Jagfoto's: Bedryf wil adverteer
Die Jagvereniging stem saam onsensitiewe jagfoto's skaad die bedryf, maar glo verantwoordelike advertensies moet toegelaat word.
Ronelle Rademeyer
Die ministerie van die omgewing en toerisme is bereid om die nuwe permitvoorwaarde met die Namibië Professionele Jagvereniging (Napha) te bespreek.
Dié voorwaarde verbied die plaas van jagfoto's op sosiale media en die internet – selfs al is dit vir advertensiedoeleindes.
Die vereniging se president, me. Danene van der Westhuyzen, sê Napha het Donderdag met amptenare van die ministerie vergader en sê laasgenoemde is bereid om die gesprek oor internet-advertering voort te sit.
“Ons sal voortgaan om die ministerie aan te raai om die verantwoordelike advertering van jagondernemings toe te laat soos dit tans op webtuistes, sosiale media en brosjures gedoen word.”
Sy sê in 'n verklaring Napha is wel ten gunste van die advertensiebeperking op permitte vir spesifieke trofeediere en dat toestemming daarvoor verkry moet word.
Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het op 3 Julie 'n brief aan die jagbedryf gestuur waarin hy alle jagters, ook dié met wettige jagpermitte, versoek het om foto's wat tydens jagsafari's van dooie diere geneem is, nié op sosiale media te plaas nie.
Hy het gesê dit is nie net oneties nie, maar beskadig die beeld van Namibië se goedgereguleerde jagbedryf.
Shifeta sê voorts in sy brief dit is om hierdie rede dat die ministerie besluit het om 'n nuwe voorwaarde aan permitte te koppel en dit is om jagters te verbied om dié foto's op openbare forums te plaas of aan te stuur. Hy sê die foto's moet streng privaat gehou word.
Van der Westhuyzen sê wat die bedryf wel omgekrap het, is dat die ministerie die beperking geplaas het sonder om vooraf met Napha daaroor te vergader.
In hoofsaak steun Napha die ministerie se besluit, aangesien daar wel 'n aantal individue is wat nie gehoor aan die verantwoordelike plasing van foto's van gejagde trofees gee nie.
“Dít, tesame met die onlangse oproerigheid oor mens-dier-konflikkwessies en die groot gedruis op sosialemediaplatforms sonder dat mense die regte feite en inligting het, het die minister nie veel van 'n keuse gegee nie.
“Napha het sy lede die afgelope jare by verskeie geleenthede gemaan teen onsensitiewe advertering op sosiale media en die internet aangesien dit tot uitbarstings deur diereregtegroepe teen jag in die algemeen kan lei,” sê Van der Westhuyzen. Sy sê lede het aan hierdie versoek gehoor gegee.
Volgens haar was die ministerie verlede jaar op die punt om alle trofeejag-advertensies op die internet te verbied en Napha het toe benadruk hoe belangrik dit vir jagplase en -ondernemers is om hul dienste, akkommodasie en die ervaring te kan adverteer.
Sy benadruk Napha se doel is om etiese optrede in die bedryf te bevorder en doen 'n beroep op die publiek en sy lede om gehoor te gee aan Shifeta se versoek.
GRONDWETLIKHEID
Intussen het die grondwetkenner prof. Nico Horn aan Denver Kisting gesê Shifeta se planne is waarskynlik “nie heeltemal deurdink nie. Daar moet 'n proses wees.”
Wat veral in gedagte gehou moet word, is in hoe 'n mate die beoogde wetgewing vryheid van uitdrukking sal inperk, hoewel dié grondwetlike reg nie absoluut is nie, sê hy.
Wanneer 'n reg nie absoluut is nie, beteken dit die reg weeg onder sekere omstandighede minder, byvoorbeeld, in die geval van vryheid van uitdrukking, wanneer dit gebruik word om iemand te belaster.
Horn sê hy wonder of Namibië in staat is om sosiale media te polisieer sou wetgewing wel deurgevoer word om die plasing van jagfoto's te verbied.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie