Japan verwerp gerug dat Spele gedoem is
Japan verwerp gerug dat Spele gedoem is

Japan verwerp gerug dat Spele gedoem is

Olimpiese Spele
Japan het Vrydag voet by stuk gehou dat die Olimpiese Spele later vanjaar sal voortgaan en het ’n berig in ’n prominente Britse publikasie ontken dat owerhede in dié land ’n kansellasie van dié skouspel ernstig oorweeg.
Desnieteenstaande sal dié waarborg min doen om toenemende kommer in Japan te verlig oor die risiko’s daaraan verbonde om só ’n groot sportbyeenkoms te midde van die Covid-19-pandemie aan te bied.
’n Regeringswoordvoerder het Vrydag gesê “daar steek geen waarheid” in ’n berig van The Times dat die regering vertroulik reeds besluit het dat die Spele gekanselleer sal moet word nie.
The Times het ’n anonieme bron in die regerende koalisie in Japan aangehaal, wat gesê het dat die regering se fokus nou daarop is om Tokio se status as gasheerstad vir die 2032-Spele vas te knoop.
Die 2024-Spele is reeds aan Parys toegeken en 2028 s’n aan Los Angeles.
Yuriko Koike, goewerneur van Tokio, het die boodskap uit regeringskringe beaam dat daar nog geen sprake was van ’n kansellasie van die Spele of om dit met nóg ’n jaar uit te stel nie (dit was oorspronklik veronderstel om in 2020 plaas te vind). Koike het trouens gesê daar behoort protes aangeteken te word teen The Times se berig.
Tokio se reëlingskomitee het dieselfde deuntjie gesing en gesê hy en sy “vennote”, insluitend die regering en die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), is ten volle daarop gefokus om die Spele aan te bied soos dit geskeduleer is.
“Dit is baie teleurstellend om te sien The Times het ’n poniekoerant-berig met ’n onbetroubare bron geskryf,” het ’n lid van die reëlingskomitee aan Reuters gesê.
Die Olimpiese komitees van verskeie lande, waaronder Suid-Afrika, Amerika en Australië, het reeds bevestig dat hulle volstoom voortgaan met hul planne en voorbereiding vir vanjaar se Spele.
“Ongelukkig sal ongeloofwaardige gerugte soos dié onnodige angs en onsekerheid onder atlete veroorsaak,” het Matt Carroll, uitvoerende hoof van Australië se Olimpiese komitee aan verslaggewers in Sydney gesê.
“Die Tokio-Spele sal plaasvind. Die vlam sal op 23 Julie 2021 aangesteek word,” sê Carroll.
Amerika en Kanada se Olimpiese komitees het albei op Twitter geskryf dat hulle nog geen inligting ontvang het wat hoegenaamd daarop dui dat die Spele gekanselleer sal moet word nie.
Thomas Bach, die IOK se grootbaas, het ook vandeesweek gesê daar is “geen Plan B” nie en dat die Spele aangebied sal word.
Hoewel Japan nie so erg deur die pandemie getref is as baie ander lande nie, loop hy deur onder ’n derde vlaag van die virus en was daar vir elk van die afgelope nege dae minstens 1 000 nuwe infeksies in Tokio. Byna 5 000 mense is al in Japan aan Covid-19 dood.
Daar word egter gehoop dat wêreldwye entstof-programme om Covid-19 teen te werk dit moontlik sal maak om ’n veilige Spele aan te bied.
– Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!