• Tuisblad
  • Sake
  • J&J: ‘Ons poeier is veilig’, maar skik vir $2 miljoen
J&J: u2018Ons poeier is veiligu2019, maar skik vir $2 miljoen
J&J: u2018Ons poeier is veiligu2019, maar skik vir $2 miljoen

J&J: ‘Ons poeier is veilig’, maar skik vir $2 miljoen

Johnson & Johnson (J&J) gaan ’n vrou wat beweer het sy het kanker gekry omdat sy die babapoeier gebruik het, $2 miljoen betaal.

Die vervaardiger van farmaseutiese produkte hou egter voet by stuk dat sy poeier veilig is.

Hy word daarvan beskuldig dat dit asbes bevat wat dan kanker by vroue wat dit gereeld gebruik het, tot gevolg gehad het.

Dit volg nadat J&J glo ’n skikkingsooreenkoms met Linda O’Hagan onderteken het.

Die skikking is ’n buitengewone besluit, omdat J&J in duisende hofsake gewikkel is weens dié bewering.

Die hooggeregshof in Oakland in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië het reeds vir twee weke die saak aangehoor, voordat die regter jurielede Maandag ingelig het dat J&J met die eiser geskik het.

Hoewel die besonderhede oor presies waaroor hulle ooreengekom het, nie bekend gemaak is nie, het mense met kennis van die saak, dit bevestig.

“In litigasie van elke aard is daar eenmalige situasies waar skikking ’n redelike alternatief is,” sê Kim Montagnino, ’n woordvoerder van J&J, in ’n verklaring.

“Die besluit om te skik, verander geensins ons standpunt dat ons poeier veilig en asbesvry is en nie kanker veroorsaak nie.”

Daar is sowat 17 000 eisers wat hofsake teen J&J bring.

In 2019 het die maatskappy agt sake gewen, maar vyf verloor.

Een van sy groot oorwinnings was toe die hof in St. Louis ’n vorige uitspraak ter syde gestel het deur te bevind ’n vrou se bewering was vals dat sy eierstokkanker gekry het omdat sy die poeier gebruik het.

Haar saak was deel van ’n groter saak waar uitspraak in 2018 téén J&J gelewer is. Meer as 20 vroue het deel van die saak gevorm en indien J&J skadevergoeding moes betaal, sou dit sowat $4,7 miljard beloop.

Hoewel dit ongewoon is dat J&J in die middel van ’n hofsaak skik, het hy al ooreenkomste gesluit net vóór of selfs gedurende ’n verhoor.

Die maatskappy het nog nie enige georganiseerde skikkingsprogram opgestel nie. Hy verkies om eerder sake in die hof te betwis.

O’Hagan is in Augustus 2018 met mesotelioom gediagnoseer. Dit is ’n kanker wat verband hou met die blootstelling aan asbes.

Haar advokate sê dokters het na die diagnose gemaak is voorspel dat sy vir minder as twee jaar gaan leef.

O’Hagan is van Ierse afkoms, maar het reeds in 1991 na Amerika verhuis.

Bewyse toon dat sy vir dekades lank babapoeier gebruik het.

’n Afdeling van die mynmaatskappy Rio Tinto Minerals, nog ’n verweerder in die saak, het ook vir ’n onbekende bedrag met O’Hagan geskik.

O’Hagan beweer dié maatskappy het die talk wat in J&J se babapoeier gebruik is, gemyn en geweet dat dit met asbes besmet is.

Nog ’n regter het egter Maandag ’n soortgelyke saak van die hand gewys in ’n hof in die Solano-distrik in Kalifornië.

Die regter se bevinding was dat die eiser nie kon bewys dat die poeier wat sy gebruik het, asbes bevat het nie.

“Die blote gevolgtrekking dat ’n talkproduk asbes bevat, skep nie ’n regsaak nie,” sê regter Wendy Getty.

– Bloomberg/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!