Jan Taks gee laaste kans
Jan Taks gee laaste kans

Jan Taks gee laaste kans

‘n Gulde geleentheid breek op 1 Februarie vir agterstallige belastingbetalers aan.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het ‘n aansporingsprogram oor uitstaande belasting aangekondig.

Enige iemand met uitstaande belasting of wat nog nie as belastingbetaler geregistreer is nie, het vanaf 1 Februarie tot 31 Julie vanjaar grasie. Daartydens kan alle agterstallige belasting en 20% van die uitstaande rente betaal word. Die oorblywende 80% in rente en boetes sal vrygeskeld word.

Volgens Schlettwein is die totale uitstaande belasting nagenoeg N$4 miljard. Saam met rente en boetes is dit ongeveer N$19 miljard.

“Belastingbetalers met agterstallige rekeninge en individue of maatskappye wat kwalifiseer om vir enige soort belasting te registreer, maar dit nie gedoen het nie, word hierdie eenmalige geleentheid gebied om gehoor aan ons belastingwette te gee,” het Schlettwein gesê.

Geen belasting afgeskryf

Hy het gesê geen belasting sal afgeskryf word nie.

Dit is bloot die rente en boetes waarvan 80 persent afgeskryf word, op voorwaarde die volle uitstaande bedrag en 20% van die rente word in die grasietydperk betaal.

Die aanmoedigingsprogram is van toepassing op die betalers van inkomstebelasting, belasting op toegevoegde waarde (BTW), BTW op invoere, werknemersbelasting, seëlbelasting, belasting van nie-inwonende aandeelhouers en belasting op tantieme, wat patente, handelsmerke en kopiereg insluit.

Diegene wat van die vergunning gebruik wil maak, kan aansoek doen om aan die program deel te neem. Aansoekvorms sal landswyd by die kantore van die ontvanger van inkomste beskikbaar wees en moet by die naaste belastingkantoor ingedien word.

Volgens Schlettwein kan die uitstaande belasting oor ‘n maksimum tydperk van ses maande in paaiemente afbetaal word. Die laaste paaiement moet op 31 Julie betaal word.

“Sodra die volle belasting en die 20% rente betaal is, sal die oorblywende 80% rente en boetes afgeskryf word,” het Schlettwein gesê.

Spesiale bankrekening

Die ministerie het ‘n rekening by die Bank of Namibia geopen waarin agterstallige belasting betaal moet word.

Die rekeningbesonderhede is: Ontvanger van Inkomste, takkode 980-172, lopende rekening-nommer 165011.

Schlettwein het gesê normale inkomstebelasting moet steeds in die gewone rekening van binnelandse inkomste inbetaal word.

Ten einde vas te stel wat die korrekte bedrag verskuldig is, moet alle uitstaande belastingopgawes by die departement binnelandse inkomste ingedien word.

Diegene wat nie hul belastingvorms ingedien het nie, wat vals belastingaanspreeklikheid ingedien het en belastingbetalers wat nooit geregistreer het om belasting te betaal vir die tydperk voordat die aansporingprogram in werking tree nie, kom ook in aanmerking vir die program, mits hulle die belastingopgawes in die grasietydeperk indien en die volle uitstaande belasting en 20% rente betaal.

Die minister het gesê boetes en rente wat voor die datum van die grasietydperk betaal is, sal nie terugbetaal word nie.

Uitsonderings

Agterstallige belasting wat verband hou met bedrog, onwettige belastingpraktyke en korrupsie kom nie in aanmerking vir die program nie.

Schlettwein het gewaarsku indien agterstallige betalers nie van die grasietyd gebruik maak om hul sake reg te stel nie, die ministerie sy invorderingmandaat sal afdwing asof daar nie ‘n grasietydperk was nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer