Jacques Pauw: Hier kom u2019n deurbraak
Jacques Pauw: Hier kom u2019n deurbraak

Jacques Pauw: Hier kom ’n deurbraak

Groot uitdagings lê vir die presidensiële kommissie van ondersoek na belastingadministrasie in Suid-Afrika voor.
Die Suid-Afrikaanse kommissie van ondersoek na belastingadministrasie het opdrag gekry om invloedryke persone vir belastingontduiking te ondersoek.

Dit kan moontlik oudpres. Jacob Zuma, sy familie en van sy sakevennote insluit.

Die joernalis Jacques Pauw het in sy boek The President’s Keepers onthul dat Zuma glo geen belasting betaal het op die verbeterings van R249 miljoen aan sy huis by Nkandla in KwaZulu-Natal nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het die kommissie se verwysingsraamwerk Donderdag in die Staatskoerant afgekondig.

Dit moet onder meer ondersoek hoe die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) die belastingsake van prominente invloedryke persone, hul familielede en noue sakevennote behartig het.

Die kommissie sal deur oudregter Bob Nugent gelei word. Die kommissie moet die tydperk van 1 April 2014 tot 31 Maart vanjaar in sy ondersoek dek.

Sy tussentydse verslag moet teen einde September klaar wees en sy finale verslag teen einde November.

Pauw sê dit is die eerste keer in die land se geskiedenis dat ’n kommissie van dié omvang aangestel is om belastingontduiking te ondersoek.

“Die kommissie het ’n geweldige taak, want daar het ontsettend baie dinge gebeur sedert 1 April 2014.

“Staatsveiligheid het byvoorbeeld in Mei 2014 opdrag gegee dat die topstruktuur van die SAID verwyder moet word. Ongelooflik baie ondersoeke van belastingontduiking teen invloedryke persone waarvan baie reeds afgehandel was, het in dié tydperk doodgeloop.”

Dit was ook in die tydperk van Tom Moyane, geskorste kommissaris van die SAID, se rampspoedige ampstermyn dat meer as 50 senior bestuurders in die eerste jaar van sy aanstelling bedank het, sê Pauw. Die SAID het toe in drie agtereenvolgende boekjare tekorte van honderdmiljoene rande gehad, sê hy.

“Dan is daar nog Zuma se eie belastingsake en ook dié van die Guptas wat ondersoek moet word. Dit is ’n baie goeie ding dat dit alles bekyk word, maar ek twyfel of die kommissie dit binne vier maande sal kan doen.”

Pauw sê hy wonder ook of die kommissie sy ondersoek agter geslote deure gaan hou, aangesien invloedryke mense soos Zuma se belastingsake moontlik onder bespreking gaan wees.

“Dit gaan interessant wees wat die kommissie gaan doen, aangesien hy enigiets kan vra. Gaan hy byvoorbeeld van die BBP-belastingeenheid, wat hoë politieke figure se belastingsake hanteer, verwag om hul hoogs geheime inligting bekend te maak?”

Pieter Faber, projekdirekteur vir belasting by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR), sê dit is duidelik dat die kommissie se verwysingsraamwerk op senior en invloedryke mense op ’n baie hoë vlak gemik is.

“Dit is egter moeilik om te sê of die kommissie se ondersoek op spesifieke individue gemik is, aangesien sy verwysingsraamwerk redelik wyd strek,” sê hy.

Kyle Mandy, hoof van belastingbeleid by PwC, sê dit lyk asof die verwysingsraamwerk merendeels op die foute van die verlede by die SAID fokus.

“Hoewel dit natuurlik nodig is om vas te stel wat verkeerd gegaan het by die SAID, is dit net so belangrik om na die toekoms te kyk en vas te stel wat nodig is om die SAID se doeltreffendheid te verbeter en openbare vertroue in die instelling te herstel.

“Ek hoop die kommissie fokus daarom ook op aspekte soos vaardighede, tegnologie, institusionele kennis, strategie en die balans tussen die regte van belastingbetalers en die magte van die SAID.”

Die aspekte wat die kommissie moet bekyk, sluit in:

Of die SAID voldoende en wettig opgetree het om belastinginvordering te verbeter in die lig van die inkomstetekorte van 2016 en 2017;

Die talle klagtes die afgelope twee jaar oor BTW-terugbetalings;

Of die proses van belastingoudits selektief toegepas is om sekere mense te bevoordeel of teen hulle te diskrimineer;

Of SAID-inligting doelbewus weerhou is van ondersoeke na wangedrag;

Of misdaad weggesteek of geïgnoreer is onder die dekmantel van belastingbetalervertroulikheid;

Die prestasiebonusse wat aan senior SAID-beamptes betaal is te midde van groeiende inkomstetekorte;

Moontlike samespanning tussen SAID-amptenare en leiers in die tabaksmokkelbedryf;

Waarom soveel senior en ervare SAID-werkers sedert 2014 bedank het; en

Of die verandering van die SAID-bedryfsmodel ná 2014 bygedra het tot ondoeltreffendheid in belastinginvordering. – Netwerk24/Rapport

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!