerste vergadering nadat die jaarbegroting vir 2020-2021 deur die lynministerie goedgekeur is. Die munisipaliteit se begrotingsramings moet uitgevoer word om inwoners se lewens te verbeter, sê sy. “Dit is dus van uiterste belang dat ons die enjins volstoom moet laat loop sodat al die projekte waarvoor begroot is, aan die einde van die boekjaar voltooi is, of behoorlik aan die gang sal wees,” sê sy.
PROJEKTE
Hierdie projekte sluit in Kahungu se ingryping om verblyfsreg vir inwoners sonder grondregte te verseker. “Ons noem onbeplande informele nedersetting nou voortaan 'ontvangsareas', waar sertifikate van erkenning van beset uitgereik word as 'n eerste stap tot sekerheid van verblyfreg,” sê sy.
Volgens haar sal 20 000 sertifikate in 2020 uitgereik word, met die eerste 300 wat laas Vrydag toegeken is. Inwoners van die Okatunda-nedersetting in Okuryangava is eerste op die lys omdat dié nedersetting van die eerstes in die hoofstad was, sê sy.
Ander prestasies wat die burgemeester namens Windhoek-munisipaliteit uitgelig het, sluit in die installasie van sewe hoë masligte in die kiesafdelings Samora Machel, Moses Garoëb en Tobias Hainyeko. Elektriese kragtoevoer is ook vir Babilon en One Nation aangelê, waar 64 huisgesinne nou aan die kragnetwerk gekoppel is.
Die stadsraad kon ook daarin slaag om 168 gemeenskaplike waterpunte (uit 'n beplande 267) op te rig, hoewel net 33 gemeenskapstoilette (uit die beplande 277) sover weens die impak van Covid-19 gebou is, sê sy. Met die hulp van vrywilligers kon 195 bestaande gemeenskapstoilette ook skoongemaak word.
• Een dringende kwessie wat die munisipaliteit nog nie kon afhandel nie, raak die sowat 610 algemene skoonmakers wie se werkskontrakte Vrydag verval het. Van die werknemers was by die raadsvergadering, maar hul nuutste petisie vir voltydse aanstelling is nie deur die raad bespreek nie, omdat dit nog deur interne munisipale prosesse moet gaan.
Die munisipaliteit se woordvoerder, me. Lydia Amutenya, het die einde van die betrokke kontrakte bevestig, maar sê CoW is steeds in gesprek met die vakbond vir staatsdienswerkers (Napwu) oor die pad vorentoe. “Die uitkoms van die gesprek word vroeg volgende week verwag,” het sy Vrydag gesê.
Napwu se hoofsekretaris, mnr. Petrus Nevonga, sê die gesprek is ver gevorderd. “Ek hoop ons vind 'n oplossing waarmee almal tevrede sal wees.” Hy sê onderhandelinge in die verband sloer weens die aard van die kwessie.
Die betrokke werknemers is al drie jaar in diens van die stad, op sesmaandelikse kontrakte wat herhaaldelik hernu is.
In 'n brief aan Kahungu op 29 Julie vra die werknemers om voltyds aangestel te word, en vir voordele soos medies, pensioen en behuisingstoelae.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie