Janu-worrie: 13 wenke om te oorleef
Janu-worrie: 13 wenke om te oorleef

Janu-worrie: 13 wenke om te oorleef

Vas het in onlangse jare gewild geword as deel van 'n dieetplan vir gesondheid en gewigsverlies.
Francois Williams



Vir baie salaristrekkers ontaard Januarie dikwels in “Aanhou worry” weens die lang tydperk tussen die vroeë betaling van hul salaris in Desember en die volgende betaaldag in Januarie, tesame met die ekstra uitgawes oor die vakansie- en terug-skool-toe-tyd. Hier is 13 wenke vir hoe om te oorleef tot die Januarie-betaaldag.



1. Hou op eet

Solank jy toegang het tot skoon water, kan 'n mens 40 dae sonder kos oorleef – maar jy hoef nou nie tot dié drastiese stap oor te gaan nie!

Vas het in onlangse jare gewild geword as deel van 'n dieetplan vir gesondheid en gewigsverlies.

Ná die brassery van Desember het 'n sinvolle vastydperk in Januarie dus 'n dubbele voordeel om geld te spaar én om jou liggaam dissipline aan te leer.

Wat jy beslis moet doen, is om kitskos en uiteet heeltemal uit te sny.



2. Maak huis skoon – en maak geld

Dis hoog tyd dat jy klere uitgooi wat nie meer in die mode is nie of nie meer pas nie, dat jy vrede maak dat jy nooit daardie trapmeul gaan gebruik nie, of dat jy ontslae raak van die rekenaarspeletjies of boeke wat jou kind ontgroei het. En wat van daardie broodmasjien of voedselverwerker in die kombuis of die kragboor in die motorhuis wat jy gedog het jy gaan gebruik? Pak als wat in 'n werkende toestand is in die kattebak en kyk wat jy daarvoor kan kry by 'n plek soos Cash Crusaders, of adverteer dit aanlyn by OLX of Gumtree.



3. Gaan op 'n subskripsie-vakansie

Is jy ingeteken op 'n tiental stromingsdienste, apps, tydskrifte, sportklubs en die gimnasium? Gaan sit en dink eerlik oor wat waarde tot jou lewe toevoeg en kanselleer die res van jou subskripsies. Sekere dienste, soos Netflix, kan gekanselleer word sonder dat jy 'n maand kennis hoef te gee en kan ewe maklik weer hervat word as jou geldsake herstel.



4. Werk van die huis af

As jou werkgewer dit toelaat, draai sy arm om jou van die huis af te laat werk. Só bring jy Januarie se petrolbesteding af.

Sonder die stresvolle tyd wat in die verkeer vermors word, sal jy boonop gesonder voel en minder geneig wees om geld te bestee aan kopseer- of kalmeerpille. Die koffiewinkel of kafee by die werk is ook nie daar om jou verder in die versoeking te lei nie.



5. Sny aan die water- en kragrekening

Besteding aan behuisingskoste, krag en water is teen meer as 30% die grootste enkele item waaraan huishoudings hul geld bestee, volgens Statistieke Suid-Afrika.

Begin dus by die groot goed. Hanteer Januarie as beurtkragmaand en Maand Zero: Spaar elektrisiteit en water deur korter te stort, die geiser en warmwaterpype met 'n paar lae koerantpapier te isoleer, kersligetes te hou en die wasmasjienwater op te vang om toilette mee te spoel. (Vra gerus wenke by 'n Kapenaar, hulle onthou nog hoe!)

Geniet die somerweer en braai meer om die stoof en mikrogolfoond se elektrisiteit te spaar. Vleis is duur, ja, maar jy hoef ook nie polonie te braai nie – wees kreatief met hoender, vark of groentesosaties.

Aas vir gratis braaihout op jou stappie deur die buurt deur uit te kyk vir boomtakke wat afgeval het of die afvalhout van 'n buurman wat aan't snoeie geraak het.



6. Pas jou vergoedingstruktuur aan

Dis dié keer straks al te laat, maar onthou dit vir volgende jaar. Sommige werkgewers begryp die Januarie-dilemma en bied die opsie aan werknemers om hul Desember-bonus te verdeel in twee – 'n bedrag vir Desember en 'n tweede bedrag êrens in Januarie om jou deur te dra tot betaaldag.

As jy die finansiële dissipline gehad het, kon jy dit natuurlik self doen deur bloot 'n deel van jou Desember-bonus doelbewus opsy te sit in 'n noodfonds vir die taai tye in Januarie.



7. Eet kool

Kool is 'n goedkoop groentesoort en tog een van die veelsydigstes. Dit hoef nie vervelig of onsmaaklik te wees as basis vir enige gereg nie. In die algemeen kan jy jou koslysie in Januarie aanpas en meer vars groente en vrugte insluit. Dit is goedkoper as verwerkte en verpakte kos en is boonop vrygestel van BTW. Dis gesonder en dwing jou om by die huis kos te maak, wat jou verder geld gaan spaar.



8. Bly weg van die winkelsentrums

Net om daar te gaan rondloop vir ontspanning plaas jou in die versoeking om geld uit te gee.



9. Skaal af op die koffie

Ons weet, dis 'n groot sprong van Mastertons se 100% arabica-bone na Koffiehuis se sigoreimengsel, maar dis Januarie. Kyk so daarna - sigorei gaan ook deur as 'n soort groente, so dis bykans 'n gesondheidsdrankie.

Ná 'n maand van Ricoffy of Frisco gaan jy in Februarie die koffie van varsgemaalde bone uit Burundi soveel meer waardeer en dis iets om na uit te sien.

10. Hou die data dop

Selfoondata is 'n groeiende item in 'n huishouding se begroting, veral met tieners en millenniërs in die omtrek. Jy het dalk 'n veselverbinding vir die huis en 'n dataplan ingesluit in jou selfoonkontrak, maar as jy jou oë uitvee, is dit uitgeput en moet jy dalk ekstra data aankoop.

Januarie is 'n goeie tyd om al jou kontrakte te hersien, onnodige Wi-Fi-kontrakte uit die era voor vesel te kanselleer of om op 'n digitale ontgiftingsprogram te gaan – doen net die nodige en rek jou data deur lig te gaan op die YouTube-video's.



11. Versekering en medies

Moenie kanselleer nie, maar hersien dit of kyk of daar ander verskaffers is wat jou 'n laer premie gaan gee as jou bestaande versekeraar.

Hou wel in gedagte dat jy jou korttermynversekering dalk moet aanpas as jy duur nuwe items vir Kersfees gekry het.

As die inbrekers dit kom haal, wil jy gedek wees.

Oorweeg die skuif na 'n goedkoper siekefonds of opsie, mits jou omstandighede en gesondheid dit regverdig. Dis dalk nou ook te laat vir vanjaar, hoewel sekere fondse jou wel toelaat om enige tyd van die jaar af te gradeer.



12. Ry minder

Teen meer as 16% is besteding aan vervoer die tweede grootste item in die gemiddelde Suid-Afrikaanse huishouding se begroting. Die petrolprys het pas gedaal, maar diesel is duurder. Jy kan steeds heelwat spaar as jy minder rondry op kort ritte, as jy jou manier van bestuur aanpas deur rustiger te versnel en die motor se enjinrevolusies laag te hou.

Benut ook ten volle die lojaliteitsprogramme wat vulstasies en kleinhandelaars deesdae saam aanbied wat jou punte laat opbou met elke brandstofaankoop: Discovery Vitality by BP en Shell; Clicks by Engen; Dis-Chem by Total; Standard Bank se UCount by Caltex; FNB se eBucks by Engen; en Absa by Sasol.



13. As dit dan regtig moet, leen by Februarie

Krisistye verg drastiese stappe. As jy gedissiplineerd genoeg is, probeer sekere uitgawes uitstel tot volgende maand sodat jy geld het om te oorleef tot betaaldag.

Doen die som in jou kop. Februarie is die kortste maand en die enkele dae minder beteken jy sal straks enigiets tussen R100 en R500 minder bestee aan sekere daaglikse items.

Gebruik dit dan in Februarie om

die uitgawes te dek wat nie noodsaaklik is om al vandeesmaand te betaal nie.

– Bykomende bronne: BusinessTech, Twitter, All4Women/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!