IRP2019 ‘plaas druk op transmissie-netwerk’
William Horne – Die jongste geïntegreerde hulpbronplan (IRP2019) wat Suid-Afrika se energiebloudruk tot 2030 uitstippel, maak vir soveel bykomende opwekkingsvermoë voorsiening dat die kragnetwerk moontlik nie sal kan bybly nie.
“Dit kan dié projekte se opwekkingsbydrae moontlik neutraliseer,” sê Ronald Marais, senior bestuurder: strategiese kragnetwerkbeplanning van Eskom se transmissie-afdeling.
Marais het Donderdag die impak van IRP2019 op Eskom se 10-jaar-transmissieontwikkelingsplan bespreek. Eskom se transmissie-afdeling sal volgens Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, se planne binnekort uit Eskom ontknoop word.
Marais sê Eskom Transmissie se doeltreffendheid hang daarvan af dat beplanning deurlopend tien jaar vooruit gedoen word.
Die huidige ontwikkelingsplan is op die 2018-konsepweergawe van die IRP gegrond. Die finale IRP wat twee weke gelede in die Staatskoerant gepubliseer is, verskil egter heelwat hiervan deurdat ’n bykomende 4 118 MW se nuwe opwekkingsprojekte nou in dié tienjaartydperk bygevoeg is.
Dit bring die totale nuwe opwekkingsvermoë oor tien jaar op 11 600 MW te staan. Altesaam 93% hiervan sal wind- en sonkrag en batteryprojekte wees, wat eiesoortige eise aan die kragnetwerk stel.
Nie net het heelwat meer opwekkingsvermoë bygekom nie, maar baie van die projekte wat reeds verlede jaar voorsien is, moet nou vinniger voltooi word. Die meeste van dié projekte is hernubare krag wat baie vinniger gebou kan word as wat Eskom Transmissie sy infrastruktuur kan uitbrei.
“Dit is baie, baie moeilik om sonder genoeg waarskuwing bykomende transmissie-infrastruktuur vir sulke projekte te bou.”
Suid-Afrika se kragnetwerk is tans opgestel om hoofsaaklik krag uit die noorde – waar die groot steenkoolkragstasies is – na die res van die land te vervoer.
Hernubarekragprojekte word egter veral in die suide en die weste van die land aangelê.
Marais sê daar was minder hernubarekragprojekte in die konsep-IRP en gegrond op die transmissie-afdeling se beplanning was daar voldoende transmissievermoë om dit aan die netwerk te koppel.
Hernubare krag, soos son- of windkrag, is reeds moeilik om te koppel weens die baie meer verspreide aard van die soort opwekking in vergelyking met enorme steenkoolkragstasies. Met voldoende beplanning is dit moontlik. Maar as daar ingevolge die IRP2019 baie vinnig heelwat sonkragopwekkers opgerig word op plekke waar die kragnetwerk tradisioneel beperk is, “kan ons al daardie opwekking basies neutraliseer,” sê Marais.
Dit is dus noodsaaklik dat die departement van minerale bronne en energie en alle belanghebbendes ten nouste saamwerk om te verseker projekte word net gebou waar die kragnetwerk dit kan hanteer of vinnig genoeg aangepas kan word.
Sonder dié soort samewerking kan Eskom Transmissie doodeenvoudig nie voorsiening maak vir die IRP se projekte nie, want hy het minstens sewe jaar nodig om hoogspanningsdrade te beplan en te bou. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie