Is stygende kospryse ons voorland?

Karin Eloff
Johan Willemse – Die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) het onlangs onder kritiek deurgeloop weens sy besluit om die repokoers – en dus effektief ook banke se uitleenkoerse – te verhoog.

Die kritiek het veral verband gehou met die steeds trae ekonomiese groei en die feit dat inflasie onder die boonste perk (6%) van die Reserwebank se inflasieteikenband is. Ter motivering van sy besluit sê die MBK sy modelle wys dat inflasie in ’n opwaartse tendens is en dat hy voorkomend wil optree.

Inflasie het volgens die verbruikersprysindeks (VPI) intussen effens toegeneem – van 5,1% tot 5,2% – en die ekonomie het in die derde kwartaal gegroei. Dit word egter nie juis as die begin van ’n groot herstelfase beskou nie.

Voedselinflasie is ook aan die styg en het in November ’n bydrae van 0,6 persentasiepunt tot inflasie gelewer.

Sakevertroue is swak en die meeste klein en middelslag ondernemings se omset en wins het die afgelope jaar taamlik gedaal en die druk neem toe.

Voedselinflasie en geadministreerde pryse is twee van die groot drywers van die VPI en nie een van die twee word juis deur hoër rentekoerse beïnvloed nie. Voedselinflasie dra ’n gewig van 15,48% in die inflasie-mandjie en as jy nie-alkoholiese drank bytel, is die gewig 17,24%.

Die impak van die weer

In die verlede het ons gesien droogte en swak oeste (en ’n swak rand) laat voedselinflasie vinnig styg en redelik hoog draai – wat algemene inflasie verhoog, en dus die risiko van verdere rentekoersverhogings.

Daar is tans aanduidings dat voedselinflasie gaan toeneem. Soos sake tans staan, is daar ’n risiko van swak landbou-toestande in die somerreënvalgebiede vir 2019, wat reeds sy aanloop toon in die eerste deel van die somerseisoen van 2018-’19.

Natuurlik kan sake vinnig verander, veral as ons oor die weer- en reënval-vooruitsigte praat, maar toestande is tans kritiek.

Weerkenners meen ons beweeg weer in ’n El Niño-fase in, wat in die tweede helfte van die huidige somer sy draaipunt gaan bereik.

Die El Niño/La Niña-weersverskynsel het ’n belangrike invloed op reënval in Suider-Afrika.

Die El Niño-fase word geassosieer met ondergemiddelde reënval en hoër as normale temperature in die somerreënvalgebied en ’n natter weerpatroon in die winterreënvalgebied. La Niña volg die omgekeerde patroon.

In die afgelope twee somerreënvalseisoene was ons in ’n swak La Niña-fase wat goeie oeste en weidings laat realiseer het ná die vernietigende El Niño-droogte van 2015.

Die meegaande grafiek toon die reënval soos gemeet buite Bothaville – ’n middelpunt van somergraanproduksie. Dit wys die kumulatiewe reënval van September tot einde November sedert 2012. Dit is ’n kritieke tyd vir die aanvang van saaityd vir somergraanoeste en gee ’n baie goeie idee van die soort oeste wat ’n mens kan verwag.

Saaityd

Die afgelope paar somermaande is van die droogste in die onlangse geskiedenis. Daar is boere wat sê hulle het die laagste reënval in 50 jaar op hul plaas gemeet vir dié kritieke maande.

Met die publikasie van dié artikel is die oostelike somersaaigebied verby sy saaityd (vir ’n normale jaar) en in die sentrale/westelike saaigebiede is daar nog twee tot drie weke oor.

Natuurlik kan die weerpatroon vinnig omswaai, maar in dié stadium is dit taamlik seker dat ons mielie-, sojaboon- en grondboonoeste heelwat kleiner gaan wees as die vorige twee jaar se goeie oeste.

Graanmarkte verdiskonteer reeds heelwat kleiner oeste en selfs die moontlikheid van tekorte en invoer. Die witmielieprys het byvoorbeeld in die maand tot 13 Desember met sowat 23% gestyg.

Weidings is gedaan en waterskaarste word oral op die platteland ervaar.

Die potensiaal vir ’n baie swak jaar word by die dag erger, wat baie slegte gevolge kan hê. Eerstens gaan graanpryse styg, asook die prys van groente en waarskynlik somervrugte.

Dit gaan voedselinflasie opjaag en dus ook algemene inflasie, asook die koste van voer vir intensiewe veebedrywe. Verdere droogteslagtings in die veebedryfgaan die herstelfase langer uitrek.

Groot voedselverwerkers gaan erge kostedruk ervaar en dit is onvermydelik dat prysstygings gaan toeneem.

Daar is hoogstens drie weke oor (om te saai) en dan moet daar in die res van die seisoen hoër as normale reënval wees om ’n swak landbou jaar af te weer, met die gepaardgaande negatiewe gevolge vir alle Suid-Afrikaners.

· Prof. Johan Willemse is ’n landbou-ekonoom van Agrimarkconsultants en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-kompetisie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!