Is jy die volgende Supra-vrou?

Die Mej. Supranational-kompetisie vind op 3 Oktober vanjaar by Droombos in die hoofstad plaas en die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 14 Augustus om 17:00.
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg - Vir die eerste keer gaan Namibië sy eie Mej. Supranational Namibië-kompetisie aanbied. Die wenner van dié kompetisie gaan Namibië by die internasionale Mej. Supranational-kompetisie verteenwoordig.

Mej. Supranational is ’n internasionale skoonheidskompetisie waar skoonhede van verskillende lande gaan meeding om as die algehele wenner gekroon te word.

Dit is gelykstaande aan die Mej. Heelal- en Mej. Wêreld-kompetisie.

“Ons is op soek na ’n deelnemer wat aan al die Mej. Supranational vereistes en standaarde voldoen. Die ‘Supra woman’ is ’n vrou met natuurlike skoonheid wat onder andere nederig, goedhartig en charismaties is met die behoefte om werklik ’n verskil in die wêreld te maak. Sy moet ten minste 1,65 m lank en tussen 19 en 29 jaar oud wees,” sê mnr. Willem Fourie, die nasionale direkteur van die Mej. Supranational Namibië-kompetisie.

Refinery Namibia is ’n modelagentskap met sewe jaar se ondervinding in dié bedryf. In 2019 is die regte vir die Mej. Supranational Namibië franchise aan hulle gebied, maar die tyd was te min om ’n kompetisie te reël. Die keuse is gemaak om Yana Haenisch, wat onder die top-5 van Mej. Namibië 2019 was, as verteenwoordiger na die internasionale kompetisie in Pole te stuur.

Haenisch het met drie maande se opleiding en voorbereiding teen 74 ander lande meegeding, waar sy tweede gekom het.

Mej. Supranational het ook vanjaar die From the Ground Up-initiatief begin wat juis daarop fokus om ’n werklike verskil in die gemeenskap te maak. Hierdie inisiatief ondersteun gemeenskapswerk en projekte van die deelnemers met die hoop om hierdie projekte nie net plaaslik uit te brei nie, maar ook internasionaal.

Die kompetisie vind op 3 Oktober vanjaar by Droombos in die hoofstad plaas en die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 14 Augustus om 17:00.

Die kompetisie sal ook regstreeks uitgesaai word.

As die huidige Mej. Supranational Namibië, glo Haenisch dit is belangrik vir ’n skoonheidskoningin om ander lief te hê, maar ook haarself.

“Jy moet vertroue in jouself hê en dit waarin jy glo en bereid wees om die ekstra myl te loop, al voel dit of jy jou alles reeds gegee het. Jy moet goedhartig wees, ’n goeie sin vir humor hê en bewus wees van wat om jou aangaan.”

Haenisch het in slegs drie maande saam met die span van Refinery gewerk om vir die internasionale kompetisie voor te berei. Dit het veelsydige voorbereiding en opleiding gekos om seker te maak sy is gereed vir die kompetisie.

“Ek wil ander dames aanmoedig om uit hul gemaksone te beweeg en hul uniekheid met ons te deel. By Mej. Supranational Namibië wil ons jou sien skitter en jou talente met die wêreld deel. Hierdie is werklik ’n eenmalige geleentheid waar jy soveel ervaring en persoonlike groei beleef en ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap maak,” het Haenisch gesê.

Haenisch sê dit is ’n ongelooflike voorreg om Namibië op ’n internasionale verhoog te verteenwoordig. “Namibiese dames het die talent om ons land internasionaal te verteenwoordig, so skryf in en wys die wêreld wie jy is. Deur hierdie proses het ek soveel nuwe vriendskapsbande gesmee en die geleentheid gekry om ander te help; dit beteken die wêreld vir my.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!