Israelse argeoloë vind ‘skat’ in Dooie See-grotte

Yandi Du Plessis
Israelse argeoloë wat in ’n stryd gewikkel is teen skattejagters om grotte naby die Dooie See te deursoek, het ’n verskeidenheid artefakte ontdek, insluitende die fragmente van ’n Bybelse teks wat dekades lank nie gesien is nie.

Dié vondste, wat danksy die warm en droë lug van die Judese woestyn behoue gebly het, sluit ook in die 6 000 jaar oue geraamte van ’n kind en ’n perfek geweefde mandjie van 10 500 jaar gelede, in ’n uitstekende toestand.

Die Israelse oudhede-owerheid meen dié artefakte is waarskynlik van die oudste in die wêreld.

Die argeoloë het ’n opname gedoen van meer as 100 km se kranse en die grotte wat daarin gevorm is.

Die fragmente met die Bybelvers daarop (sowat 2 000 jaar oud) is in Grieks geskryf. Dit stem ooreen met ’n boek wat 60 jaar gelede ontdek is getiteld “Book of the 12 Minor Prophets”.

Die boek is een van die antieke Joodse tekste genaamd die Dooie See-rolle, wat in 1947 deur plaaslike Bedoeïene gevind is in die grotte van Qumran, ongeveer 20 km oos van Jerusalem.

Die versameling, wat tekste insluit wat elders langs die westelike oewer van die Dooie See ontdek is, bied ’n kykie in die Joodse samelewing en godsdiens voor en ná Jesus se tyd.

Na dié ontdekking is daar verder gesoek, maar die soektog het uiteindelik doodgeloop, totdat stukke van die boeke en perkament onlangs op die swartmark beskikbaar was.

Die moontlikheid dat skatrowers nuwe skatte ontdek het, het die regering weer tot aksie gedryf.

Sedert 2017 abseil rowers langs kranse af en maak hulle van hommeltuie gebruik om honderde grotte en holtes te fynkam en uit te merk.

Die nuwe fragmente van die manuskrip is in die “Cave of Horror” gevind. Jare gelede het die grot die 1 900 jaar oue geraamtes opgelewer van die Joodse rebelle wat teen die Romeinse Ryk geveg het.

Oren Ableman van die oudhede-owerheid se afdeling vir Dooie See-rolle sê dit wat gevind is, is nuwe stukke van die legkaart wat bydra tot ’n groter prentjie van hoe dit was gedurende die betrokke tydperk, sowel as van die tekste.

“Hoewel die stukkies klein is, het dit nuwe inligting gebied waarvan ons nie voorheen bewus was nie.

“Met die fragmente kon ons 11 lyne van die teks aanmekaarsit. Dit het ook insigte gelewer oor die perkament waarop die teks geskryf is.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!