Jaaroorsig 2016: Januarie – Maart

Dani Booysen
Toeriste vind kort ná Nuwejaar twee ou karkassie van gestroopte renosters naby die Grootberg Lodge in die Kunenestreek. Later dieselfde dag word ‘n derde karkas in dieselfde omgewing gevind. Ses karkasse word in totaal sedert Desember 2015 hier aangetref. Op 29 Februarie 2016 kondig die polisie aan dat 34 renosterkarkasse in die eerste twee maande van die jaar gevind is, 29 hiervan in die Etosha Nasionale Park.

Etosha se driehoringrenoster haal die internasionale media danksy foto’s wat tydens ‘n safari deur Jim Gibson geneem en aan Brittanje se Daily Mail gestuur is. ‘n Soortgelyke renoster hou in die Kunenestreek.

Pres. Hage Geingob bestempel 2016 as die jaar van implementering.

Die verbrande liggame van twee vroue word op Donderdag 7 Januarie 2016 in Windhoek by ‘n stortingsterrein vir tuinvullis aan die buitewyke van Pionierspark ontdek. Hulle is eers geskiet. Die 46-jarige mnr. Lukas Nicodemus word nog dieselfde aand in verband met die moorde op mee. Clemencia de Wee (23) en Johanny Naruses (29) aangekeer.

Numbeo wys Windhoek as die tiende duurste stad in Afrika aan.

Twee Duitse vroue, ‘n ma en haar dogter, pleeg selfmoord deur oor die Visrivier-afgronde te spring. Hul dogter en jonger suster het in Desember in ‘n motorongeluk in die land gesterf.

Byna 10% minder van die land se graad 12’s kwalifiseer om verder te studeer.

Noordelike Namibië beleef volgens voorlopige syfers die swakte reënseisoen die afgelope vyf jaar.

Agterstallige skuld van N$24 miljoen dreig om bouwerk aan die nuwe hoofweg tussen Windhoek en Okahandja vir twee weke tot stilstand te dwing.

‘n Bankklerk, mnr. Charles Winston Manale (wat ook oor ‘n vroulike identiteit beskik) gee homself aan die polisie oor vir vermeende diefstal en bedrog ten bedrae van ongeveer N$4 miljoen.

Ook Namibiese studente betoog teen klasgelde, maar in veel kleiner omvang as in Suid-Afrika. Die Universiteit van Namibië (Unam) gaan onder ‘n totale skuldlas van meer as N$300 miljoen gebuk.

Die beweerde moord op ‘n man wat as ‘n stroper aangesien is, lei in die Okahandja-distrik tot die inhegtenisneming van mnr. Kai Rust. Hy is steeds in aanhouding ná verskeie onsuksesvolle aansoeke om borgtog gedurende die loop van 2016.

Die lugvaartbedryf word hard getref deur die dood van drie ervare vlieëniers. Kapt. Fritz-Walter Alpers, mnre. Uwe Herbert en Ole Friede sterf op Vrydag 29 Januarie 2016 tydens ‘n roetine-opleidingsvlug naby die Hosea Kutako Internasionale Lughawe.

Ekonome voorspel veel traer groei vir 2016.

‘n Nuwe weergawe van Namibië se voorgenome bemagtigingsbeleid, kortweg bekend as NEEEF, word bekendgestel ter insae van belanghebbendes. ‘n Storm van protes lei tot die aansienlike uitstel van die sperdatum vir reaksie. Dit word een van die debatte van die jaar.

‘n Boer van die Otjiwarongo-distrik, mnr. Johannes Martinus Mostert (53) word aangekeer in verband met onwettige vuurwapens en ammunisie. Hy staan later ook op klagte van terreur tereg, maar dié word teruggetrek. Verskeie soortgelyke arrestasies volg in komende maande en uiteindelik kondig die polisie ‘n hernude amnestie vir die inhandiging van onwettige wapens en ammunisie aan.

Die Kunenerivier bereik vir die eerste keer in jare die see.

Vyftien mense sterf op Vrydag 12 Februarie 2016 tussen Ondangwa en Oshivelo in ‘n botsing tussen ‘n vragmotor en ‘n minibus-taxi.

Vonke spat in die Nasionale Vergadering oor hoekom die minister van verdediging vir sewe maande in ‘n luukse hotel in Windhoek moes tuisgaan.

In Februarie word gewaarsku dat Windhoek nog net water vir ses maande oor het, terwyl mielieboere ook hernude swak oeste in die gesig staar.

Die uitslae van 2015 se Total Tara-tydren word nietig verklaar en die jarelange hoofborg van dié bekende motorsportgebeurtenis onttrek hom van volgende byeenkomste.

Voormalige lede van die Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag (SWATF) en Koevoet betoog ten gunste van hul erkenning as oorlogsveterane.

Die regering lê besteding aan bande met ‘n begroting van N$66 miljard. Die bedrag beloop 7,3% minder as wat aanvanklik in 2016/17 bestee sou word.

Die koste van ‘n nuwe parlement vir Namibië word beraam op N$2,27 miljard in vergelyking met die N$638 miljoen wat die projek aanvanklik sou kos.

‘n Verslag aan die Verenigde Nasies toon dat die Noord-Koreaanse maatskappye Mansudae Overseas Projects (MOP) en Komid, teen wie sanksies ingestel is weens verskuilde militêre en sekuriteitsbedrywighede, wel aktief in Namibië is.

Windhoek se begrotingstekort beloop byna N$300 miljoen.

Namibië se HESS-teleskoop ontdek ‘n supermassiewe swartkolk in die middel van die Melkweg.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!