Jan Taks bereid om anderpad te kyk
Jan Taks bereid om anderpad te kyk

Jan Taks bereid om anderpad te kyk

Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy



Die keiser soek N$4 miljard se uitstaande belasting en ­daarvoor is hy bereid om groot “afslag” op N$19 miljard se opgeloopte rente en boetes te gee.

Belastingbetalers wat die oorspronklike hoofsom van hul belasting plus tot 20% van die opgeloopte rente op dié bedrag betaal, hoef nie vir hul boetes op te dok nie.

Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het die aankondiging gister gemaak. Kort voor dit het die minister van inligting en kommunikasietegnologie, mnr. Tjekero Tweya, tydens ''n nuuskonferensie gesê die kabinet het dié aansporingsmaatreël goedgekeur. Belastinggeld is noodsaaklik om die kontantkrisis waarin die regering hom bevind, te verlig.

Die vergunning geld vir inkomstebelasting, maatskappybelasting en belasting op toegevoegde waarde (BTW).

Volgens Schlettwein strek van die agterstallige belasting tot 20 jaar terug.

Die minister het egter nie net goeie belastingnuus gehad nie.

Om te verseker belastingbetalers probeer nie die Ontvanger ontglip nie, gaan strenger stappe teen ontduikers gedoen word. Dit sluit die vries van rekeninge en bates van skuldiges in.

As laaste uitweg kan die regering belastingontduikers met ''n siviele geding hof toe sleep.

Die regering gaan ook weer vereis dat sakelui ''n sertifikaat van goeie stand moet inhandig as hulle vir ''n tender aansoek doen, ten einde te toon hul belasting is op datum . Dié maatreëls, wat intussen verslap is, het in die verlede goed gewerk, sê Schlettwein.

Belastingbetalers wat agterstallig is, moet die Ontvanger dadelik kontak om terugbetalingsplanne te finaliseer, sê Schlettwein.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer