Iran gaan trekkeraanleg in Namibiu00eb oprig
Iran gaan trekkeraanleg in Namibiu00eb oprig

Iran gaan trekkeraanleg in Namibië oprig

Namibië en Iran het verlede week hul bande verstewig.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Iran gaan sy samewerking met Namibië verstewig en ontwikkelings­hulp op die gebiede van landbou, energie, water, konstruksie­ en die bankwese verleen.

Die Iran Tractor Manufacturing Company beplan ook om 'n trekker­monteringsaanleg naby Windhoek op te rig.

'n Groot Irannese afvaardiging gelei deur Iran se minister van buite­landse sake, mnr. Mohammad Javad Zarif, het vroeg Donderdag­oggend in Namibië aangekom vir samesprekings met regerings- en sakelui.

Die eerste hoëvlak- Irannese ekonomiese­ forum, wat deur dié land se ambassade in Windhoek gereël is, het ook met die Namibiese­ Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) oor sakegeleenthede vergader.

Die besoek was die laaste skof van Zarif en sy afvaardiging se toer na Suid-Amerika en Afrika ­waartydens hy eers Brasilië, Uruguay en Senegal aangedoen het voordat hy ­Donderdag in Namibië ­aangekom het.

Me. Netumbu Nandi-Ndaitwah, adjunk eerste minister en minister van internasionale betrekkinge­ en samewerking, het in 'n verklaring Iran se aankondiging van ondersteuning op die gebied van landbouproduksie en agribesighede verwelkom.

“Dié sektor is relatief produktief en ons voer produkte soos druiwe en beesvleis na die internasionale markte uit,” het sy gesê.

Oor Iran se besluit om 'n trekkermonteringsaanleg naby Windhoek op te rig, het sy gesê dit is tydig en sal werk skep, handel bevorder en die baie nodige oordrag van tegnologie bewerkstellig.



bilaterale samewerking

Nandi-Ndaitwah het voorts gesê die staatsbesoek het dit vir Namibië en Iran moontlik gemaak om hul vordering met bilaterale samewerking te evalueer en geleenthede­ vir groter samewerking in verskeie sektore te ondersoek.

Geen woord is egter tydens die twee ministers se gesamentlike nuuskonferensie Donderdag oor Iran se 15%-aandeelhouding in Rössing Uranium gerep nie.

Die twee ministers het wel tydens hul samesprekings die soeklig op internasionale politieke kwessies laat skyn, soos die jongste gebeure in die Midde-Ooste.

Zarif het Israel se onlangse aanvalle op mense in Palestina skerp veroordeel. Hy het ook benadruk dat politieke onderhandeling die enigste oplossing vir die krisis in Sirië is.

Hy het na die vermeende chemiese aanval op Douma in Sirië verwys en gesê “as een van die vernaamste slagoffers van chemiese aanvalle in die wêreld, het Iran nog altyd enige vorm van chemiese aanvalle veroordeel”.

Zarif het ook die situasie waarin die mense van Jemen verkeer, veroordeel en gesê die geveg teen terreur noodsaak die steun van almal in daardie streek.

Nandi-Ndaitwah het ook Namibië se steun aan die mense van Palestina­ beaam en die jongste aanvalle deur die Israeliese weermag veroordeel.

Sy het ook die gebruik van chemiese wapens in Sirië veroordeel en gesê pogings moet verskerp word om vrede en stabiliteit in dié land te herstel.

-Eie berig, asook Nampa en Mehr News Agency

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!