Is jy gebou om te hou?

'n Internasionale organisasie in die sport word nou ook in Namibië verteenwoordig.
Jeanette Diergaardt
Jeanette Diergaardt – Die Global Bodybuilding Organisation (GBO) het sy verskyning in Namibië gemaak en die plaaslike verteenwoordiger hou volgende maand sy eerste groot kompetisie.

Riaan Grobler, die direkteur in Namibië van GBO, het die Titans Elite 2021-kompetisie vir 27 November gereël. Die kompetisie sal by Parkies se skoolsaal gehou word en al die gespierde manne en vroue in die land het nog kans om hul inskrywings in te handig.

Volgens Grobler is dit iets groots vir Namibië om 'n internasionale liggaamsbou-organisasie soos GBO by die reëlings van die kompetisie betrokke te hê. “GBO is een van die vinnig groeiende organisasies wêreldwyd,” sê Grobler.

Die kategorieë en reëls van die kompetisie sal volgens die GBO se internasionale standaard wees.

Vir mans én vroue sal daar drie afdelings wees om in mee te ding. Vir die mans is daar 'n relatiewe nuwe afdeling vir die beginners, naamlik die jeans-modelafdeling. “Dis nie vir die groot manne nie, maar vir die mooi manne,” sê Grobler.

Dié afdeling is gemik op mans wat fotogenies is en wat met vertroue kaalbors in 'n jean kan rondloop.

Die tweede “strenger” kategorie is vir die strandlywe, wat heelwat meer oefening van die deelnemers verg. Die mans se spierdefinisie is hier die groot toetskriteria.

Die laaste afdeling, mansfiksheid, is waar die getrouste liggaamsbouers deelneem. Elke spier moet in dié afdeling sigbaar wees en hoe meer spiere, hoe beter.



VROUE

Vir die vroue is daar 'n afdeling vir swempakmodelle, gemik op vroue in die beginstadium van liggaamsbou. Hier gaan dit nie soseer oor spierdefinisie nie, maar wel welgevormde spiere en lywe.

Die strandlyfafdeling vir vroue verg opnuut 'n hoër vlak van spierdefinisie en 'n liggaam in proporsie, met die vrouefiksheidsafdeling die kategorie vir die gevestigde liggaamsbouers.

“Die posering van die deelnemers is belangrik, om jou beste eienskappe vir die beoordelaars ten toon te stel,” sê Grobler. “In die fiksheidafdelings moet jy weet wat jy doen.”

Manne en vroue in die fiksheidafdelings staan die kans om in internasionale kompetisies deel te neem.

Sover is reeds meer as 40 inskrywings vir die kompetisie ontvang. Kategoriewenners staan 'n kans om pryse ter waarde van N$7 000 te wen. In die prys is 'n gimnasiumlidmaatskap, 'n aanvullingspakket, sowel as geskenkbewyse en natuurlik 'n trofee vir die wenner.

Die beoordelaars gaan eksamens skryf om te kwalifiseer en sal bestaan uit 'n modelagent, 'n huidige kompeterende liggaamsbouer asook 'n voormalige liggaamsbouer.

Die kompetisie is vir enigiemand wat hul lywe wil verbeter. Diegene wat nog nie in November hul liggame gereed vir die verhoog sal hê nie, kan altyd hul mikpunt vir die volgende groot kompetisie in April stel. Nader aan dié kompetisie sal slypskole aangebied word, sowel as voorlopige beoordeling.

Vir meer inligting: https://gbonamibia.com/

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer