Jak sing vir Hoener Met Die Rooi Skoene
Jak sing vir Hoener Met Die Rooi Skoene

Jak sing vir Hoener Met Die Rooi Skoene

Henriette Lamprecht
Die bekende Afrikaanse sanger, skrywer en TV-persoonlikheid, Jak de Priester, gaan die temalied vir die nuwe rolprent van Koos Roets, Hoener met die rooi skoene, skryf en sing.

Jak se loopbaan het in 2003 begin nadat hy die ATKV Crescendo-kompetisie gewen het. Dit het hom die geleentheid gegee om sy eerste album getiteld, Sally Williams Nougat, op te neem. Dertien jaar, agt albums, een digbundel, ’n koffietafel-woordkunsboek en verskeie verhoogproduksies later, is Jak se loopbaan steeds besig om te groei.

“Ons is ongelooflike opgewonde om Jak de Priester aan boord te hê”, sê Alishia van Deventer van Starburst Promosies.

“Toe die vervaardigers vir my gevra het om iemand te vind wat die temalied vir die fliek kan skryf en sing, het ek dadelik aan Jak gedink! Sy talent en skryfvermoë is ongelooflik en hy het binne ’n paar dae die basis van die liedjie vir my gestuur. Ek het dadelik geweet dit is die regte besluit en Jak was aan boord!”

Jak vertel: “Dit is vir my baie lekker en ’n groot eer om betrokke te wees by die skryf van die temaliedjie vir Koos Roets se rolprent. Ek het lanklaas iets vir TV of ’n fliek geskryf, dus was ek baie opgewonde toe Alishia my kontak om te hoor of ek betrokke wou wees. Dit was ’n uitdaging, omdat ek nog nie die rolprent gesien het nie, en die liedjie moes skryf met slegs die mediavrystelling en rowwe weergawe van die lokprent tot my beskikking. Ek het wel dadelik besef dat dit so ’n bietjie van ’n vyftigs-gevoel moes hê. Die feit dat hierdie ’n riller-komedie is, het my dadelik laat voel dat dit meer lewendig moet wees en die titel van die fliek is ook dadelik ’n liriek wat lekker op die oor val. Ek hoop dit doen eer aan die fliek self en vertel ’n lekker storie wat mense opgewonde gaan maak om die fliek te gaan kyk.”

Hoener Met Die Rooi Skoene gaan kykers laat regopsit, ril en skaterlag.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer