Is Windhoek se naam in die wind?
DR. W M J HUGO SKRYF:
Windhoek het sy naam meer as een en 'n driekwart eeu gelede gekry. In die tyd het vier regerings daar uit die hoek van die berge die land regeer en steeds is Windhoek nog altyd Windhoek. Vanselfsprekend is daar oor die jare om baie kampvure vanaf die groot Suide tot in die verre Kaokoveld soms met dankbaarheid en soms met wrewel na dié setel van gesag verwys.
Die geselskap om hierdie vuur is ietwat somber, want dit gaan oor naamsveranderinge van dorpe, stede, strate en geboue. Die vrolikheid van die wingerdstok het nog nie begin posvat nie en die manne praat so bietjie in die wind.
Noodwendig word die gewone negatiewe argumente - “die verandering van plekname en straatname is sleg vir toerisme, verwar die inwoners, beïnvloed die ekonomie negatief en les bes, laat jou 'n vreemdeling in jou eie dorp of stad voel” - herhaal.
Vra ek toe sommer so uit die dwarste uit: “Kêrels as ek nou vandag vanaf Aichams oor Swartmodder na Olyfenhoudtsdrift reis, waar in die wêreld sal ek my bevind?” Ek sien die aanvanklike verbystering en toe die oortuiging van: die oom is deur die wind, hy het sy laaste varkie verloor. Veral toe ek sê: “Ek is nou in Upington en ek het van Windhoek af deur Keetmanshoop gereis.”
NIKS NUUT
Die punt wat ek wil maak, is dat verandering van plekname en straatname al dekades voorkom, ook hier in Namibië. Name is mos maar geneig om te verander soos die politieke winde waai. Namibië het, na my mening, meestal oordeelkundig naamsveranderinge aangebring en nie die algemene neiging in onafhanklike Afrika nagevolg om sommer net name uit die wind te gryp nie, soos wat ons buurland gedoen het.
Trouens, ek vind van die nuwe straatname in Windhoek fassinerend uit 'n histories-kulturele hoek gesien. Wie was Mandume Ya Ndemufayo? Was dit die Ovambo-koning en vegter wat Jan Smuts se panserkarre in die wind geslaan het? En wat is die verband tussen hierdie staatsman en die obelisk wat by die ou Bahnhof in Windhoek opgerig is?
En wat van Hosea Kutako? Hopelik was hy nie die eerste vlieënier van Air Namibië nie. Nee, hy was 'n vegter van formaat, maar bo alles die man wat die Herero-nasie na die fatale bewind van die opperhoof Samuel Maherero, deur visionêre leierskap, weer hulle eenheid en trots teruggegee het.
Dan is daar ook “General Murtala Muhammed"-rylaan in Eros, sweerlik nie na 'n Namibiër vernoem nie. Ook hierin is 'n fassinerende storie, maar die naam is so vreemd dat selfs die padkaarte van die Windhoekse brandweer onlangs nog na die ou Omurambaweg verwys het.
Mens moet nie senuweeagtig raak as daar gebroei word oor naamsverandering van dorpe en stede nie. Soms verander die name wel weer terug.
HEEN EN WEER
In Angola is Lubango verander na Sá da Ban Deira en toe weer terug na Lubango. In Mosambiek was Maputo eers Maputo, toe Baia da Lagoa, toe Delagoabaai toe Lourenço Marques en toe weer Maputo.
Soms wil die naamsverandering eenvoudig nie posvat nie. Pretoria worstel nou al meer as 'n dekade om Tswane te word en net die advokate word ryk uit die twis.
Hier te lande het ons mos eers Angra Pequena, toe Lüderitzbucht, toe sommer net Lüderitz en nou, so verstaan ek, !Nami#Nus. Tóg sê ons nog steeds Lüderitz, want ons kan nie eintlik anders nie en die posmense weet darem waarheen om die briewe te stuur.
En Windhoek? Is Windhoek se naam ook in die wind?
Ons weet van die DTA se voorstelle vir naamsverandering van die hoofstad gedurende 2005 en die reaksie daarop. Tog het Windhoek se naam deur die eeue ook al verwissel.
TUSSEN WINTER EN WIND
Dié plek by die warmbronne in die hoek van die berge was al /Ai//Gams, Otjomuise, Barmen, Queen Adelaide Bath (die hemel behoede ons!) en toe in 1840 eers Windhoek. Is die naam Windhoek sommer ook uit die wind gegryp?
Die bekende historikus Vedder beweer dat hierdie stad in die skuiling van die Auasberge vernoem is na die Winterhoekberge naby Tulbagh waar Jager Afrikaner, voorvader van Jonker Afrikaner, gebore is. Doc Immelman, in een van sy rubrieke in die Republikein, betwyfel hierdie standpunt en is meer ten gunste van dr. D C Conradie, oudadministrateur van Suidwes-Afrika, se standpunt dat die naam verband hou met 'n plaas in die Calvinia-distrik met die naam Windhoek, waar die Oorlam Afrikaners 'n slag verby gekom het.
Hierdie standpunte klink vir my ietwat geforseer om die minste te sê. Daar moet 'n meer logiese verklaring wees.
/A//Gams beteken vuurwater en Otjomuise plek van stoom, en dit maak sin in die lig van die warmbronne in Klein Windhoek. Hoekom nou so 'n vernoeming van jou grootoupa se blyplek, wat jy nooit bewoon het nie, en boonop honderde kilometer suid is? Of meer onwaarskynlik, sommer net 'n vernoeming na 'n plaas in die Hantam, omdat daar 'n vae verbintenis met die Afrikaner-stam se voorgeslagte bestaan?
Die naam Windhoek moet na my mening verband hou met die wind. Of dit nou die wind is wat dikwels daar in die hoek van die berge waai, of dit dan nou eenvoudig is omdat Jonker Afrikaner die ou stigter self ietwat winderig gevoel het die dag toe hy die plek vernoem het, dit weet mens nie. Logies gesien moet die wind 'n rol speel in die naamgewing. Dus: Windhoek se naam is van die wind!
Ek lees onlangs in die briewekolom van die Republikein dat iemand die stelling maak dat Jan Jonker Afrikaner die persoon is wat Windhoek sy naam gegee het. Hierdie skrywer is in goeie geselskap, want in sommige Google-doolhowe word die standpunt ook bevestig. En les bes, die nimlike Doc Immelman sit in hierdie verband ook die pot mis in een van sy rubrieke. (Hy sou my sekerlik die uitdrukking verskoon het).
Mens kan spekuleer oor die naam of die oorsprong van Windhoek, maar historiese feite kan jy nie in die wind slaan nie.
Jonker Afrikaner het in 1840 Windhoek gestig en sy naam gegee. Jan Jonker Afrikaner, sy seun, was toe 'n natneus wat in Windhoek by eerwaarde Kleinschmidt skoolgegaan het. Hy was nie eers die die tradisionele troonopvolger van Jonker Afrikaner nie.
Boonop, toe hy aan bewind gekom het, na Christiaan sy broer se dood, was hy nie 'n skaduwee van sy krygervader nie. Daarom kon Jan Jonker Afrikaner nie, en het nie aan Windhoek sy naam gegee nie. Hy word trouens onthou as die oorsaak van die vernietiging en tragiese einde van die Afrikaner-dinastie.
Nou bly die vraag, waarom is daar dan 'n Jan Jonkerstraat in Windhoek? Boonop is dit nie 'n doodloopstraat nie. Was die stadsvaders ook deur die wind?
Die straat moes eintlik Jonker Afrikanerstraat geheet het as die stigter vernoem moes word. Maar nou verstaan ek ook dat “Afrikanerstraat” nie eintlik gewild as 'n naam kan wees nie terwyl “Jonkerstraat” nie die nodige historiese verbintenis weergee nie. Gevolglik leef ons nou in Windhoek maar saam met 'n straatnaam wat ook half in die wind is.
Dus, Windhoek is nog altyd Windhoek en dit gaan voor die wind met ons pragtige hoofstad hier in Namibië. Maar, die winde van verandering waai nog deur Afrika en name verander steeds.
Kan Windhoek se naam verander? Nie in my leeftyd nie, soos Ian Smith destyds gesê het.
Nou moet ek dadelik toegee my leeftyd is al in daardie deel waarvan die Woord sê dat ek “baie sterk is”. So, as een of ander regering in die toekoms met die winde van Afrika saam waai, dan is Windhoek se naam dalk ook nog in die wind.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie