Is dit die einde vir Patrick Lambie?

Rugby
Tinus van Staden - Die Haaie het Maandag bitter min inligting oor die erns van Patrick Lambie se besering bekend gemaak, maar 'n mens kan aanneem sy loopbaan is in die weegskaal.

Lambie het Saterdag in die Haaie se Superrugby-stryd teen die Southern Kings in Port Elizabeth die veld met harsingskudding verlaat.

Hy het nie Maandag saam met sy spanmaats na Singapoer gereis vir hul kragmeting met die Sunwolves nie.

Luidens 'n verklaring van die Haaie is hy as voorsorgmaatreël by die huis gelos, omdat hy al voorheen erge harsing­skudding opgedoen het en die bestuur nie met hom wil waag nie. Dit is die derde keer sedert die begin van 2016 dat dit met hom gebeur.

Lambie het die grootste gedeelte van verlede seisoen met erge harsingskudding misgeloop. Daar was toe reeds sprake dat sy loopbaan in die weegskaal was.

Spelers soos die voormalige Matie-kaptein Beyers de Villiers en die voormalige All Black-slot James Broadhurst het vroeër vanjaar hul stewels weggebêre nadat hulle ver­skeie kere harsingskudding opgedoen het.

Daar is ook nog slegte nuus vir die span van Durban. Die binnesenter, Jeremy Ward, wat in die geskorste André Esterhuizen se afwesigheid skaflik in die middelveld vertoon het, sal vir tot ses weke op die krukkelys wees.

Ward het sy neus gebreek en moet geopereer word.

Daarbenewens reis die heelagter Rhyno Smith ook nie saam nie. Hy het sy boarmspier geskeur en moet 'n spesialis sien wat sal vasstel hoe lank sy herstelproses gaan duur.

Die Haaie se agterlyn is dus baie uitgedun. Garth April en Benhard Janse van Rensburg is die los­skakels in die toergroep, maar April kan moontlik op heelagter ingespan word met Janse van Rensburg wat die nr. 10-trui kan dra.

Robert du Preez, die Haaie se breier, het nie 'n erkende heelagter by sy groep ingesluit nie. 'n Ander moontlikheid is dat die Bok-vleuel Lwazi Mvovo in die laaste vesting ingespan kan word, met Sbu Nkosi en Kobus van Wyk op die vleuels.

Die Namibiese senter Johan Deysel behoort in Ward se plek op binnesenter te begin met die oud-Blitsbok S'bura Sithole op die plaasvervangersbank.

Die Bok-stut Coenie Oosthuizen word ook 'n ruskans gegun ingevolge die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se reëls wat Springbokke se speeltyd betref.

• Toergroep: Voorspelers: Chiliboy Ralepelle, Daniel du Preez, Etienne Oosthuizen, Franco Marais, Jacques Vermeulen, Jean-Luc du Preez, John-Hubert Meyer, Juan Schoeman, Lourens Adriaanse, Philip van der Walt, Ruan Botha, Stephan Lewies, Beast Mtawarira, Tera Mtembu, Thomas du Toit. Agterspelers: Benhard Janse van Rensburg, Cobus Reinach, Garth April, Johan Deysel, Kobus van Wyk, Lukhanyo Am, Lwazi Mvovo, Michael Claassens, S'bura Sithole, Sbu Nkosi. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!