James sê in e-posse oor geldspoor

Die hoofondersoekbeampte voer aan die Fishrot-beskuldigdes is onreëlmatig in magsposisies aangestel.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die Teenkorrupsiekommisie (ACC) het e-posse op een van die Fishrot-beskuldigdes, mnr. James Hatuikulipi, se selfoon gevind waarin hy versoek afleweringspapiere moet gegenereer word om te verseker dat ’n geldspoor nie gevind kan word nie.
Die ACC se hoofinspekteur Andreas Kanyangela se derde dag van getuienis, het gister in die hoërhof in Windhoek hervat. Tydens sy getuienis het hy e-poskorrespondensie tussen Hatuikulipi en ’n Johan Oelofse aan die hof voorgelees.
Die korrespondensie met Oelofse lees as volg: “Ons moet ’n handelaar in die netwerk kry wat vir ons afleweringspapiere kan genereer.” Die antwoord wat hy ontvang het, lui: “Is daar enige gevaar dat die betaling ontdek sal word. Ons wil nie papiere genereer wat verwys na vis wat afgelewer is en dan is daar ’n geldspoor nie.”
“Ek dink nie hulle sal van die betalings uitvind nie. Ons het die betrokke rekeninge toegemaak en hulle het nie die kapasiteit om die komplekse buitelandse transaksies te vind nie,” het Hatuikulipi geantwoord.
BEWEERDE ONREËLMATIGE AANSTELLINGS
Kanyangela het gister getuig: “Die beskuldigdes het ’n plan beraam om voordeel te trek uit die viskwotas wat deur die ministerie aangewys word. Hulle het hierdie plan begin deur vir mekaar poste te verseker waar hulle toegang tot die kwotas kan verkry.”
Kanyangela voer aan Hatuikulipi se aanstelling as die voorsitter van Fishcor se raad het nie volgens prosedure geskied nie.
“Dit was nie volgens Fishcor se beleid gedoen nie. Die voormalige minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, het hom aangestel en nie deur die raad soos wat die beleid vereis nie,” het hy gesê.
Die ACC het ook bewyse van ’n teksboodskap wat mnr. Sacky Shanghala aan Esau gestuur het waarin hy James as voorsitter aanbeveel. Volgens hom was mnr. Mike Nghipunya se aanstelling as die uitvoerende direkteur van Fishcor ook nie volgens beleid nie, aangesien die pos nooit geadverteer is nie en geen onderhoude gevoer is nie.
WYSIGING VAN DIE WET
Esau is in 2010 as visseryeminister aangestel en die wet op mariene hulpbronne het destyds gestipuleer slegs regtehouers kan viskwotas ontvang, maar volgens Kanyangela se getuienis is regtehouers se kwotas in 2014 verminder en aan nieregtehouers toegeken.
Ná afloop van ’n hofsaak waar die ministerie op grond hiervan aangekla is, het Esau voorgestel dat die wet gewysig moet word en dat Fishcor namens die staat die mariene hulpbronne moet bestuur.
Die kabinet het dit goedgekeur en die aanwysingsooreenkoms, wat Fishcor in staat stel om namens die ministerie op te tree, is in November 2015 deur Esau en James onderteken. Nghipunya het ook as getuie geteken.
SAMHERJI
Fishcor het verskeie ooreenkomste met maatskappye in die Samherjigroep aangegaan, wat volgens Kanyangela sowat N$75,6 miljoen aan Fishcor oorbetaal het.
“Die ondersoek het getoon dat Fishcor daarna oorbetalings aan individue en entiteite gemaak het met wie hul nie ooreenkomste aangegaan het nie. Nghipunya het die betalings goedgekeur.”
Fishcor het aan onder meer die volgende individue en entiteite geld oorbetaal: N$1,2 miljoen aan Esau; James het N$500 000 ontvang; Marén de Klerk N$332 000; Erongo Clearing and Forwarding cc (Tamson Hatuikulipi) N$4 miljoen; JTH Trading cc (Tamson) N$11,7 miljoen; Jacob Investment cc (Shuudifonya en Nghipunya) N$2 miljoen; Aufika Logistics cc (Pius Mwatelulo) N$11,7 miljoen; Van Lill Investment cc (James) N$14,7 miljoen en Swapo het sowat N$6 miljoen namens Shanghala en James ontvang.
“Hierdie betalings was nie in pas met die regeringsdoelwitte waarvoor dit bedoel was nie,” het Kanyangela gesê.
Kanyangela se getuienis sal vandag voortduur.
[email protected]

FOTO
Hoofinspekteur Andreas Kanyangela tydens sy getuienis gister in die hoërhof in Windhoek. Foto Facebook
Die Fishrot-beskuldigdes Sacky Shanghala (links), Mike Nghipunya (middel) en James Hatuikulipi tydens gister se hofverrigtinge. Foto Facebook

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer