Januarie eis skadevergoeding van N$72 m.
Januarie eis skadevergoeding van N$72 m.

Januarie eis skadevergoeding van N$72 m.

Die president van die Namibiese Vervoer- en Taxi-unie dagvaar onder meer die staatshoof vir N$72 miljoen ná 'n voorval omdat hy nie 'n masker gedra het nie.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die president van die Namibiese Vervoer- en Taxi-unie (NTTU), mnr. Werner Januarie, eis N$72 miljoen nadat hy verlede jaar in hegtenis geneem toe hy na bewe­ring die Covid-19-regulasies verontagsaam het.

Hy beweer die polisie het hom aangerand en geteister en daarom eis hy nou miljoene.

Die respondente in die saak is mnr. Frans Kapofi, die voormalige minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit; die nasionale polisiehoof lt.genl.Sebastian Ndeitunga; die aanklaer-generaal me. Martha Himalwa; die prokureur-generaal mnr. Festus Mbandeka en president Hage Geingob.

Die saak is reeds in Januarie vanjaar aanhangig gemaak en die partye het Woensdagmiddag in die SADC-hofsaal vergader vir saakbestuur.

Dit volg nadat Januarie verlede jaar tydens Namibië se vlak 3 Covid-19-regulasies in hegtenis geneem is omdat hy nie sy masker gedra het nie.

Hy beweer 'n lid van die polisiemag en lede van die weermag het hom aangerand, geteister en gedreig.

Hy beweer die destydse regulasies het gestipuleer mense sal gewaarsku word as hulle nie die maatreëls nakom nie en sal eers in hegtenis geneem word indien hulle daarna steeds weier.

Volgens Januarie het die polisie hom nie gewaarsku of die geleentheid gegee om sy masker aan te sit voor hulle hom in hegtenis geneem en na die Wanaheda-polisiekantoor geneem het nie.

Hy het ook strafregtelike klagte teen hom waarvoor hy nog in die hof moet verskyn.



JANUARIE SE EISE

Vir die skending van sy menswaardigheid eis hy N$10 miljoen; N$10 miljoen vir die skending van sy menseregte en vryheid, 'n bykomende N$20 miljoen vir emosionele skade en sielkundige lyding wat hy moes verduur, N$5 miljoen vir kwaadwillige inhegtenisneming, N$5 miljoen vir wrede en vernederende behandeling en laastens N$7 miljoen vir agterstallige inkomste en ontneming van werk.

Die helfte van die genoemde bedrag kan as 'n skikking aanvaar word sonder dat die partye verhoor het, maar die eisbedrag sal opskuif na N$150 miljoen as die respondente 'n “absurde” verdediging lewer.

Die verdediging voer aan Januarie is nie op enige vergoeding geregtig nie en dat die versoek van die hand gewys moet word.

Die saak dien voor regter Esi Schimming-Chase.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer