Jaar van gevoelige verliese

Rugby en verskeie ander sportkodes het 'n ongekende hartseer twaalf maande agter die blad.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die Namibiese sportgemeenskap sluit hierdie kalenderjaar veel armer af wanneer 'n mens terugkyk na die lys bekende figure, veral gewese administrateurs en afrigters, wat oor die afgelope twaalf maande dood is.

Die gesamentlike dryfkrag, entoesiasme en ondervinding wat ná 2021 nie meer tot die beskikking van Namibiese sport is nie, laat sonder twyfel vele leemtes wat moeilik, indien ooit, gevul sal kan word.

Veral die verliese wat binne die relatief kort periode van die Covid-19-pandemie se derde golf in Namibië meegebring is, het 'n traumatiese effek gehad.

• Tannie Malie Snyman is in Meimaand op 82-jarige leeftyd ná 'n siekbed oorlede. Sy het in 1970 die enigste netbalspeler van Suidwes geword wat ooit vir die Springbokspan gekies is. Sy was Suidwes se sportvrou van die jaar in 1970, 1971 en 1974 en was vir tien jaar die Suidwes-netbalkaptein, asook later president van SWA netbal (1986 tot 1988) en voorsitter van die Sentraal-netbalvereniging (nou Khomas).
Nog een van haar tydgenote, mnr. Piet van Rhyn, oudafrigter van Wanderers en die Suidwes-span, is in die afgelope jaar oorlede.

• Adriaan (Adri) Basson was 'n bekende gholfspeler en voormalige kaptein van die Suidwes-rugbyspan wat in Julie op ouderdom 81 jaar aan post-Covid-komplikasies dood is.

Basson se vyf SWA / Namibiese Amateur Ope-titels word net deur Werner Lassen (10) oortref. As beroepsgholfspeler en jarelange president van die Namibiese Professionele Gholfvereniging (NPGA) het hy ewe diep spore getrap en hard agter die skerms gewerk om dié sport tot nuwe hoogtes te voer.

• Werner Jeffery was 64 jaar oud toe hy in Junie ook 'n slagoffer van Covid-19 geword het. Die boorling van Mosselbaai se nalatenskap op verskeie vlakke van sportadministrasie sal nog lank in sy aangenome land Namibië bly lê. Hy was in 2002 afrigter by die o.19 Wêreldbekerkriekettoernooi in Nieu-Seeland, toe Namibië 'n opskudding veroorsaak het deur Sri Lanka te klop.

Sy rol agter die skerms om die Universiteit van Namibië se rugbyspan sedert 2015 'n krag in die premierliga te maak, sal waar­skynlik een van sy mees blywende nalatenskappe wees.

• Die voormalige rugby-afrigter Johan Venter (61) was vir agt dae in die hospitaal voordat hy aan Covid-19 beswyk het.

Venter, in sy speeldae 'n haker van Wanderers, was nie net die eerste afrigter onder wie Namibië vir die Wêreldbeker gekwalifiseer het nie, maar ook die enigste wat dié taak twéé keer tydens moeilike periodes verrig het en beide kere afgedank is sonder om “sy” span Wêreldbeker toe te neem (1999 en 2007).

Venter se hardekwas ingesteldheid het ook van sy spanne kenmerkend geword. Sy oog vir talent en gewilligheid om vir dié doel die Namibiese platteland te verken, sy vermoë om 'n plan te prakseer wanneer hy skielik met nuwe kombinasies vorendag moes kom, asook sy mensekennis om met spelers te werk, het 'n standaard gestel waaraan sy opvolgers gemeet sou word.

• Nog 'n lid van die 1999 Wêreldbeker-rugbyspan wat aan Covid-19 oorlede is, Frans Fish (51), was 'n haker van Oranjemund en Reho Falcon wat daardie jaar twee toetse van die reserwebank af gespeel het.

• Patrick van Wyk, 'n rugby-afrigter wat van grondvlak af hard gewerk het om sy kwalifikasies te verbeter en wat onder meer vir Swans en vrouerugby afgerig het, is in Junie oorlede.

• Mnr. Ryno Davids, 'n rugby­skeidsregter van Grootfontein.

• Nog 'n gewilde en gewaardeerde figuur was mnr. Marc Nel (59), wat tot met sy afsterwe in Junie die president van die Namibiese Hokkie-unie (NHU) was. Sy dekades van diens aan hokkie het jare as speler, afrigter, skeidsregter en administrateur ingesluit.

Sy droom om Namibië die beste hokkiespelende land in Afrika te maak, het die afgelope jare toenemend gestalte gekry met die nasionale vroue- en manspanne se verskynings by wêreldbyeenkomste en op kontinentale vlak.

• Dayanand (Dee) Thakur (54) het as 'n gerespekteerde voormalige afrigter van die nasionale span nog veel meer gehad om Namibiese krieket te bied.

Ten tyde van sy dood was hy Krieket Namibië se hoëprestasiebestuurder en koördineerder van die uiters integrale rol om krieketafrigters landwyd op te lei. Hetsy op dié manier, of as spanbestuurder of afrigter van nasionale junior spanne, het hy vir meer as 'n kwarteeu sonder ophou bygedra tot die suksesvlakke wat hoofafrigter Pierre de Bruyn en die Eagles die afgelope maande bereik het.

• Bobby Sissing was 'n man enig in sy soort wat op verskeie vlakke uit sy pad gegaan het om sokker in Namibië op te hef.

Sy afsterwe op 79-jarige leeftyd in Windhoek ná 'n siekbed van bykans drie maande aan kanker het die pad in herinnering geroep wat hy as speler, afrigter en administrateur gestap het.

Die Khomasdal-sokkerstadion moes na regte reeds jare gelede na hom vernoem gewees het, glo kenners van die geskiedenis van die plaaslike sport.

“Die Khomasdal-stadion was 'n grondveld en oom Bobby was die man wat gesorg het dat 'n grasveld geplant word en die omheining en muur rondom opgerig word, voor die klubhuis ook later jare gebou is,” het Boet Matthews in Julie geskryf.
• Lucky Richter (bynaam Bazooka) was 57 jaar oud toe hy vroeg in Julie in ’n hospitaal in die Kaap gesterf het. Die voormalige sokkerspeler van Black Africa, Sorento Bucks en Young Beauty Chiefs was bekend as ’n voorspeler of vleuel propvol vernuftige voetwerk. Later was hy ook hoofafrigter en voorsitter van Black Africa-sokkerklub.
Die pa van ses was ook ’n tyd lank afrigter van nasionale junior spanne, asook die Brave Warriors, wat ’n oorwinning van 8-2 teen Benin in 2000 in Windhoek ingesluit het.

• Hakkie Louw (61) was 'n stigterslid van Reho Falcon en het by dié klub, Rehoboth-rugbyklub en by Dr. Lemmer afgerig.

• Edwardo Nell se heengaan in September was besonder tragies en 'n diepe skok, enkele ure ná inwendige beserings wat hy tydens 'n klubwedstryd vir Wanderers III by die veld van die Universiteit van Namibië opgedoen het.

• Mnr. Neels Dodds (65) was die afgelope jare die president van Wanderers-rugbyklub wat in 'n skietvoorval op sy plaas gesterf het.

• Gawie Koekemoer was 'n rugbyspeler van Wanderers wat ook as 'n borg uit sy pad gegaan het om die klub vorentoe te help.

• Thys van Rooyen (49), gewese flank van Namibië en Wanderers en gewilde oudonderwyser, is verlede week op Mariental ná 'n moedige stryd teen die aftakelende effek van motorneuronsiekte dood.

• Hennie Maré (68) het oor jare diep spore as lid van die Windhoek-resiesduifklub getrap.

• James Verrinder was 'n dryfveer as organiseerder en afrigter in Namibiese strandvlugbal wat in Julie oorlede is.
• Eddie Cowley was prominent in Namibiese hengelsport.

FOTO’s
Dee Thakur, krieketafrigter.
Die rugby-afrigter Hakkie Louw.
Die strandvlugbalafrigter en organiseerder James Verrinder.
Marc Nel, hokkie-administrateur.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!