Iran en VSA: Beleggers gemaan om nie te oorreageer
Volgens Reuters wil dit lyk of dit ’n wêreldoorlog sal verg om ’n blywende impak op die finansiële markte te hê.
Geopolitieke konflik soos wat die wêreld die afgelope week tussen Amerika en Iran beleef het, het ’n kortstondige impak op markte.
Beleggers het die afgelope week twee keer gesien hoe die markte skerp reageer, maar pryse weer vinnig herstel.
Reuters berig dat Iran se aanval Woensdag op Amerikaanse weermagbasisse in Irak die goudprys tot bo $1 600 per fynons gedruk het, die Japanse jen met bykans 1% laat versterk het en die olieprys met bykans $3 per vat laat styg het.
Dié vlug na bates wat as beleggingstoevlugsoorde bekend staan, het egter binne ’n paar uur gekwyn en aandeelbeurse het weer begin styg.
Net ná Amerika se sluipmoord verlede Vrydag op genl.maj. Kassem Soleimani van Iran is dieselfde patroon gesien.
Dit volg ook op die uiters vinnige herstel in die mark in September verlede jaar toe rebelle, wat deur Iran ondersteun word, olie-aanlegte in Saoedi-Arabië aangeval het.
Teen die einde van die sluiting van die markte in Europa Woensdag het die Brent-ruolieprys weer herstel tot die vlak voor Soleimani se dood terwyl die S&P 500-indeks in Amerika tot ’n nuwe rekordvlak gestyg het.
Volgens Reuters wil dit voorkom asof dit ’n volwaardige wêreldoorlog sal verg om ’n blywende impak op die finansiële markte te hê. Dit lyk asof beleggers glo Washington en Teheran sal ’n groter konflik voorkom.
Konflik wat tot bepaalde gebiede beperk word, het die afgelope jare nie ’n blywende impak op die wêreld se olievoorraad of -pryse, of internasionale ekonomiese bedrywighede nie.
“Die mark se siening is gegrond op ’n dekade se ervaring dat dinge nie buite beheer gaan raak nie,” sê Kit Juckes, strateeg van Société Générale.
Volgens Rabbani Wahhab, senior portefeuljebestuurder van London and Capital, wys data van die afgelope paar dekades dat beleggers net na staatseffekte storm wanneer ’n uitgerekte oorlog ’n moontlikheid is.
Dreigende ontwrigtings in ruolie-verskaffing gooi al jare lank ’n skaduwee oor die wêreldekonomie. Die impak van konflikte op die olieprys het na die breër ekonomie en die wêreldmarkte uitgekring. Die olieprys herstel egter deesdae vinniger ná ’n skok, deels weens veranderings in die gebruik van olie asook in die bronne van olie.
Paul Donovan van UBS Wealth sê danksy tegnologiese ontwikkelings word baie minder olie vandag benodig om ’n dollar se BBP (bruto binnelandse produk) te produseer.
Izak Odendaal, beleggingstrateeg van Old Mutual Multi-Managers, sê hoewel die konflik tussen Iran en Amerika ongetwyfeld internasionaal onsekerheid veroorsaak, is ’n volskaalse oorlog onwaarskynlik.
Hy glo Amerika het min aptyt om ’n ander land in die Midde-Ooste binne te val terwyl hy steeds probeer om hom aan Irak en Afganistan te onttrek. Hy meen Iran is te klein en geïsoleerd om regstreeks teen Amerika op te staan.
“Wat waarskynlik is, is ’n voortsetting van en miskien eskalasie van voorvalle soos verlede jaar se aanval op Saoedi-Arabië se olie-aanlegte met hommeltuie, kuberaanvalle en ander meer nieregstreekse vorms van konflik.”
Hy meen die groter vraag vir beleggers is hoe die oliemark op die konflik gaan reageer.
Odendaal sê ondanks die styging in die prys van Brent-ruolie, stem die olieprys in rand steeds redelik ooreen met die gemiddelde vlak van 2019. Die Brent-ruolieprys is steeds binne die band van $55 tot $75 per vat waarin dit reeds die afgelope drie jaar verkeer.
“Ons moet in ag neem dat die wêreld as geheel baie minder energie-intensief is en daarom sal ’n herhaling van die ontwrigting van die olievoorraad van die ‘70’s nie soveel skade aanrig soos destyds nie.”
Volgens hom het risikovermyding deur beleggers daartoe gelei dat die rand met 20c teenoor die dollar sedert die begin van die jaar verswak het.
“Hoewel die kombinasie van ’n swakker rand en ’n hoër olieprys nooit goeie nuus vir Suid-Afrikaners is nie, is dit onwaarskynlik dat dit dié keer volgehoue hoër inflasie gaan meebring.
“Dinge kan natuurlik vinnig verander, maar tans is die mark se reaksie steeds relatief bedaard.
“Tensy dit tot ’n volwaardige oorlog eskaleer, het hierdie soort geopolitieke konflik selde ’n diep en blywende impak op finansiële markte en Suid-Afrikaanse beleggers moet daarteen waak om nie te oorreageer nie,” maan Odendaal.
Volgens Keith Wade, hoofekonoom van die internasionale batebestuurder Schroders, is verhoogde geopolitieke risiko geneig om beleggers weg te stuur van meer riskante bates soos aandele na bates wat as veilig beskou word.
“Dit het ’n negatiewe impak op die opbrengste in aandelemarkte, terwyl staatseffekte daarby baat vind, veral dié met ’n korter looptyd omdat hulle as die veiligste beskou word.”
Internasionaal verskuif beleggers ook hul geld van gebiede wat as meer riskant beskou word, soos opkomende markte, na ontwikkelde markte soos Amerika.
Die een meegaande grafiek wys hoe vier bateklasse (Amerikaanse aandele, internasionale aandele, goud en Amerikaanse staatseffekte) gedurende drie groot geopolitieke gebeure in 1990; 2001 en 2003 gevaar het.
Schroders glo beleggers sal oor die volgende jare met toenemende geopolitieke risiko worstel. Die batebestuurder glo verhoogde geopolitieke spanning is een van die onvermydelike werklikhede van die volgende dekade wat tot ontwrigting en groter wisselvalligheid in die markte gaan lei.
Die ander grafiek toon hoe die Amerikaanse Federale Reserweraad se indeks van geopolitieke risiko reageer op geopolitieke gebeure.
– Reuters, bygewerk deur Nellie Brand-Jonker/Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie