'Italiaanse dokters' se sluwe slenter
'n Lodgebestuurder in die Kunenestreek waarsku mense om nie sommer enigiemand blindelings te vertrou nie.
Francoise Steynberg - 'n Lodgebestuurder van die Kunenestreek was die slagoffer van “Italiaanse dokters” se sluwe slenter.
Die lodgebestuurder het sowat twee weke gelede 'n oproep van ene dr. Emmanuel Augello ontvang, wat beweer het hy is deel van 'n groep professionele dokters wat op 'n jagtog in Namibië is.
Voordat hulle na Italië sou terugvlieg, wou hulle glo graag drie aande by dié lodge oorbly.
“Ek het net 'n paar woorde met die man gewissel en toe is die foon aan die sogenaamde professionele jagter oorhandig. Die jagter het Afrikaans gepraat en my mooi gevra om vir die dokters 'n reisplan vir die volgende drie dae uit te werk sodat hulle hul laaste paar dae in ons land kan geniet,” sê die lodgebestuurder.
Die “dokters” het daardie aand glo by die Brandberg oorgeslaap en sou die volgende oggend na die lodge in die Noordweste vertrek.
“Die volgende oggend het ek vroeg 'n oproep van hulle ontvang om my te vra ek moet tog maar my foon byderhand hou ingeval hulle hulp sou nodig hê.
“Die professionele jagter het hulle glo verlaat en is terug jagplaas toe en die 12 'dokters' was in hul drie wit dubbelkajuitbakkies op pad,” vertel die lodgebestuurder. Teen 09:00 het ek 'n oproep van die 'dokter' ontvang om my te vertel hulle staan langs die pad en hulle wil graag edelstene koop.”
Die “dokters” het glo net euro's in hul besit gehad en die man wat die stene verkoop, wou glo nie euro's hê nie. “Die foon is aan die man met wie ek Afrikaans gepraat het, gegee. Om die 'dokters' te help, het ons namens hulle N$5 000 via eWallet aan die man oorbetaal. Die stene het N$8 000 gekos en ek het toegelaat dat hulle die oorblywende N$3 000 uit my persoonlike eWallet trek deur vir hulle 'n pinnommer te stuur.”
Teen 15:00 het die “dokters” steeds nie op Opuwo opgedaag waar hulle namens die lodge 'n bestelling van 'n supermark sou afhaal nie.
VOERTUIG GLO ONKLAAR
“Ek SMS toe die 'dokter' om te hoor hoe hul reis vorder en is toe vertel die een voertuig het naby Kamanjab gebreek. Weer eens wou die sogenaamde persoon wat die kar sou regmaak, nie euro's aanvaar nie, maar gelukkig kon ek nie vir hulle nóg geld oorbetaal nie, aangesien die perk N$5 000 per dag is,” sê die lodgebestuurder.
“Die man het ongeduldig met my begin raak. Hy het gesê ek is veronderstel om hulle te help; ek kan hulle nie langs die pad los nie.”
Die lodgebestuurder het toe probeer om die voertuie se registrasiemerke na te gaan met die hulp van 'n vriend in die Kaap, aangesien dit CA-regisrasiemerke was.
“Ek was geskok toe my vriend my meedeel dat die registrasiemerke glad nie aan die dubbelkajuitvoertuie behoort nie!”
Die “dokters” het nooit by die lodge opgedaag nie en die lodgebestuurder het nie die geld van hulle af teruggekry nie.
“Ek het 'n bedrogklag by die polisie aanhangig gemaak en wag nou om te hoor of hulle dalk die mense sal kan vastrek deur middel van die kringtelevisiekameras by die outobank waar die geld uit die eWallet getrek is.”
Die lodgebestuurder maan die publiek: “Vir my was dit 'n bitter les gewees. As ek nou terugdink, is ek half skaam dat ek die mense so blindelings vertrou het.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie