Janco waardeer Namibiese geleenthede
Die Saracens-flank sê die toekoms lyk blink namate meer van sy landgenote beroepsrugby in die buiteland speel.
Andrew Poolman
Hy sal altyd ’n Namibiër in murg en been bly en sal vir Namibië aanhou speel vir so lank as wat hy kan.
Die losvoorspeler Janco Venter van Saracens is in ’n openhartige onderhoud met die Kaapse sportaanbieder Caro Louw op Instagram eergisteraand oor verskeie stadiums van sy loopbaan uitgevra.
Venter sou gisteraand vir die tweede keer vandat hy by die Londense spogklub Saracens aangesluit het, vanaf die reserwebank opgestuur word vir die Engelse premierligawedstryd teen die Sale Sharks.
Volgens Venter (25) is dit ’n positiewe stap vir Namibië dat groeiende getalle jong spelers kanse aangryp om in professionele ligas oorsee te speel.
“Van ons ontluikende spelers het vanjaar onder meer kontrakte in Uruguay, die VSA en Roemenië losgeslaan. Hierdie spelers raak jaar vir jaar beter en is op koers om ook eendag raakgesien te word om in die hoogste ligas in Europa of Suid-Afrika te speel.”
Tydens die onderhoud was Venter vol lof vir die gulde geleenthede wat dit inhou om ’n nasionale span soos Namibië te verteenwoordig – selfs in vergelyking met spelers in Suid-Afrika wat hulle kwansuis in meer professionele opsette bevind.
“In my twee jare in die Namibiese o.20-span het ons na Chili en Hongkong getoer. Saam met die senior toetsspan het ek reise na lande soos Uganda, Kenia, Marokko, Uruguay en Roemenië onderneem, wat nie noodwendig bestemmings is wat ek ooit sou sien as dit nie vir rugby se geleenthede was nie.
“Om rugbytoetse as besoeker in enige van daardie plekke te wen, is net so moeilik as wat dit vir ons teenstanders is wat na Windhoek en sy hoogte van 1 600 meter bo seespieël moet reis.”
Venter sê vir hom was die 2019 Wêreldbeker in Japan ’n heelwat ander ondervinding as sy eerste Wêreldbeker vier jaar tevore in Engeland.
“In 2015 het ek gedurende die toernooi my 21ste verjaarsdag gevier. Ek was nog ’n bietjie grootoog en in ’n mate bewus van die groot geleentheid. Vier jaar later is ek as een van die senior spelers gereken en het ek ’n ander rol in die groep gehad.”
Phil Davies was volgens hom ’n ongelooflike afrigter en een van die voorste mentors in sy loopbaan.
“Die 2019 Wêreldbeker was die hoogtepunt van die voorafgaande sewe of agt jaar van die pad wat ons groep saam met Phil gestap het. Ons gesamentlike doelwit was om vir Namibië sy eerste wedstryd in die geskiedenis by ’n Wêreldbekertoernooi te gaan wen, wat (teen Kanada) heeltemal realisties was.
“Ongelukkig het die aankoms van die tifoon Hagibis die laaste sê gehad en is die wedstryd op die oggend voor die afskop gekanselleer. As spelers was ons dit grootliks te wagte, want teen vyfuur die oggend het dit gevoel asof die hotelgebou se mure enige oomblik kon ingee.
So teen 06:30 het die bekendmaking gekom dat die wedstryd gekanselleer is vanweë verspoelings wat toegangspaaie na die stadion onbegaanbaar gemaak het.
“Dit was uiteraard ’n teleurstellende dag – veral vir die ou krygers in ons span wat reeds vir hul derde of vierde Wêreldbeker teenwoordig was. Aan die ander kant het niemand beheer oor die weer nie en was dit ook ’n verligting dat geen speler of toeskouer hul veiligheid in die gedrang hoef te gebring het nie.”
Die twee Wêreldbeker-botsings teen die All Blacks in 2015 en verlede jaar was beide ongelooflike wedstryde en Venter is trots op beide die vertonings waarin Namibië tot die skouspel bygedra het en die Kiwi’s met tye goeie opdraand gegee het.
“Om hulle die haka voor jou te sien uitvoer, is nie werklik intimiderend nie, maar dit stel jou inderdaad voor ’n uitdaging om te wys waarvan jou span gemaak is. As teenstander gee dit jou gewis ook ’n sterk inspuiting van energie.
“Ons hardste wedstryd by die Wêreldbeker in Japan was egter beslis teen die Springbokke. Hulle het gewis ’n harde kant in hul spel gehad en dit was vir my nie ’n groot verrassing dat hulle die toernooi gewen het nie.”
PAD VORENTOE
Dit is nog voortydig om oor Namibië se kanse by die 2023 Wêreldbeker in Frankryk te bespiegel, sê hy.
“Ek is ’n massiewe ondersteuner van Namibië en sal altyd vir die span beskikbaar wees, maar ons weet daar is baie werk wat gedoen moet word. Daar is ook sprake dat die Afrika-spanne se pad na WB-kwalifisering dalk moeiliker gemaak kan word.
“Nietemin is ons spelers absoluut vasberade dat Namibië weer moet kwalifiseer. Dis nie eens onderhandelbaar nie. Ek weet die jong ouens in Namibië werk hul dinges af om ondanks die stilstand van rugby (weens Covid-19) fiks en in goeie vorm te bly.”
OM TERUG TE PLOEG
Venter het erken dat hy ná afloop van sy rugbyloopbaan nie juis homself opnuut in die voltydse werk van rugby-afrigter kan voorstel nie.
“Ek voel nogtans ’n verpligting dat ek eendag sal wil terugploeg om aspirerende spelers by te staan en te inspireer uit wat ek geleer en beleef het.
“As Namibië deurentyd sy getal voltydse professionele rugbyspelers kan vergroot, sal dit hom in die toekoms goed te pas kom.
“My raad aan jong spelers wat eendag op topvlak wil speel, is om te aanvaar dat dit ’n reis is waarin jou groei en deursettingsvermoë getoets sal word. Op jou pad sal jy baie uitdagings en kritiek te bowe moet kom en soms sal jy vir jouself moet opstaan en nie sommer net ’n nee aanvaar nie. Uiteindelik is daar baie waarheid in die gesegde dat aanhouer wen, want daar is spelers met veel meer talent as enigiemand wat eenvoudig ophou rugby speel, om watter rede ook al.”
Venter, wat vir vyf jaar Varsitybekerrugby vir Maties gespeel het, sê dit is ’n nuwe uitdaging om aan die verwagtinge van professionele rugby te voldoen.
“Om 20 tot 30 wedstryde per seisoen vir ’n beroepsklub te speel, is anders as die nege wedstryde van die Varsitybeker. In my twee jaar by Jersey Reds was ek bevoorreg om ongelooflike afrigting te kry en hulle het my baie speeltyd gegee om myself werklik te geniet.
“Met my aankoms by Saracens moes ek twee weke in kwarantyn uitdien, maar ek leer voluit soveel as wat ek kan en wil graag soveel as moontlik bydra. Ek kan nie dink aan ’n beter klub ter wêreld om by betrokke te wees nie.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie