Ivermektien: Hoop hier nu00e1 SA ommeswaai
Ivermektien: Hoop hier nu00e1 SA ommeswaai

Ivermektien: Hoop hier ná SA ommeswaai

Mediese rolspelers is steeds versigtig om te verklaar dat die middel geskik vir gebruik teen Covid-19 is.
Elvira Hattingh
Jana-Mari Smith – Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) se aankonding Woensdag dat dit die beheerde gebruik van ivermektien vir menslikheidsredes vir Covid-19 pasiënte sal toelaat, het hoop laat opvlam dat Namibië dieselfde roete sal volg.

“Namate meer reguleringsowerhede die gebruik daarvan toestaan, insluitend in Suid-Afrika, word 'n dienooreenkomstige verandering in Namibië verwag,” het een plaaslike dokter gesê. Hy wou anoniem bly weens die sensitiewe aard van die onderwerp.

Die dokter, wat die medisyne as beide voorkomend tot en vir die behandeling van Covid-19 voorgeskryf het totdat die Namibiese Medisynebeheerraad (NMRC) dit vroeër vandeesweek verbied het, sê die raad se versigtige benadering is verstaanbaar.

“Die data groei algaande en daar is oorweldige bewyse dat dit werk, selfs geoordeel aan die standaarde van medisyne-owerhede wat gewoonlik besonder konserwatief is.

“Gesondheidsowerhede is inherent versigtig en konserwatief oor sulke bewyse; daarom neem dit dikwels lank voor medisyne goedgekeur word. Daar is egter bewyse dat ivermektien werk.”

Sommige medici is egter skepties en sê meer data is nodig voor hulle dit vir hul pasiënte sal voorskryf.

'n Gerespekteerde dokter in Windhoek, wat ook anoniem wou bly, sê hy is nog nie oortuig van die middel se doeltreffendheid nie.

“Daar is beslis nog te min beskikbare data en bestaande data is nie van hoë gehalte nie.” Sy het gewaarsku dat 'n soortgelyke ophef oor ander medisynes gemaak is, waarvan die doeltreffendheid nie bewys is nie.

“Ek sê nie daar bestaan nie 'n moont­likheid dat dit sal help nie, maar ek wil eers beter data sien.”

Terwyl die medisyne, voor die NMRC se verbod daarop vandeesweek, plaaslik op kleinskaal geproduseer en voorgeskryf is, is dit ook nie in Namibië vir menslike gebruik geregistreer nie.



OMMESWAAI

Woensdag het Sahpra se hoof, in reaksie op die toenemende druk vanaf drukgroepe en desperate pleidooie deur dokters, 'n U-draai oor die gebruik van ivermektien gemaak.

Die regulerende liggaam sal nou die gebruik van ivermektien vir mens­likheidsredes toelaat, hoewel so 'n proses streng beheer sal word.

Sahpra se standpunt bly egter dat daar steeds nie genoeg data vir die reguleerder is om die middel goed te keur nie en het benadruk dat die gebruik daarvan om menslikheidsredes, beteken die verantwoordelikheid vir die veiligheid en doeltreffendheid daarvan rus op dokters se skouers.



ONGEMAK

Ivermektien is nie vir menslike gebruik in Namibië geregistreer nie en kan ook slegs om menslikheidsredes wettig voorgeskryf word.

'n Aansoek vir diesulke gebruik sal egter dieselfde redes te bowe moet kom waarom die NMRC dit aanvanklik verbied het.

Mnr. Johannes #Gaeseb, registrateur van medisyne, sê die raad is bewus van die Sahpra-wending en hou verwikkelinge fyn dop.

Hy sê dis nog te vroeg om te sê of die NMRC in hul voetstappe sal volg.

#Gaeseb het bevestig dat die NMRC tot dusver nog geen aansoeke ontvang het om die medisyne vir menslike gebruik goed te keur nie.



GEEN WONDERMIDDEL

Nog 'n apteker het beklemtoon dat die NMRC se versigtige benadering verstaanbaar is.

“Volgens wet is die middel nie vir menslike gebruik geregistreer nie. Hulle kan nie net blindelings goedkeuring gee nie. Wat as iets gebeur, wie sal blameer word?” het hy gesê.

Hy het benadruk dat die bewyse vir die middel oortuigend, maar nog nie genoegsaam is nie.

“Ek weet dit is 'n krisis en ek glo die gebruik daarvan om menslikheidsredes is die pad vorentoe. Dit sal verseker dat pasiënte die risiko's verstaan en dokters verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.”

Mnr. Ulrich Ritter, visepresident van die Aptekersvereniging van Namibië (PSN), het in e-poskorrespondensie verlede week vóór die NMRC se verbod op die voorskrif van ivermektien, verduidelik dat beskikbare bewyse toon dat dit “baie help in die behandeling van Covid-19”. Hy het egter gewaarsku dit moet nie as 'n wondermiddel beskou word nie en moet ook nie alleen staan nie, maar moet deel vorm van 'n reeks behandelingsopsies.

Hy het bygevoeg dit word reeds sedert Maart 2020 oraloor die wêreld as terapie en voorkomend tot Covid-19 gebruik.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!