Japannese keiser bestyg vandag die troon
Keiser Naruhito se uitdaging is om die eise van moderne Japan in balans met die tradisies van die wêreld se oudste monargie te bring.
Ronelle Rademeyer - Terwyl vanjaar se Rugbywêreldbeker sy einde nader met die halfeindstryde wat die naweek gespeel word, is die wêreld vandag ook getuie tot ’n ander geskiedkundige gebeurtenis in die Land van die Opkomende Son.
Keiser Naruhito (59) bestyg vandag amptelik die Krisanttroon in die keiserlike paleis in Tokio. Hy het op 1 Mei vanjaar Japan se 126ste keiser geword toe sy sieklike vader, keiser Akihito, geabdikeer het.
Dit is die eerste keer in die geskiedenis van Japan dat ’n heersende keiser abdikeer. Die verswakte 85-jarige stry al lank teen prostaatkanker en het hartprobleme.
Republikein het verlede Dinsdag tydens ’n begeleide toer van die reuselandgoed waar die keiserlike paleis geleë is, gesien hoe markiestente opgerig word en stoele en ander benodigdhede afgelaai word ter voorbereiding van die feestelike geleentheid.
Die keiserlike paleis is geleë waar die Edo-kasteel eens was. Dié reuseterrein in die hartjie van Tokio en net ’n klipgooi van Tokio-stasie af, is omring is met massiewe klipmure. Voor die klipmure is ’n watergrag waarop wit swane grasieus swem.
Edo-kasteel was vroeër die setel van die Tokugawa-shogoen wat Japan van 1603 tot 1867 geregeer het.
In 1868 is die shogoenaat omvergewerp, en die land se hoofstad en die keiserlike paleis het van Kioto na Tokio verskuif. In 1888 is ’n nuwe keiserlike paleis gebou en dit is hier waar vandag se verrigtinge plaasvind. Hoewel die paleis tydens die Tweede Wêreldoorlog verwoes is, is dit daarná in dieselfde styl herbou.
UITDAGINGS
Die nuusagentskap Associated Press (AP) berig keiser Naruhito se uitdaging is om die eise van moderne Japan in balans met die tradisies van die wêreld se oudste monargie te bring. Daarmee saam moet hy ook sy familie teen die rigiede reëls van die paleis beskerm.
Volgens Japan se grondwet is die keiser die “simbool van die staat en die eenheid van die volk”, en dien hy as seremoniële hoof in die grondwetlike monargie.
Die bestyging van die troon is die hoogtepunt van die reeks seremonies wat in Mei begin het en tot in die lente vroeg aanstaande jaar sal duur.
Dié ritueel dateer uit die sewende eeu.
Volgens geskiedskrywers word seremoniële troonbestygings in die moderne tyd as ’n manier gesien waarop regerings openbare trots wek en ’n land se kulturele tradisies laat voortleef, berig AP.
Die banket in Westerse styl en die prosessie daarmee saam “is bygevoeg om nasionale aansien en invloed te versterk”, sê die historikus en kenner van die Japannese koningshuis, Eiichi Miyashiro.
Ondanks die tyd, koste en moeite wat die reëlings verg, sal die seremonie ’n skrale 30 minute duur. Die hoogtepunt is die keiser se verklaring van voorneme voor sowat 2 000 hooggeplaaste gaste, wat ander koninklikes soos Prins Charles van Brittanje insluit.
Keiser Naruhito en sy vrou, keiserin Masako, is hartlik en warm deur die Japannese publiek ontvang toe hy in Mei by sy pa oorgeneem het. Hulle het die Japannese gemeenskap beïndruk toe hulle tydens die koninklike banket sonder ’n tolk met Amerika se pres. Donald Trump en sy vrou, Melania, gesels het.
Hy het onderneem om sy pa se verbintenis tot vreedsaamheid en empatie met diegene wat swaarkry, na te volg.
Naruhito het ‘n graad in geskiedenis aan ‘n universiteit in Tokio verwerf, waarná hy aan Oxford-universiteit in Engeland geskiedkundige watervervoer verder bestudeer het. Hy speel goed viool.
Masako het op haar beurt aan die Harvard Universiteit in Amerika studeer en is ’n voormalige diplomaat. Hul enigste kind, prinses Aiko, is 17 jaar oud.
Japan se monargie is ’n patriargale ryk waar manlike oorheersing in al die formaliteite neerslag vind.
Daarom is Naruhito se vrou en dogter nie toegelaat om teenwoordig te wees toe hy op 1 Mei seremonieel die kroon by sy pa oorgeneem het nie.
Japan se nuwe heerser wil volgens ingeligtes glo die Britte se voorbeeld volg deur die koninklikes te moderniseer, en moontlik ook meer mag aan vroue te gee.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie