Jan Jurgens by ’n mylpaal

Baanbreker van die visbedryf
Des Erasmus
Des Erasmus - Die man wat beslag gegee het aan die beginsel en beleid van die verNamibiesering van die visbedryf bereik aan die einde van Augustus sy tagtigste lewensjaar. Hy is dr. Jan Jurgens, ’n grondlegger van Namibië se visbedryf en ook die daaropvolgende huidige beleid.
Hy het die merkwaardige rol as direkteur van visserye in die oorgangsregering van SWA/Namibië vertolk.
Hoewel sommige van die onderonsies met onsimpatieke amptenare van Pretoria in uiters warm vergaderings ontaard het, was die uiteinde dat reeds lank voor Namibië se onafhanlikheid die Oorgangsregering seggenskap oor 84% van die mariene bronne verkry het terwyl Suid-Afrika regte oor die oorblywende 16% behou het.
Dit was warm gesprekke waarvan Jan Jurgens tot vandag toe een strofe onthou: “Julle Suidwesters moet dankbaar wees vir wat ons vir julle doen. Julle besit nie ’n enkele vis in die see nie!”
Die toendertydse Suid-Afrikaanse seggenskap het sy oorsprong in dié deel van die Eksklusiewe Ekonomiese Sone wat deur die besit van die Walvisbaaise enklave en die eilande langs die kus destyds gegenereer was. Uiteindelik was Jurgens ook betrokke by samesprekinge aangaande die inlywing van die Walvisbaaise enklave en die eilande onder Namibiese jurisdiksie.

Onafhanklikwording
Ná Namibië se onafhanklikwording behou die nuwe regering hom as lid van die bestuurspan by visserye en in latere jare word hy as permanente sekretaris van die ministerie van visserye en mariene hulpbronne aangestel. Hy beskou die aanstelling as ’n besondere eer en mylpaal en as ’n erkenning van sy professionele benadering en kennis, gesien teen die agtergrond dat hy nooit lid van die regerende party was nie. Terselfdertyd beklemtoon hy dat wanneer iemand ’n senior amp in die staatsdiens beklee, so ’n persoon moreel verplig is om regeringsbeleid ten volle tot die beste van sy of haar vermoë uit te leef, al sou jy aan ’n opposisieparty behoort.
Tydens sy termyn as permanente sekretaris dien hy in die direksies van Fishcor en Seaflower, asook as voorsitter van die direksie van die Namibian Ports Authority (Namport). Voor die Namibiese onafhanklikwording was hy voorsitter van die Transgariep-komitee wat saam met Suid-Afrikaanse amptenare oor sake rakende die hele raamwerk van funksionele en benuttingsaspekte oor die Oranjeriviergrens tussen die twee lande moes besin en aanbevelings doen.
Dr. Jurgens, by sommige net as Dok Jan bekend, is ’n derde geslag Namibiër. Reeds in 1885 vestig sy oupagrootjie met sy gesin in die Karasberge. Prof. Ernst Stals stel dit in sy boek Môrewind oor die Karasberge­ dat hulle waarskynlik die eerste Afrikanergesin (met die klem op gesin) was om in die destydse Groot Namakwaland te vestig.

Stampriet
Op laerskool op Stampriet was hy en wyle dr. Jan Spies soos Dawid en Jonathan. En, erken hy: “Ons was die skoolhoof-kunstenaar, Banie van der Merwe, se witbroodjies. Dalk onder meer omdat ons beide akademies relatief goed gepresteer het. Bykomend was Jan Spies, soos die skoolhoof, baie behendig met die verfkwas.”
Vir hoërskoolopleiding gaan Jan Jurgens na Paarl Boishaai terwyl Dok Spies Windhoek Hoërskool bywoon. So gaan Jan Spies Pretoria toe vir tersiêre opleiding, terwyl Jan Jurgens Stellenbosch toe is. Hier verwerf hy die grade BSc, MSc (cum laude) en DSc en begin sy professionele loopbaan eers kortstondig as dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland, maar spoedig daarna vir byna 22 jaar lank as dosent in soölogie aan die Universiteit van Stellenbosch.
Onder andere tel die huidige minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, en die president van die Namibiesie Landbou-unie, mnr. Ryno van der Merwe, onder sy studente. Jurgens merk droogweg op: “Ironies, maar nie een van hierdie twee manne maak vandag in hul huidige nering regstreeks gebruik van dit waarvoor hulle destyds by my in die klas gesit het nie.”

Navorsing
Terwyl hy as dosent op Stellenbosch werk, word hy die vyfde Suid-Afrikaanse bioloog oor ’n tydperk van vyftig jaar om die Senior Von Humboldt Stipendium vir ’n jaar se navorsing in Duitsland te verwerf. Met sy gesin woon hy in Kiel waar hy aanvanklik aan die Christiaan Albrechts Universiteit, maar later vir twee maande in Stockholm, oor die primêre segmentale patroon van die kopsenuwees van werweldiere navorsing doen.
Wat het meegebring dat hy Stellenbosch vir Windhoek verruil het?
“Ek is ’n volbloed Namibiër en toe die oorgangsregering destyds die beheer van visserye van Suid-Afrika begin terugneem, het my ou Stellenbosse klasmaat, Polla Swart, gewese direkteur van natuur­bewaring, my gebel en uiteindelik was ek terug in my heimat.”
Spyt? “Ja, maar net omdat ek nie al jare vroeër na my land teruggekeer het nie.”
Dr. Jurgens was in sy jonger jare ten nouste by gimnastiek betrokke. As visepresident van die Namibiese Gimnastiekfederasie verteenwoordig hy Namibië in Algiers by die stigting van die Afrika Gimnastiekfederasie. In 1975 was hy, sy vrou Betta en hul seun, Christo, lede van die Suid-Afrikaanse Trimgimspan wat in die destydse Wes-Berlyn deelgeneem het.
Op Stellenbosch het hy die studente­span afgerig en was hy voorsitter van twee klubs, ook voorsitter van die Boland Gimnastiekunie, sowel as voorsitter van die Suidsirkel, synde die unies van Boland, Westelike Provinsie, Oostelike Provinsie, die Suidwestelike Distrikte en Grens.
Hy dien verskeie jare as lid van die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Gimnastiekfederasie en was ook visepresident van die Gimnastiekfederasie van die Suid-Afrikaanse Universiteite.

Net een lewe
“’n Mens het net een lewe.” sê hy, “Óf jy kan daarvan ’n plesier en voorbeeld vir ander maak óf iets so kosbaar soos dit opmors en daar sal nooit weer ’n geleentheid wees om dinge reg te stel nie.”
In 2005 word limfoom by hom gediagnoseer en die patoloog van Kaapstad deel hom mee dat hy een kans uit ’n honderd het om dit te oorleef. Hy bly positief: “Ek het ’n vol lewe gehad en wat moet gebeur sal gebeur.” Danksy die professionele kundigheid van dr. Annelle Zietsman en haar chemoterapie is hy nou in remissie en lewe voluit.
Betta, ’n Durbanse stadsjapie, “het ter wille van my ook ’n egte Namibiër geword, maar ek kon nie daarin slaag om van haar ’n plaasjapie te maak nie”.
Hulle woon dus in Windhoek. Twee van hul drie kinders is ook Namibiërs. Die seun, Christo, is ’n tandarts op Swakopmund en die baba, Elmarie, ’n onderwyseres op Tsumeb. Die ander dogter, Estie, is betrokke by Paarl Gimnasium - en dit terwyl Dok Jan ’n Boishaaier was!

Hoogtepunte
Word hy gevra oor hoogtepunte van sy lewe, vind hy dit moeilik om iets uit te sonder. Tog sonder hy enkele geleenthede en aangeleenthede uit. In 1972 asook in 1973 was hy lid van ’n internasionale paneel wat in Duitsland navorsingsprojekte van jong navorsers uit Europa en die destydse Oosbloklande moes beoordeel. So ontmoet hy vir Neil Armstrong, die eerste mens op die maan, en nuttig hulle saam ’n middagmaal. By ’n ander geleentheid was hy saam met die destydse minister Helmuth Angula ’n oudiënsie met die emir van Koeweit, wyle sjeik Jabber al-Ahmad al-Sabah, gegun.
Dan was daar die gesprek in Brussel met die tweede visepresident van die Europese Parlement om aan haar uit te wys dat die wyse waarop robbe in Namibië geoes word, ooreenstem met die voor­skrifte van die Europese Unie oor hoe om diere dood te maak. Ook in Brussel, maar voor Namibië se onafhanklikheid, voer hy in die geheim samesprekinge met die destydse kommissaris vir visserye van die Europese Unie om ’n beter en groter seggenskap vir ons land te verkry. In daardie stadium het ’n vloot van internasionale bote die Namibiese bronne geplunder.
En waarmee hou ’n tagtigjarige homself besig? “My dae is te kort om by alles uit te kom.”
Wanneer hy nie op sy plaas naby Kalk­rand teen die Visrivier besig is nie, sit hy met sy skootrekenaar om foto’s vir sy kinders en kleinkinders te liasseer, of om vir hulle storietjies oor die ou dae te skryf.
Ook vir hulle het hy die genealogie van die Jurgense in Namibië sedert die aankoms van die eerste voorvader in 1734 in die Kaap, op skrif gestel. “Die oumense, naasbestaandes, gaan nou só vinnig dood dat ek dié werk sal moet hersien alvorens my tyd ook aanbreek!”
Word ’n groot partytjie op tagtig oorweeg?
“Nee, net ’n lekker, informele samekoms met my gesin, my sussie en swaer.”

Sy boodskap
“Hou op om swartgallig of negatief te wees. Ons leef in ’n pragtige politiek-stabiele land. Periodieke droogtes en swaar tye is soos goeie reëns en voorspoed deel van die natuur, en dus ook deel van elkeen van ons se lewe. Pas daarby aan en benader dit positief pleks van daardeur ontmoedig te word.
“Wees elke dag dankbaar vir die mooi dinge, jou gesinne en die mense rondom jou. Uiteindelik is elkeen van ons verantwoordelik vir ons eie doen en late en diegene wat mislukkings is, moenie ander daarvoor skuld gee nie.
“Wanneer ’n mens probeer om byna alles positief te sien en te benader, is jou hele lewe as sodanig ’n plesier en ’n hoogtepunt – jou gesin, jou familie en goeie vriende, jou werk . . . en deesdae soms selfs die was van skottelgoed.”

Só sê ander oor hom
Dr. Bogdam Draganik, assistent-uitvoerende sekretaris van die Internasionale Kommissie vir Suidoos-Atlantiese Visse­rye:
“These past months I have seen you (Jan Jurgens) a couple of times on Spanish TV talking about the fisheries problems of your young country and defending its interests in an efficient and diplomatic manner. I am convinced that you are now making the best possible­ use of the professional knowledge and talent which I have always admired in you.”

Ana Gordoa van die Wetenskaplike­ Navorsingsraad van Spanje in ’n voorwoord tot ’n boek:
“It is no sheer coincidence that you (Jan Jurgens) are the only person mentioned in this foreword.
I have always wanted to express how much I admire you professionally and personally.­
“Every time I look at the further past or at the most recent one I see in you a model to follow. I hope you will enjoy looking at one of the many works you have support­ed.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!