Jack Parow en u2019n stukkie Van der Merwe.
Jack Parow en u2019n stukkie Van der Merwe.

Jack Parow en ’n stukkie Van der Merwe.

Lloyd Zandberg
Hoeveel Van der Merwes is nodig om ’n troue te stop? Dalk net een. Dis te sê as hy dit hierdie een keer kan regkry. Maak gereed en hou styf vas aan al jou stereotipes, want die onderwerp van Suid-Afrika se gunsteling-grappies kry lewe in hierdie splinternuwe, prettige komedie oor die buiteperd. Ten volle toegerus met sy wanopvattings, vooroordele en kenmerkende onvermoë om suksesvol te wees, gaan Van der Merwe jou laat lag, huil, en ineenkrimp wanneer hy probeer om ’n moeilike situasie reg te stel. Dit terwyl; hy ’n groot gek van homself maak. Sy liefdevolle vrou, beeldskone dogter en statige aanstaande Britse skoonseun sal jou amper laat glo dat sy geluk besig is om te draai . . . of is dit?

Elke land het iemand met wie hulle spot. In Ierland is dit Paddy, in Israel is dit Hymie en in Suid-Afrika is dit Van der Merwe. Hierdie storie gaan oor hom.

“Ek wou ’n fliek maak oor ’n enkele karakter, soos Ace Ventura of Zoolander, maar met ’n Suid-Afrikaanse aanslag. Van is deel van ons kultuur, ’n karakter met wie ons almal kan vereenselwig. Hy het ’n geskiedenis en ’n plek in ons harte. Om aan hom lewe te gee op die grootskerm is iets wat almal graag wil sien,” sê regisseur en draaiboekskrywer Bruce Lawley oor Van der Merwe, sy eerste vollengte fliek.

Vervaardigers Craig Jones, Bruce Macdonald, Murray Macdonald en Bruce Lawley bring ’n splinternuwe, tong-in-die-kies familiekomedie na die grootskerm, met Rob van Vuuren (Van) en Reine Swart (Marike) in die hoofrolle.

Van der Merwe, wat afspeel op ’n plaas in Suid-Afrika, vertel die verhaal van Van se dogter, Marike, wat terugkeer ná ’n oorbruggingsjaar in Engeland. Maar sy is nie alleen nie. Haar verloofde, George, ’n Britse mediese student, is aan haar sy. Dit skep die perfekte geleentheid vir talle probleme en uitdagings. Van moet nie net daarmee vrede maak dat sy enigste dogter met ’n Engelsman gaan trou nie, maar word ook deur sy moeilike, tradisionele pa beveel om dié verhouding te beëindig. Dit plaas hom in ’n baie stresvolle situasie en los hom met ’n moeilike besluit: staan hy op teen sy pa en aanvaar die troue of gehoorsaam hy sy pa, wie se goedkeuring hy bittergraag wil hê, se bevel, wat kan beteken dat hy sy dogter vir altyd kan verloor? Wanneer die aanstaande Britse skoonfamilie opdaag, word daar behoorlik koppe gestamp. Dit ontaard in ’n kultuurstryd en lei tot verskeie kantkies-insidente en ander skreeusnaakse gebeure wat lewe gee aan die klassieke Van der Merwe-grappies wat ons almal so goed ken.

Volgens Bruce is die draaiboek vir Van der Merwe reeds in 2005 geskryf.

“Ons ken almal die grappies, maar wie is die man agter die mite? Watter soort mens moet iemand wees en hoe moet hy optree om die onderwerp van almal se grappies te wees? Dit is waaroor die storie gaan. Op ’n dieper vlak gaan die fliek oor hoe om verskille te oorkom, eie te bly aan wie jy is en nooit op te gee nie - ongeag wat die omstandighede mag wees.”

Hoewel hy die oorlede grapjas Bill Flynn in gedagte gehad het toe hy Van se karakter geskep het, glo Bruce dat Rob van Vuuren (Shucks! Your Country Needs You) die perfekte kandidaat was om die rol van hierdie grap-ikoon te vertolk.

“Ons het ’n akteur gesoek wie se komiese tydsberekening in terme van die fisieke komiese aspekte en dialoog perfek moes wees. Rob is ’n uitsonderlike akteur en baie professioneel. Hy is ongelooflik snaaks en het die regte mengsel van hart en humor na die rol gebring. Hy was vasbeslote om ’n onvergeetlike en ikoniese karakter te skep en was bereid om alles in die stryd te werp om dit reg te kry. Hy het ook die interessantste gesigsuitdrukkings, oë vol uitdrukking en ’n speelse geaardheid – die perfekte bestanddele om Van se karakter weer te gee.”

Rob, wat oudisie gedoen het vir die rol omdat hy nie die kans kon laat verbygaan om so ’n ikoniese karakter te speel nie, moes ’n vetpak aantrek en ’n bles kol in sy hare laat skeer om sy aanslag meer geloofwaardig te maak.

“Ek speel die rol van Van self. Hy is ’n liefdevolle lummel, die een met wie almal spot en die lewe van elke partytjie. Hierdie fliek is skreeusnaaks en stel die talent van verskeie bekende akteurs ten toon,” vertel hy.

Hoewel hy dit baie geniet het om saam met almal te werk wat by die fliek betrokke was, moet hy vir Chanelle de Jager uitsonder wanneer hy terugdink aan sy ervaring.

“Chanelle speel my vrou in die fliek. Sy het haar rol met soveel warmte, liefde en geloofwaardigheid gespeel dat dit my ook op ’n manier gehelp het om meer hart in my eie vertolking te sit.”

Reine Swart, wat bekendheid verwerf het vir haar rol in die Suid-Afrikaanse fliek oor branderplankryers, Die Pro, is baie opgewonde om deel te wees van hierdie humoristiese verhaal.”

“Ek het van die rol gehoor toe ek besig was met branderplanklesse vir Die Pro. Ek het Bruce MacDonald van Boomtown Boys Production in hierdie tyd ontmoet en vlugtig daarvan gehoor. Dit het vir my geklink soos ’n fliek wat hope pret sou wees om aan te werk. Later het ek vir ’n oudisie gegaan by Bruce Lawley en dit is vir my ’n groot eer om die rol van Marike te speel,” deel die blondekop.

“Van der Merwe is die tipe fliek is wat diegene wat ’n goeie komedie waardeer, baie sal geniet. Rob vertolk sy karakter uitsonderlik goed en sy komiese tydsberekening is fantasties. Dit vat baie om so goed soos hy te wees.”

Hierdie ligsinninge prent kry lewe met behulp van ’n verskeidenheid interessante karakters wat spesiaal geskep is om Van se tekortkominge te beklemtoon.

Chanelle vertolk die rol van Van se vrou, Suzette, wat vasberade is om die situasie te red. Ian Roberts speel die dominerende Oupa Van, wat beslis die gehoor se aandag sal trek. Ander akteurs wat in die fliek te sien is, sluit in Adrienne Pearce, André Jacobs, Rika Sennett, Erica Wessels, Louw Venter, Benedikt Sebastian, Matthew Baldwin, Neels van Jaarsveld en Melt Sieberhagen.

Kurt Darren maak sy verskyning as ’n sanger by die troue en Barry Hilton speel die rol van Freddie, die kroegman en Van se beste vriend.

“Van der Merwe is ’n goedvoel-fliek. Ons wil hê mense moet die fliek verlaat met ’n glimlag en die positiewe boodskap dat alles oukei sal wees, ongeag jou omstandighede of tekortkominge. Maar dan moet jy vir jouself kan lag. Jy kan die lewe nie te ernstig opneem nie. Bly getrou aan wie jy is, moenie moed opgee nie en hou altyd aan glimlag,” meen Lawley.

Van der Merwe beloof om kykers te laat skaterlag met skreeusnaakse familie- en kultuurkonflik, ongemaklike situasies en katastrofes wat die Van der Merwe-titel meer as gestand sal doen. Dié fliek, wat musiek deur Jack Parow insluit, word versprei deur Ster-Kinekor Entertainment en sal op 28 Julie landswyd vrygestel word.

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!