Jaagtalent vir toekoms gesoek

Motorsport
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Motorsport bring nie net miljoene aanhangers oral in die wêreld bymekaar nie, dit verskaf ook werk aan duisende asook vrywilligers.

Die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF) is die nasionale beheerliggaam vir alle gemotoriseerde sport in die land. Alle motorsportklubs in Namibië moet op hul beurt by die NMSF geregistreer wees om enige vorm van kompetisie of byeenkoms aan te bied.

Die NMSF is by die Namibiese Sportkommissie geaffilieer en ook ’n lid van die Fédération Internationale de l’Automobile (FIA) asook die Fédération Internationale de Motocyclisme (FIM).

Die NMSF se hooftaak is om die beheer en bestuur oor tydrenne, langbaanresies, renstelle, ovaalbaankompetisies, versnelrenne, tolbyeenkomste (spinning), moto-cross en Enduro-uitdagings (vir motorfietse en kwads) uit te oefen.

Bradley Ferreira, motorsportvoorsitter van die NMSF, sê hul oogmerk vanjaar is om die Girls on Track- en ander ontwikkelingsprogramme van die FIA by die horings te pak.

“Ons het ’n reeks programme op die tafel vir 2022. Die doel is om talent en jong kinders in motorsport te ontwikkel. Die Girls on Track-program word deur die FIA gefinansier wat daarop gemik is om jong meisies vir die kode te kweek.

“Omrede mans dié sport vir jare oorheers het, dra die FIA sy Girls on Track-inisiatief na aan die hart. Die NMSF beoog om elke streek in Namibië te besoek. Skole sal besoek word en kinders van beide geslagte (agt tot 18 jaar) kan eerstehands pret met renstelle van die NMSF op slalombane by winkelsentrums hê.

“Die plan is vir die kinders om prettige geleenthede te skep, maar terselfdertyd om talent te identifiseer wat vir die toekoms ontwikkel kan word.”

Gedurende die afgelope twee jaar het digitale motorsport met nabootsers (simulators) in gewildheid toegeneem. Motorsport in die land het in 2020 en 2021 bykans in geheel tot stilstand gekom. Professionele ryers en entoesiastiese amateurs het hulle noodgedwonge na dié medium gewend om hul passie vir die sport uit te leef.

Ferreira sê: “Dit het ’n oplossing vir almal geskep wat motorsport op ’n bekostigbare en toeganklike wyse wil ervaar. Ons gaan nog ’n projek loods wat hand-aan-hand met die Girls on Track-program sal loop. Deelnemers sal eers met simuleerders touwys gemaak word alvorens hulle met volwaardige renstelle op ’n baan gaan leer jaag en kan meeding.

“Die renstel-ontwikkelingsprogram (karts) sal by die Tony Rust-renbaan aan die westelike buitewyke van die hoofstad afskop. Meisies wat by Girls on Track betrokke raak, sal meer oor die agtergrond van motorsport geleer word. Ons het twee renstelle vir beginners wat gebruik gaan word om opleiding mee te doen.

“Hulle sal inligtingsessies oor gesondheid, fiksheid, algemene veiligheid en bemarking bywoon. Hulle sal ook geleer word om gemaklik voor die kamera te wees.”

Al die projekte wat deur die NMSF geloods word, word deur die FIA ondersteun. Enige iemand wat meer inligting wil bekom, kan die NMSF by [email protected] kontak.

Die NMSF se uitvoerende komitee is Daniel Tjongarero (president), Christiaan Liebenberg (visepresident), Bradley Ferreira (voorsitter: motorsport), Andreas Brendel (voorsitter: motorfietssport), Benson Kalla (voorsitter: toersport). Derek Jacobs is die sekretaris-generaal en Geraldine Naudé is die verteenwoordiger vir vroue in motorsport.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!