JD en Chris storm saam teen Argentyne
JD en Chris storm saam teen Argentyne

JD en Chris storm saam teen Argentyne

Superrugby
Stephen Nell - Die Westelike Provinsie se Curriebeker-slotpaar van Chris van Zyl en JD Schickerling gaan waarskynlik ook vir die Stormers in Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Jaguares op Nuweland aantree.

Aanvanklik was daar hoop dat die Springbok Pieter-Steph du Toit betyds van ’n rugbesering sou herstel, maar hy is glo nou saam met die Kapenaars se ander Bok-slot, Eben Etzebeth, op die krukkelys.

Van Zyl en Schickerling was ’n goeie kombinasie in die Westelike Provinsie se triomfantelike Curriebeker-veldtog verlede jaar, maar die Superreeks is natuurlik ’n perd van ’n ander kleur en nie een van dié twee was al gereeld in die Stormers se beginspan nie.

Schickerling meen wel hy pluk die vrugte van sy interaksie met Etzebeth en Du Toit.

“Dit was ’n baie goeie geleentheid om saam met Eben en Pieter-Steph te speel. Hulle het my ontwikkeling aangehelp en as ek nou die geleentheid kry om te speel, wil ek my stempel afdruk,” sê hy.

“Ek het ’n goeie Curriebeker-reeks agter my en dit bied ’n goeie grondslag vir my Superrugby-seisoen.”

Schickerling (22), wat aan die woord was voor gerugte dat Du Toit dalk buite aksie gaan wees, is aanvanklik beskou as die speler wat Etzebeth se skoene sou moes volstaan.

Hy sê egter hy sal ewe gemaklik as nr. 4- of nr. 5-slot kan speel.

“Alles hang af van waar die span my nodig het. Ek gee nie om nie. Die belangrike ding is net dat die span daarby sal baat,” sê Schickerling.

Soos in die CB-reeks is die verwagting dat Schickerling en Van Zyl die verantwoordelikhede sal deel wanneer dit by leiding in die lynstane kom.

Hulle het in die CB-reeks in daardie faset ook ’n goeie verstandhouding met die Bok-haker Bongi Mbonambi gehad.

“Chris roep die lynstane. Hy was die kaptein en het ook op meeste van ons bewegings besluit. My taak was om verdediging by die lynstane te bestuur.”

Die feit dat die Stormers se afrigter, Robbie Fleck, selfs sonder Etzebeth en Du Toit ’n slotpaar van Van Zyl en Schickerling se formaat in die veld kan stoot, beklemtoon die Kapenaars se diepte in terme van hul hemelbesems.

Dán is daar nog ’n paar puik jongelinge, insluitend die voormalige SA Skolekaptein Salmaan Moerat.

“Salmaan is ’n puik speler en iemand om dop te hou. Hy’s ’n klipharde en goeie nr. 4-slot. Hy is groot en baie taai. Ons diepte op slot is uitstekend,” sê Schickerling.

Daardie diepte behoort vir hom en Van Zyl ook aan te spoor, want manne soos Moerat en Eddie Zandberg sal in die komende seisoene ook in hul nekke begin blaas. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!