Isap verwerp hokaairoeper se beweringe
Isap verwerp hokaairoeper se beweringe

Isap verwerp hokaairoeper se beweringe

Die omgewingsministerie se woordvoerder het ontken dat Intelligence Support Against Poaching uit hul kantore geskop is.
Sanet de Waal
Francoise Steynberg – Die uitvoerende hoof van Intelligence Support Against Poaching (Isap), mnr. Fritz Kaufmann, het alle beweringe ontken wat Sondag op die Facebook-blad Project Whistleblower Namibia geplaas is.

Beskuldigings is gemaak dat Isap in 2019 skenkings van meer as N$2 miljoen ontvang het, salarisse van N$1,4 miljoen betaal het, met twee mense wat N$500 000 elk ontvang het, maar hul uitgawes vir teenstropery was slegs N$90 000.

Beweringe is ook gemaak dat Isap uit die hoofkantoor van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme geskop is waar hulle gestasioneer was.

Dit is deur die woordvoerder van die ministerie, mnr. Romeo Muyunda, ontken.

“Isap het geen kontraktuele of operasionele ooreenkoms met die ministerie nie. Hulle moet self op die beweringe reageer,” het Muyunda aan Republikein gesê.

Kaufmann het hierop gereageer en gesê dit het tydens 2018 en vroeg 2019 duidelik geword dat Isap bykomende ruimte benodig om die organisasie se bedrywighede te huisves en alternatiewe persele is gevind.

“Isap het in hierdie verband kennis aan die omgewingsministerie gegee. Daar was geen uitsetting uit die ministerie se kantoor nie en ons gaan voort om saam te werk in sake van gedeelde belang,” het Kaufmann gesê.

Wat die skenkings van meer as N$2 miljoen betref, sê hy dit is ontvang vir die konstruksie van die Isap-fasiliteit in die Otjozondjupastreek.

“Die skenkers het die bou van ’n fasiliteit vir opvoedkundige opleiding en omgewingsbewusmakingsdoeleindes goedgekeur. Dit word in fases gebou en die eerste twee fases is volgens die skenkers se versoeke voltooi en oop om enige tyd te besoek,” het Kaufmann gesê.

Rakende die salarisse van N$1,4 miljoen in 2019, sê hy personeelkoste sluit die salarisse van die konstruksieprojekbestuurder en bedryfshoof in wat verantwoordelik was vir alle projekte, fondsinsamelings, koördinering en beplanning van teenstropery in, asook skakeling met die regering en terugvoering aan skenkers.

Oor die bewering van slegs N$90 000 wat vir teenstropery gebruik is, kap Kaufmann terug: “Isap as ’n organisasie is meer as slegs lugwaarneming en algemene inligtingsondersoeke.”

Oor die beweringe dat “die res na die onderhoud van die vliegtuig gaan wat meer ’n las as ’n bate is,” sê Kaufmann die jaarlikse onderhoudskoste van die vliegtuig is sowat N$150 000.

“Die vliegtuig het sedert dit aan Isap geskenk is 'n belangrike rol in verskeie soektogte na wildlewe gespeel,” sê Kaufmann.

“Daarbenewens is die vliegtuig ook gebruik in gesamentlike teenstropery-aktiwiteite met die Namibiese polisie.”

Hy sê die vliegtuig is 'n bate wat reeds sy waarde bewys het en dit sal so voortduur.

“Sonder die vliegtuig sou geen langafstand lugwaarnemingsaktiwiteite moontlik wees nie en teenstropery in die uitgestrekte Namibiese landskap sou ernstig belemmer word,” sê hy.

Volgens Kaufmann sal eksterne oudits binnekort voltooi wees.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!