Jakkals en muis – !nara se beste maats

’n Plaaslike navorser het die eerste bewyse op kamera dat !nara-vrugte hoofsaaklik deur jakkalse en nagmuise versprei word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die vergeetagtigheid van die Namib se haarpootnagmuis asook jakkalse se lus vir !nara-vrugte is dalk waarom dié endemiese plant al eeue in die woestyn oorleef en gedy.

Presies hóé hierdie diere te werk gaan om die plant se voortbestaan te verseker, is waarop ‘n junior navorser verbonde aan die Gobabeb- Navorsing- en Opleidingsentrum, me. Saima Shikesho, haar toespits.

Shikesho is tans by die Universiteit van Kaapstad ingeskryf vir die voltooiing van haar MSc-graad in biologiese wetenskappe met die fokus op ekologie.

Haar navorsing bied die eerste bewyse op kamera om steun te verleen aan veronderstellings dat !nara-vrugte hoofsaaklik deur jakkalse en nagmuise versprei word.

“Jakkalse is waargeneem waar hulle sade van die moederplant af wegdra – tussen 7 en 12 km ver. Nagmuise is weer gesien waar hulle die !nara se sade in gunstiger mikrohabitatte begrawe en dus daartoe bydra dat dit teen ander bogrondse saadetende diere beskerm word en help dat plante nie te dig op mekaar groei en vrek nie,” verduidelik sy.

Shikesho sê hoewel daar reeds studies gedoen is oor die verspreiding van !nara-sade, was daar nie een wat in soveel fyn besonderhede ingegaan het nie.

“My studie sal bykomende inligting bied oor wat ons reeds oor die verspreiding van !nara-sade weet, maar daar is nog nie studies oor die gedrag van jakkalse gedoen wat die uitkies van vrugte betref nie.

“Ook nie oor hoe nagmuise die sade weer opgrawe of watter sade nagmuise in die Namibwoestyn verkies nie. Dit is alles nuwe inligting,” sê sy.

OOR DIE !NARA

Shikesho sê die !nara-plant is endemies aan die Namibwoestyn, wat beteken dit is inheems en beperk tot dié woestyn. Dit groei op duine en aan die rante van seisoenale riviere.

Dit is ‘n spanspekagtige gewas en behoort aan dieselfde familie as waatlemoene en komkommers. Soos die meeste van die gewasse het die !nara ook water nodig om vrugte te dra.

Dit word meestal met seisoenale riviere en permanente ondergrondse water verbind en kan beteken ondergrondse water is sy hoofbron in droë woestyngebiede.

Sy sê die !nara kan gevind word van Port Nolloth in Suid-Afrika af tot by die Curocarivier in Angola.

Uitgebreide velde van die plant kom langs die Kuiseb-, Uniab- en Curocarivierdeltas voor. Dit word as ‘n hoeksteenspesie beskou wat ‘n verskeidenheid diere van kos, water en skaduwee voorsien.

!Nara-vrugte is baie voedsaam en bevat water, wat groot soogdiere soos jakkalse, donkies en gemsbokke in die Namibwoestyn benut.

Die !nara is ‘n beskermde plant in Namibië en het ook ekonomiese waarde. Kosmetiese produkte word daarvan gemaak en verkoop.

DIE STUDIE

“Ek vors die verspreidingsmeganismes van die !nara-plant na. Die verspreiding van sade is belangrik om die plante te help om na nuwe gebiede te beweeg; dit verminder kompetisie en help met onder meer die oorlewing van sade en saailinge asook ontkieming,” sê Shikesho.

“Vir al die betrokke organismes is dit ‘n wen-wen situasie. Die plant is van die diere afhanklik om sy sade te versprei en bied hulle terselfdertyd kos.”

Shikesho se navorsing word deur ‘n skenking aan Gobabeb deur die Nasionale Raad vir Navorsing, Wetenskap en Tegnologie (NCRST) asook die Dartmouth College in Amerika befonds.

Shikesho sê haar studie bestaan uit twee hoofstukke, waarvan die eerste kyk na hoe Namibië se swartrugjakkalse !nara-sade versprei.

“Daar is ander spesies wat ook !nara-vrugte eet, maar die jakkalse is die enigstes wat waarlik die sade versprei. Dit is omdat die sade ongeskonde in hul ontlasting gevind kan word,” het sy verduidelik.

Shikesho sê sy wil vasstel hoe belangrik die !nara vir jakkalse is deur te kyk hoe gereeld hulle die plante besoek en !nara-vrugte verwyder. Hul gedrag sal ook dopgehou word om te probeer vasstel hoe en hoekom hulle sekere vrugte uitkies.

“Die navorsing sal ook aandui of jakkalse doeltreffende verspreiders van die sade is deur te kyk of die lewensvatbaarheid en die tempo van ontkieming verbeter wanneer jakkalse dit insluk.”

Die tweede hoofstuk behels navorsing oor die haarpootnagmuis, ‘n knaagdier, as sekondêre verspreider van die !nara-saad.

NAGMUIS ‘VERGEET’

“Die meeste plante is van meer as een agent afhanklik om sy sade te versprei. Haarpootnagmuise versamel sade en begrawe dit weer op uitgespreide bêreplekke. Wanneer kos skaars word, grawe hulle dit weer uit.

“Hulle vergeet soms waar hulle van die sade begrawe het. Die sade word dus deel van die ondergrondse saadbank waar hulle beskerm is teen bogrondse saadeters.

“Wanneer toestande gunstig is, kan die sade ontkiem en ‘n nuwe plant groei.”

Shikesho sê sy kyk spesifiek na hoe haarpootnagmuise tot die verspreiding van !nara-sade bydra deur dit te begrawe en daarvan te vergeet, hoe diep hulle dit begrawe en hoe ver weg hulle dit begrawe van waar hulle dit aanvanklik gevind het. Sy gaan ook kyk of die habitat waarin hulle die sade berê, ontkieming bevorder.

“Ons het ook vasgestel haarpootnagmuise verkies !nara(Acanthosicyos horridus)-sade bo dié van die kameeldoring- en anaboom.

BEVINDINGE TOT DUSVER

Shikesho sê jakkalse en nagmuise se werk kan moontlik die verspreidingspatroon van die !nara verduidelik.

“Jakkalse neig om slegs ryp !nara-vrugte te eet, wat ‘n groot invloed op die verspreiding van die sade het omdat dit dan volwasse genoeg is en makliker in die regte toestande kan ontkiem.

“Die data wat ek tot dusver ingesamel het, wys die !nara lewer ‘n waardevolle bydrae tot jakkalse se dieet.

“Daar is reeds bevind jakkalse skei heel sade uit en ek verwag dit sal sade se lewensvatbaarheid en ontkieming verbeter.

“Die feit dat nagmuise sade wydverspreid begrawe en nie alles weer uitgrawe nie, toon hulle speel ‘n rol in die voortbestaan van die !nara-plantbevolking. Die diepte waarteen hulle die sade begrawe (4 cm) is te diep om tot verspreiding by te dra en hopelik begrawe hulle dit in ‘n gunstige habitat,” sê sy.

Sy voeg by die !nara is belangrik vir die plaaslike Topnaar-gemeenskap langs die Kuisebrivier. Hulle is baie afhanklik van die !nara vir kos, ’n inkomste en tradisionele medisyne. Hulle oes die vrugte en skei die sade van die vlees.

Die sade word gebruik om kosmetiese produkte, olie en kos te maak, terwyl die vlees gebruik word om “sjokolade” mee te maak. Hulle eet ook die vars vrug of maak !nara-melk daarvan.

Die gemeenskap verkoop dan van dié produkte en gebruik die wortels vir medisiniale doeleindes.

“Die !nara het fundamentele kulture waarde vir die Topnaar-gemeenskap en help hulle om tot ‘n mate selfvoorsienend in die droogste woestyngebiede te wees.”

GOBABEB

Die Gobabeb- Navorsing- en Opleidingsentrum bied finalejaarstudente van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust) en die Universiteit van Namibië (Unam) ’n internskapprogram van ses maande.

Die doel is om studente te help om praktiese vaardighede aan te leer, asook om krities te dink.

Shikesho het deur dié program by Gobabeb betrokke geraak.

“Nadat ek my voorgraadse studies in 2017 aan Unam voltooi het, is ek by Gobabeb aanvaar. Ek was baie opgewonde, want ek het dit voorheen as ‘n student tydens ‘n velduitstappie besoek en dit het my betower.

“Ek wou nog altyd terugkeer om meer oor die woestyn se ekologie te leer, en ook my kennis en vaardighede as jong wetenskaplike en iemand wat onlangs graad gevang het te verbeter.

“Tydens my internskap het ek onafhanklike navorsing op skerpioene oor hul reaksie op temperature onder toesig van die senior navorser, mnr. Martin Handjaba, en nog ‘n navorser by die stasie gedoen.

“Dit is hier waar ek geleer het hoe om onafhanklik te werk, asook hoe om projekte op te stel, toe te pas en te beplan. Ek het ook my voorleggingsvaardighede verbeter.

“Ná ek die internskap voltooi het, het ek na Gobabeb se uitvoerende direkteur, dr. Gillian Maggs-Kölling, se kantoor gegaan en gevra of daar plek vir my is om nog langer by Gobabeb te woon en te werk.

“Sy het gesê ek kan vir nog ses maande op my internskap aanbly en met langtermyn- moniteringsprojekte uithelp.”

Dit is hier waar Shikesho betrokke geraak het by navorsing op die !nara-plant. Sy was ook betrokke by weermetings en om by hul opleidingsentrum te help met ‘n vier dag lange program vir skoolkinders tussen graad 4 en 12 oor omgewingsbewustheid.

In Januarie verlede jaar is sy tot junior navorser bevorder.

Afgesien van verskeie ander take het sy, in samewerking met die Amerikaanse Dartmouth College, met haar navorsingswerk op die !nara voortgegaan.

Shikesho sê sy het toe besef daar is baie wat nog nie oor die plant bekend is nie.

“Ons navorsingsbestuurder het my aangemoedig om aan ‘n projek vir ‘n meestersgraad te begin dink wat ek kon doen terwyl ek by Gobabeb is.

“Dit was nie maklik om op die navorsingsonderwerp te besluit nie, maar onder leiding van dr. Maggs-Koelling asook Gobabeb se dr. Eugene Marais en prof. Jeremy Midgley van die Universiteit van Kaapstad, kon ons iets kies waaroor ek passievol is.”

Sy sê die studie, waarmee sy onlangs begin het, sal twee jaar neem om te voltooi en sy hoop om haar skripsie teen Augustus 2020 te kan inhandig.

“Ek hoop ek kan my navorsing in wetenskaplike joernale publiseer en met ander belangstellendes deel.

“Vir beter bewaring van ons natuurlike omgewing moet ons ‘n beter begrip hê van al die prosesse, soos saadverspreiding, wat tot die oorlewing en voortbestaan van ons ekostelsel bydra.”

GROOTWORDJARE

Shikesho sê sy het in die sentrale noorde van die land in ‘n klein nedersetting genaamd Oshiteyatemo in die Okalongo-kiesafdeling grootgeword.

Dit is in die Omusatistreek.

Sy sê as kind het sy nie die geleentheid gehad om verder as dié streek te reis nie.

“Ek het hier gewoon tot ek my graad 10-jaar voltooi het, en toe koshuis toe gegaan en my graad 12-jaar in 2012 by die Hoërskool Onegumbo voltooi.”

Daarna het sy Windhoek toe getrek waar sy haar BSc-honneursgraad in omgewingsbiologie in 2016 voltooi het.

“As kind was ek altyd gefassineer deur die natuur en veral met hoe verskillende organismes interaksie met mekaar het. Ook met hoe alles van iets anders vir oorlewing afhanklik is.

“Dit het my baie gehelp om te besluit watter loopbaan ek ná skool wou volg. Ek het besluit die enigste manier hoe ek my passies kan uitleef, is deur omgewingsbiologie te studeer.

“So kan ek meer oor die omgewing te wete kom, leer hoe om dit te bewaar en te beskerm en na verskeie plekke in Namibië reis – hopelik ook na iewers buite Namibië.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer