Jannie Geldenhuys: 'Nag, my generaal'
Jannie Geldenhuys: 'Nag, my generaal'

Jannie Geldenhuys: 'Nag, my generaal'

Dalk is die saadjie daardie aand geplant vir my belangstelling in die internasionale politiek, sê Sarel van der Walt.
Genl. Jannie Geldenhuys (83), 'n voormalige hoof van die eertydse Suid-Afrikaanse weermag (SAW), is aan alzheimersiekte dood. Sarel van der Walt dink terug aan sy dae as dienspligtige onder Geldenhuys se bevel in die eertydse Suidwes-Afrika.

Dit was byna 39 jaar gelede, in Desember 1979, op die kusdorp Swakopmund.

Ek het pas as 'n 19-jarige diensplig-korporaal van die Infanterieskool in Oudtshoorn in Suidwes aangekom.

In Windhoek het ek bevel gekry ek en 'n troep moet ons die volgende dag op Swakopmund by die ­generaal aansluit.

Op Swakopmund het ons in die kombuisie van die gebou waar die generaal se kantoor in Swakopmund was, gestaan en vis en skyfies eet toe genl.maj. Jannie Geldenhuys skielik ingestap kom. Toe ek hom sien, het gevoel of ek my in 'n ander bloedgroep (spreekwoordelik, natuurlik) inskrik. Op Oudtshoorn het ons nie met generaals skouer geskuur nie.

Daar was ons bang vir die onderkorporaals . . . Daardie middag op Swakop was die eerste keer wat ek in 'n generaal se geselskap was. Geldenhuys het my gesien en nader geloop. Daar was 'n glimlag op sy gesig. Hy het sy hand uitgesteek.

“Ek ken jou nie? My naam is Jannie Geldenhuys. Welkom hier by ons.”

Nie “generaal Geldenhuys” nie. Net “Jannie Geldenhuys”.

Ek kan nog goed onthou ek het na sy rangkentekens met die swaardjies en die kasteel op sy skouers gestaar.

Dit was van lap, verbleik en het soos ons destyds in die army gesê het al “houding” gehad.



ONDERHANDELINGE OOR SUIDWES

Geldenhuys was toe die bevelvoerende ­generaal van die Kommandement Suidwes-Afrika wat enkele maande later die SWA Gebiedsmag sou word.

Sy kantoor en dié van die administrateur-generaal van Suidwes-Afrika (toe nog dr. Gerrit Viljoen) het Desembermaande Swakopmund toe verskuif omdat so baie Suidwesters hier vakansie gehou het.

My opdrag was om Geldenhuys te bewaak wanneer hy in die openbaar verskyn het. Wanneer hy op kantoor was, moes ek en die troep om die beurt tussen sy en Viljoen se kantore sit. Ons moes seker maak geen “ongewenste elemente” gaan daar in nie. Dit was midde in die Bosoorlog.

In daardie tyd was die Verenigde Nasies (VN) se resolusie 435 oor Suidwes-Afrika net anderhalf jaar oud. Geldenhuys was uiteraard as kommandementsbevelvoerder in Suidwes ten nouste betrokke by die onderhandelinge.

Op 'n keer het die VN vir lt. genl. Dewan Prem Chand van Indië Windhoek toe gestuur.

Geldenhuys se opdrag was ek moes help toesien dat Chand veilig is.

“Wees beleefd met hom, maar moet nie te veel gesels nie, want ek sien jy praat maklik,” onthou ek nog Geldenhuys se woorde.



DIE GENERAAL WAT OMGEE

Met daardie vergadering met die VN-afvaardiging het Geldenhuys, soos sy gebruik was, in 'n stadium uit die vergadersaal gestap om te hoor of ons wat buite wag gestaan het “darem al iets gehad het om te eet of te drink”.

'n Ander keer was Martti Attisaari as VN-kommissaris vir Namibië in Windhoek. Hy het een aand by die Geldenhuyse se huis in Klein Windhoek gaan eet.

Ek het buite by die hek in 'n motor gewag. Die ­militêre polisie en die polisie was ook daar.

So 21:00 die aand het Geldenhuys uit die huis gekom en na my weermagmotor geloop.

“Kom binne, kom kry iets om te eet,” het hy gesê.

Binne in die huis wou ek my vergaap aan al die vreemde ­diplomate wat daar was. Dalk is die saadjie daardie aand geplant vir my belangstelling in die internasionale politiek.

Max du Preez was daardie jare Beeld en sy susterskoerante se verteenwoordiger in Windhoek. Ek het hom baie keer by mediakonferensies by Bastion, die weermaghoofkwartier in Windhoek, gesien.

Ek het nou nog 'n uitknipsel van 'n berig wat hy oor Geldenhuys vir Beeld geskryf het toe dié as hoof van die leër aangestel is. Die opskrif was: “Geldenhuys is soldaat én diplomaat.”



DIE 'ROFIE-GENERAAL'

Op 'n keer kom een van die troepe wat die einste Bastion bewaak het na my en sê: “Huh, corporal, I hear they say Swapo wants to take over this place? Is it true, huh?”

Ek was stomgeslaan dat hy na byna 'n jaar in die army uiteindelik agtergekom het wat hy hier doen.

“When you see the general again, ask him,” was my dom antwoord.

Twee dae later stap ek by die troepe se wagkamer in. Daar sit Geldenhuys toe met 'n firebucket (army-taal vir 'n koffiebeker) in die hand en hy verduidelik aan die troep waaroor die stryd in Suidwes gaan.

Kort hierna het Geldenhuys hoof van die leër en luitenant-generaal geword en is Pretoria toe verplaas. 'n Paar weke later was hy terug in Windhoek op sy eerste amptelike besoek.

Sy nuwe rangkenteken was van plastiek. “Generaal lyk nou soos 'n ­rofie-generaal,” het een van die troepe vir Geldenhuys gesê.

Die generaal het gebloos en verleë geglimlag.

Jannie Geldenhuys, of Baas Jan soos ons destyds in die army na hom verwys het, was nie net 'n generaal nie. Hy was 'n mensch wat altyd my generaal sal wees.

Nag, generaal.

•Sarel van der Walt is 'n politieke joernalis van Netwerk24.

– Netwerk24/Berig verkort

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!