Inwoners van Otjomuise keelvol vir diewe

‘Ons is op die punt om reg in eie hande te neem.’
Tanja Bause
Tanja Bause – Die gemeenskap van Agtste Laan in Otjomuise in die hoofstad is keelvol ná jarelange teistering deur gewoontemisdadigers. Hulle dreig nou om reg in eie hande te neem.

Volgens mr. George Kavari, ’n gemeenskapsleier, word die mense in Agtste Laan vir die afgelope paar jare deur inbrake gebombardeer.

“Die mans gebruik ’n kniptang om die slotte en kettings af te knip en dan dra hulle alles weg. As hulle gevang word, is hulle twee of drie dae later weer op straat. Ons ken hulle gesigte. Ons weet wie hulle is. Ons sien hulle hier in Agtste Laan rondloop. Gister (Woensdag) het ons vyf van hulle gevang en saam met die kniptang aan die polisie oorhandig, maar dit sal nie lank wees nie, dan sien ons hulle weer,” het hy gesê.

Mnr. Dikson Hangana en sy vrou het hulle werk weens Covid-19 verloor en ’n snoepie by hul huis oopgemaak om kos op die tafel te kan sit.

“Diewe het verlede week my snoepie oopgebreek en alles weggedra. Ons het niks oor nie en ons het ook nie geld om nuwe voorraad aan te koop nie. Ek het hulle gehoor en uitgehardloop en gesien hoe hulle weghardloop. Ek het hulle gesigte gesien en weet wie hulle is. Dit is dieselfde groep wat alreeds weens diefstal gevang is.”

Me. Manela Mushenge het werk toe gegaan en later die dag ’n oproep van haar bure ontvang om te sê iemand het by haar sinkhuis ingebreek.

“Ek het werk toe gegaan en toe ek terugkom, het ek niks oor gehad nie. Hulle het net die bed en kombuiskas gelos. Hulle het my kos, klere gevat; hulle het alles gevat waarvoor ek gewerk het. Ek is baie gestres en moes selfs ’n paar dae van die werk af wegbly. Hoe gaan ek al my goed vervang?”

Volgens mnr. Imanuel Tjiroze is die inwoners van Agtste Laan moeg vir die inbrekers.

“Gister het die gemeenskap amper ’n huis van een van die inbrekers aan die brand gesteek. Dit is bloot omdat hulle moeg daarvoor is dat hulle in hegtenis geneem word en paar dae later weer op straat is. Ons is nou op die punt om reg in eie hande te neem. Môre, oormôre, hoor julle van iemand wat hier vermoor is en ons wil dit nie hê nie, maar ons is moeg.
“Asseblief generaal (Sebastian) Ndeitunga, ek is op my knieë, asseblief ontplooi polisiebeamptes na Agtste Laan voordat iets gebeur.”

In die buurt is ook geen straatligte nie en vroue word volgens Tjiroze amper daagliks beroof.

“Ons vroue word beroof en leef met die vrees van verkragting. Ons voertuie is nie veilig nie, want die batterye, bande en radio’s word gesteel. Kan die munisipaliteit vir ons asseblief straatligte gee?”

Mnr. Brian Kanguatjivi wat in ’n rolstoel is, is ook amper beroof toe mense by sy sinkhuis inbreek het terwyl hy by die huis was.

“Hulle weet ek kan nie rondbeweeg nie, maar ek het die bure geroep en die diewe het weggehardloop.”

Mnr. Michael Matheus was op vakansie in die Noorde en met sy terugkoms het hy net ’n tafel oorgehad.

“Ek wil ’n beroep op die gemeenskap doen om nie die gesteelde goed te koop nie. Asseblief, as julle dit gaan aanhou koop, skep julle ’n mark en hulle sal aanhou om te steel.”

POLISIE REAGEER

Die betogers is op pad na die polisiekantoor voorgekeer en moes omdraai aangesien hulle nie die nodige prosedures gevolg het nie.

Volgens die woordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, moet mense wat ’n betoging wil hou dit skriftelik by hulle naaste polisiekantoor aanmeld.

“Hulle moet die vorm invul wat dan na die nodige departemente vir goedkeuring gestuur word. Solank hulle optog vreedsaam is, sal dit goedgekeur word.

“Die gemeenskap is kwaad oor die gewoontemisdadigers, maar hulle moet verstaan die polisie se werk is om misdaad te voorkom en te ondersoek, misdadigers in hegtenis te neem en aan te hou. Die hof gee borgtog, nie die polisie nie.”

“Die gemeenskap is gefrustreerd oor die gewoontemisdadigers wat ná ’n paar dae in die gevangenis weer op borgtog uit is. Hulle het dalk net iets van N$200 gesteel, en is weer vinnig op straat, dan dink hulle dit was nie so erg nie en breek weer in. Dit is ’n siklus wat gebreek moet word om ’n situasie soos in Agtste Laan te voorkom.”
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!