Japan se Abe sal Pearl Harbor met Obama besoek

Vandag is die 75ste herdenking van die Japannese lugaanval op die Amerikaanse vlootbasis in Pearl Harbor.
Estelle de Bruyn
Japan se eerste minister, Shinzo Abe, sal vandeesmaand Pearl Harbor saam met die Amerikaanse president, Barack Obama, besoek om die “siele van die slagoffers te troos”, 75 jaar ná Japan se verras­singsaanval op Amerikaanse magte.

Abe, wat die eerste dienende Japannese eerste minister sal wees om die vlootbasis in Hawai te besoek, sê hy wil sy erns met die beëindiging van die afgryslikheid van oorlog demonstreer.

Obama het vanjaar die eerste dienende Amerikaanse president geword om die Japannese stad Hirosjima, wat in 1945 deur Amerika met ''n atoombom aangeval is, te besoek.

Abe sal Hawai op 26 en 27 Desember besoek en beplan om sy laaste, private ontmoeting met die uittredende­ Amerikaanse president tydens die besoek te hê.

Obama het noue bande met Hawai, die eilandstaat waar hy gebore is en waar sy gesin hul vakansies tydens sy Withuis-ampstermyn deurgebring het.

Japan se magte het Pearl Harbor met torpedo-vliegtuie, bomwerpers en vegvliegtuie op die oggend van 7 Desember 1941 aangeval en die Amerikaanse vloot, wat daar geanker was, gebombardeer in die hoop om Amerika se mag in die Stille Oseaan te neutraliseer.

Die aanval het daartoe gelei dat Amerika tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree het en Japan in Augustus 1945 verslaan het, dae nadat Amerika atoombomaanvalle op Hirosjima en Nagasaki uitgevoer het.

Die Withuis sê Abe se besoek wil die alliansie tussen die voormalige oorlogsvyande beklemtoon.

“Die twee leiers se besoek sal die kollig plaas op die mag van versoening­ wat voormalige teenstanders in die beste van bondgenote verander het, verenig deur gemeenskaplike belange en gedeelde waardes,” lui ''n verklaring­ van die Withuis.

Abe het verlede jaar die Amerikaanse kongres toegespreek en “diepe berou” oor Japan se rol in die Tweede Wêreldoorlog uitgespreek.

In Hirosjima het Obama sy verbintenis­ tot die nastreef van ''n wêreld sonder kernwapens ­herbevestig, maar enige regstreekse woorde van berou of verskoning vir die kernaanvalle op Japan vermy.

– Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!