Iyambo ter ruste gelê

Namibië het die naweek van 'n geliefde leier afskeid geneem.
Augetto Graig
Augetto Graig - Namibië se voormalige visepresident dr. Nickey Iyambo is die naweek by die Heldeakker buite die hoofstad ter ruste gelê.

Hy is op 19 Mei 2019, op die vooraand van sy 83ste verjaardag, oorlede.

By sy amptelike roudiens Vrydag by die parlementstuine in Windhoek was die land se topleiers duidelik bewoë.

“Hy was 'n sagmoedige reus, 'n volkome vertroueling, 'n man op wie jy kon vertrou,” het 'n emosionele pres. Hage Geingob tydens die diens gesê. “Dit was 'n lang vriendskap, tot op hierdie punt waar ons paaie moet skei.”

Geingob se boodskap aan Iyambo se weduwee en kinders was: “Sedert die tragiese nuus het Namibië in rou by julle aangesluit. Ons voel die seer van verlies. Hy was 'n geëerde en geliefde seun.”

“Nou is die vriend wat ons gehad het, weg. Vaarwel, my beste kameraad. Vaarwel, vriend. Vaarwel, vader. Jy was inderdaad my vader en vriend wat ek met baie dinge vertrou het,” het Geingob gesê.

Stigterpresident Sam Nujoma het by die geleentheid Iyambo as deel van ’n “merkwaardige generasie” beskryf. “Hulle was verantwoordelik vir die opbou van die vryheidstryd tot 'n formidabele massabeweging,” het Nujoma gesê. “Iyambo was altyd kalm midde-in twis en onenigheid. Hy was 'n vegter vir die verbetering van ons land en sy mense.”

Oudpresident Hifikepunye Pohamba het gesê Iyambo was 'n nederige dienskneg van die nasie. “Hy het sag gepraat en was saggeaard, maar 'n reus wat betref kundigheid en prestasie. In hom het ek 'n verantwoordelike leier gesien, met 'n sterk begeerte om Namibië te ontwikkel. Hy was die eerste van Swapo wat ons Finland toe gestuur het. Die Skandinawiese lande se ondersteuning is danksy hom. Ek moedig Namibiërs aan om hom te eer deur sy beginsels van vrede en eenheid te omhels,” het Pohamba gesê.

Die minister van armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, emiritus biskop Zephania Kameeta, het gesê “ons harte is vol droefheid”. Volgens hom was Iyambo se teenwoordigheid tasbaar “vertroostend en bemagtigend; hy het jou laat vergeet hy was die visepresident van die Republiek van Namibië.”

Iyambo was Namibië se eerste visepresident en die land se eerste gesondheidsminister. Hy het ook gedurende sy politieke loopbaan sy pos by die ministeries verantwoordelik vir plaaslike owerhede en behuising, mynbou, landbou, asook veiligheid en veteranesake volgestaan.

Die huldeblyk is deur die direkteur-generaal van die Namibië Sentrale Intelligensiediens (NCIS), mnr. Philemon Malima, gelewer. Hy het vertel hoe Iyambo as die tweede oudste van tien op die platteland in die Oshikotostreek vee opgepas het. Die “nuuskierige seun” het in 'n vooruitstrewende jong man ontwikkel en in 1961 is Iyambo as die eerste swart posmeester van die poskantoor in Katutura aangestel.

Hy was betrokke met politieke mobilisering, het Malima gesê, en teenwoordig by die konferensie waartydens die Owambo People’s Party (OPO) in Swapo omskep is.

Ná ballingskap in Dar es Salaam, Tanzanië, was hy onder meer 'n radio-omroeper op Voice of Namibia.

Iyambo is vir verdere opleiding na Finland gestuur, waar hy volgens Malima 'n studenteleier was. Hy was ook Swapo se mees vooraanstaande woordvoerder in Finland en ander Skandinawiese lande.

Iyambo is tot Swapo se sentrale komitee verkies voordat hy in 1975 saam met 'n groep by die Helsinki-universiteit medies gaan studeer het.

Teen 1981 het Iyambo as dokter by Swapo se militêre hospitaal in Angola diens gedoen. Gedurende sy militêre opleiding was hy gewild onder PLAN-soldate en bekend as “die mense se dokter”.

Met die instelling van Resolusie 435 is Iyambo gestuur om te bepaal of dit vir uitgewekenes veilig is om na hul vaderland terug te keer. Hy was ook een van die skrywers van die Namibiese grondwet, onder leiding van die huidige president, dr. Hage Geingob.

Iyambo laat sy vrou, me. Johanna Iyambo, en vier kinders agter.

Kommentaar

Republikein 2025-04-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer